Die werklikheid is dat gelykheid baie vroue in die land steeds ontwyk, ten spyte van die Grondwet wat die bloudruk vir ’n samelewing daarstel waarin vroue en dogters nie slegs oor formele gelykheid beskik nie, maar ook oor wesenlike gelykheid.
Die Grondwet stel ’n wetgewende grondslag daar om hierdie kwesbaarheid teen te werk, maar dit blyk of dit vroue in stedelike omgewings is wat die meeste voordeel uit sodanige wetgewing trek. Wat die politiek betref beklee Suid-Afrika volgens die Economist die agste plek in die wêreld, met vroue wat 42% van parlementêre setels beklee. Vroue word ook goed verteenwoordig in staatsdepartemente, met sommige wat poste in belangrike ministeries, soos Verdediging, Arbeid, en Wetenskap en Tegnologie aangestel is. Hierdie politiese verteenwoordiging weerspieël egter nie die breër geslagsgelykheid in die land nie.
Statistieke dui daarop dat die getal meisies wat in primêre en sekondêre instellings ingeskryf word, gelykstaande is aan die getal seuns – met meer vroue wat in hoër onderriginstellings ingeskryf word. Hierdie syfers word egter nie in die professionele sfeer weerspieël nie. Volgens dieProkureursorde van Suid-Afrika, byvoorbeeld, is daar 14 322 praktiserende manlike prokureurs, terwyl slegs 7931 vroulike prokureurs praktiseer. Slegs 10% tot 15% van die studente wat aan Suid-Afrikaanse universiteite gradueer, is vroue.
Syfers wat verband hou met vroue se regte op toegang tot gesondheidsorg skets ’n somber prentjie. Terwyl vordering gemaak is ten opsigte van die getal vroue wat gratis antiretrovirale behandeling ontvang, skiet ander aspekte van vroue se regte op gesondheidsorg tekort:
- Volgens die verslag van die Verenigde Nasies se Ontwikkelingsprogram oor sy Millennium-ontwikkelingsdoelwitte vir 2013, getiteld Assessing Progress in Africa Toward the Millennium Development Goals, neem moedersterftes toe weens MIV/Vigs.
- Amnesty International se jaarverslag vir 2013 wys daarop dat hoë vlakke van MIV-infeksies onder swanger vroue veral kommerwekkend is.
- ’n Verslag van Augustus 2014 wat deur die Departement van Gesondheid gesteun word, wys daarop dat – tussen 2008 en 2010 – 40.5% van die 4 867 sterftes onder vroue gedurende swangerskap, of binne 42 dae nadat geboorte geskenk is, aan infeksies toegeskryf is wat nie met swangerskap verband hou nie, spesifiek MIV. Oponthoud betreffende toegang tot voorgeboortesorg en antiretrovirale behandeling is ook bydraende faktore.
- Vroue het ’n groter risiko om met MIV besmet te word, met gemiddeld drie vroue teenoor elke twee mans wat daarmee besmet word.
- Die Nasionale Komitee oor die Vertroulike Navrae na Moedersterftes (NCCEMD) het berig oor groot sterfgetalle weens onveilige aborsies, ten spyte van die Wet op Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap se doelwit om veilige omstandighede te bevorder waaronder die beëindiging van swangerskappe uitgevoer moet word.
Met onaanvaarbare hoë vlakke van geweld teen vroue, is lesbiërs, biseksuele, gay- en transgender-vroue uit arm gemeenskappe – veral swart lesbiërs – op ongelyke wyse aan die risiko van geweld blootgestel. Die verskynsel van “regstellende verkragting” is ook gedokumenteer, met navorsing van die Forum vir die Bemagtiging van Vroue (FEW) wat daarop dui dat swart lesbiërs, veral in townships, toenemend teikens vir verkragting is. Van die swart vroue waarmee onderhoude gevoer is, is 41% verkrag, 9% het poging tot verkragting ervaar, 37% is aangerand en 17% is verbaal aangerand.
Volgens die nie-regeringsorganisasie, Catalyst, se verslag wat in Desember 2013 bekendgestel is, word 17.1% van posisies in die raadsaal deur vroue beklee. Wetgewing soos die Wet op Billike Indiensneming moedig ’n geslag-sensitiewe benadering aan wat indiensnemingsaangeleenthede betref ten einde gelyke regte tussen vrouens en mans daar te stel. Daar is ook verskeie beleide wat aan vroue toegang tot verskeie posisies in die arbeidsmark verleen. Hierdie posisies is egter slegs beskikbaar aan vroue wat toegang het tot vaardigheidsontwikkeling en -opleiding, wat die mate waarin vroue toegang tot sodanige posisies kan verkry, beperk. Die indiensneming van vroue geskied egter steeds hoofsaaklik in die tradisionele vroulike beroepe of in die huishoudelike of boerderysektore. Hulle is gekonsentreer in posisies met lae vergoeding en ’n hoë omsetkoers. Volgens die SA Instituut vir Rasseverhoudings se South Africa Survey vir 2013, is die deelnamekoers betreffende die arbeidsmark 49.2% vir vroue, teenoor 61.7% vir mans.
Navorsing deur die Gemeenskapsagentskap vir Maatskaplike Ondersoek oor die aard van vroue se grondregte in drie landelike, voormalige tuislandgebiede, is onthullend. Alhoewel dit nie bepalend is nie weens die gebrek aan ’n grondregister vir gemeenskaplike grond, dui hul navorsing daarop dat vroue ’n groter mate van toegang tot grond het as wat verwag is, met inagneming van die standaard literatuur oor gewoontereg en -praktyke. Die navorsing sluit egter af met ’n waarskuwing dat terwyl daar wel vordering gemaak is, daar steeds baie uitdagings is wat vroue in dié gebiede die hoof moet bied. Volgens Statistiek Suid-Afrika se General Household Survey vir 2011 betreffende verblyfreg, word 55.5% van huise wat ten volle betaal is deur mans besit, teenoor 44.5% wat deur vroue besit word. Met betrekking tot huise wat nog nie afbetaal is nie, besit mans 81% van sodanige eiendomme, teenoor slegs 19% wat deur vroue besit word.
Met die opsomming van die nasie se vordering ten opsigte van die behaling van pertinente vroueregte, wil dit blyk dat die behaling van gelykheid nog tekort skiet. Aangesien geslagsgelykheid openbare sowel as private aspekte het, is dit makliker om die openbare aspek van geslagsgelykheid te meet, aangesien dit weerspieël word deur wette en beleide wat ten doel het om geslagsgelykheid te bevorder. Deur hierdie skaal te gebruik, wil dit blyk of Suid-Afrika hoogs vooruitstrewend is. Statistieke oor geweld teen vroue en kulturele praktyke wat by tye skadelik is, dui daarop dat die toepassing van sodanige wetgewing steeds problematies is. Opmerkings soos dié wat onlangs deur die LUR vir Gesondheid in KwaZulu-Natal gemaak is oor die gedwonge gebruik van voorbehoedmiddels deur vroue wat beurse ontvang het om in Indië te studeer, weerspieël ’n baie konserwatiewe benadering. Dit is nie genoeg dat daar wette en beleide is wat ongelykheid wat geslag betref, onwettig verklaar nie. Hierdie wette en beleide moet nagekom word in die private sowel as die openbare sfere. Groter bewusmaking moet geskep word oor die feit dat vroueregte ook menseregte is.
Phephelaphi Dube: Regsbeampte, Sentrum vir Grondwetlike Regte