Die reg om vry te wees van geweld word in die Suid-Afrikaanse Grondwet verskans. Artikel 9 – die gelykheidsklousule – verbied geslagsgebaseerde diskriminasie – presies wat die 16 dae-veldtog ten doel het om aan te pak – geweld teen ‘n groep persone weens hul geslag. Artikel 12 maak voorts voorsiening vir die vryheid en sekuriteit van die persoon. Die Grondwet word gesteun ten opsigte van sy onderneming om individue – en nie net vroue nie – te beskerm teen die vrees vir leed wat aangedoen word deur verskeie wetgewing te aanvaar. Die Wet op Gesinsgewled en die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) is twee voorbeelde hiervan.
Volgens een van die algemeenste internasionale statistieke wat