Hierdie kritiek is ongegrond – sowel in die konteks van die Grondwet as ingevolge die Wet op die Openbare Beskermer, Wet 23 van 1994 (die Wet).

Ingevolge artikel 1 van die Grondwet vereis ons grondwetlike demokrasie ’n regering wat verantwoordingspligtig, responsief en oop is. Vandaar die belangrikheid van die Openbare Beskermer as ’n onafhanklike ombud met die opdrag “om ondersoek in te stel na enige optrede in staatsake, of in die openbare administrasie in enige regeringsfeer, wat, na beweer of vermoed word, onbehoorlik is of enige onbehoorlikheid of benadeling tot gevolg het“. Afgesien van ondersoeke na wanadministrasie en misbruik van mag ingevolge artikel 182 het die Openbare Beskermer ook die bevoegdheid, soos by wetgewing gereguleer, om “oor dié optrede verslag te doen” soos sy goedvind en om na haar uitsluitlike goedvinde “gepaste regstellende stappe te doen“.

Om die Openbare Beskermer in staat te stel om grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika te versterk en te steun, bepaal die Grondwet dat hierdie instelling (soos die ander instellings wat ingevolge Hoofstuk 9 ingestel is) onafhanklik is en slegs aan die Grondwet en die reg onderworpe is. Die Openbare Beskermer is nie deel van die Uitvoerende Gesag nie en doen nie aan die Kabinet of enige staatsdepartement verslag nie maar is teenoor die Nasionale Vergadering verantwoordingspligtig en moet ten minste een keer per jaar aan die Vergadering verslag doen oor haar bedrywighede en die verrigting van haar funksies. Die Openbare Beskermer moet onpartydig wees en moet haar bevoegdhede en funksies sonder vrees, begunstiging of vooroordeel uitoefen en verrig. Voorts vereis die Grondwet van alle staatsorgane om die Openbare Beskermer by te staan en te beskerm ten einde die onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid van hierdie instelling te verseker. Gevolglik mag geen staatsorgaan of enige ander persoon op die funksionering van die Openbare Beskermer inbreuk maak nie.

Twee kwessies kom na vore na aanleiding van die onlangse kritiek op die Openbare Beskermer: die Openbare Beskermer se verhouding met die Parlement, en die wyse waarop die Uitvoerende Gesag en ander individue met die Openbare Beskermer omgaan.

Die Openbare Beskermer doen om twee verskillende redes aan die Parlement verslag. Eerstens, ingevolge artikel 181(5) van die Grondwet, gelees met artikel 8(2)(a) van die Wet, moet die Openbare Beskermer minstens een keer per jaar aan die Parlement verslag doen “oor hul bedrywighede en die verrigting van hul funksies“. Dit is ’n algemene verslagdoenvereiste in ooreenstemming met die Parlement se toesigfunksie met betrekking tot die Openbare Beskermer – net soos staatsorgane hulle jaarverslae aan die Parlement moet voorlê. Tweedens, ingevolge artikel 182(1) van die Grondwet, gelees met artikel 8(2)(b) van die Wet, moet die Openbare Beskermer te eniger tyd ’n verslag aan die Nasionale Vergadering voorlê oor die bevindinge van ’n spesifieke ondersoek indien sy dit nodig of in die openbare belang ag; indien dit dringend die aandag van, of ’n ingryping deur, die Parlement vereis; of indien sy aldus versoek word deur die Speaker van die Nasionale Vergadering of die Voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies.

Anders as die jaarlikse verslagdoenverantwoordelikheid het die Openbare Beskermer ’n keuse om haar bevindinge en aanbevelings oor enige ondersoek aan die Parlement voor te lê al dan nie (tensy, natuurlik, sy deur die Speaker of Voorsitter versoek word om so ’n verslag ter tafel te lê). Sy kan byvoorbeeld, ingevolge artikel 6(4)(c) van die Wet, besluit om die bevindinge en aanbevelings in sekere omstandighede onder die aandag te bring van die Nasionale Vervolgingsgesag (die NVG) of enige ander openbare liggaam of owerheid wat deur die optrede geraak word. Indien sy egter besluit om sekere bevindinge en aanbevelings oor uitvoerende optrede aan die Nasionale Vergadering te rapporteer gebaseer op enige van voornoemde gronde, het die Nasionale Vergadering ingevolge artikel 42(3) van die Grondwet ’n plig om sodanige optrede van die uitvoerende gesag na te gaan en toesig daaroor uit te oefen. Indien die Nasionale Vergadering, op grond van die feite voor hom, versuim om rasioneel op te tree of om hoegenaamd op te tree, sal sy optrede deur ’n hof hersien kan word en sal dit heel waarskynlik nie die grondwetlike toets deurstaan nie. Nietemin is die Nasionale Vergadering nie die finale arbiter van so ’n verslag nie – net ’n hof kan so ’n verslag hersien wat grondwetlikheid of behoorlike prosedure betref. Dus, selfs al sou die Parlement besluit om nie na aanleiding van die bevindinge en aanbevelings op te tree nie, kan die Openbare Beskermer dit nogtans aan die NVG of die geaffekteerde organisasie rapporteer (wat nogmaals die belangrikheid van die onafhanklikheid van die NVG self beklemtoon). Dit is belangrik om daarop te let dat daar nie ’n sub judice-reël vir die Parlement bestaan nie, en al het die Openbare Beskermer ’n verslag aan die Parlement voorgelê, is daar niks wat haar verhinder om na haar uitsluitlike goedvinde ook op ander remediërende stappe te besluit nie, insluitende “op enige ander wyse wat onder die omstandighede geskik mag wees“, of om”‘n bevinding, standpunt of aanbeveling met betrekking tot ‘n aangeleentheid deur hom of haar ondersoek, aan enige persoon bekend [te] maak“.

In die lig van die Nasionale Vergadering se geskiedenis van behoorlike oorweging van en optrede na aanleiding van verslae van Hoofstuk 9-instellings in die algemeen, kan die Openbare Beskermer nouliks verkwalik word dat sy op parallelle prosesse besluit het, insluitende openbare kommunikasie, wat daarop gemik is om die een of ander vorm van besluit oor haar bevindinge en aanbevelings te kry.

Betreffende die Uitvoerende Gesag en ander organisasies en individue se betrokkenheid by die Openbare Beskermer kan ’n mens verskoon word as jy dink daar is mense wat dalk nie die Grondwet gelees het nie. Die Grondwet vereis van alle staatsorgane om die Openbare Beskermer by te staan en te beskerm, maar ook om nie op die funksionering van hierdie instelling inbreuk te maak nie. Afgesien van staatsorgane mag geen ander persoon, insluitende verteenwoordigers van politieke partye, op die funksionering van die Openbare Beskermer inbreuk maak nie. Dit is om nie net die onafhanklikheid en onpartydigheid van die Openbare Beskermer te verseker nie, maar ook haar waardigheid en doeltreffendheid. Daar word van die Kabinet en Adjunkministers, maar ook staatsdepartemente, ander staatsorgane en alle regeringsamptenare, verwag om nie ’n belemmering vir die Openbare Beskermer te wees nie. Hulle is trouens veronderstel om haar daadwerklik te ondersteun en by te staan in die uitvoering van haar take. Hulle is boonop verplig om die Openbare Beskermer te verdedig en te beskerm teen beledigings, inmenging en intimidasie – enigiets wat haar waardigheid en geloofwaardigheid en gevolglik die doeltreffendheid van haar kantoor benadeel. Ongelukkig is dit nie die geval nie, soos wat gereeld en deeglik in die media berig word.

Politieke partye en ander individue het dalk nie ’n regsplig om die Openbare Beskermer by te staan en te beskerm nie, maar net soos staatsorgane word hulle verbied om op die verrigting van haar werk inbreuk te maak. Stellings en opmerkings wat die waardigheid of integriteit van die Openbare Beskermer in die gedrang bring, sal die funksionering van die Openbare Beskermer en van haar kantoor beslis ondermyn – en kan baie beslis op inbreuk neerkom. Artikel 9 van die Wet erken die gevaar van sulke stellings. Dit bepaal heel gepas: “Geen persoon mag die Openbare Beskermer of ’n Adjunk Openbare Beskermer beledig nie” (haar dus oneerbiedig of smadelik behandel), of “iets doen nie wat, indien bedoelde ondersoek verrigtinge in ’n geregshof was, minagting van die hof sou uitgemaak het“. Gevolglik bepaal artikel 11 van die Wet dat enige persoon wat hierdie bepaling oortree of wat inbreuk maak op die funksionering van die kantoor van die Openbare Beskermer, skuldig is aan ’n strafregtelike misdryf wat strafbaar is met ’n boete van hoogstens R40 000 of met gevangenisstraf vir ’n tydperk van hoogstens 12 maande, of albei. Soos met die Grondwet, het seker mense dalk ook nie die Wet gelees nie.

Die Openbare Beskermer is die publiek se ondersoeker – ’n bykomende veiligheidsnet teen die misbruik van mag deur diegene wat mag uitoefen namens die mense. Die Openbare Beskermer kan makliker bereik word as die howe, hoewel haar optrede en bevindinge aan geregtelike hersiening deur die howe onderhewig is. Sy is verantwoordingspligtig teenoor die Parlement en word beskerm teen inmenging deur die Uitvoerende Gesag, wat in beginsel die teiken van haar ondersoeke is. Die Openbare Beskermer maak in groot mate op die Nasionale Vergadering staat om op te tree, en rasioneel op te tree, na aanleiding van haar bevindings en aanbevelings. By versuim hiervan moet sowel ’n geregshof as die hof van openbare mening die Parlement beoordeel vir sy versuim om op te tree in belang van diegene wat hulle verteenwoordig. Die Openbare Beskermer moet gerespekteer en beskerm word – deur sowel die Parlement as die Uitvoerende Gesag. Helaas, die ondermyning van die integriteit en funksionering van hierdie instelling sal waarskynlik dieselfde doen aan ons grondwetlike demokrasie.

Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte 

[Foto: “http://foter.com”>Foter</a> / <a href=”http://creativecommons.org/licenses/by-nd/2.0/”

Leave a Reply

Your email address will not be published.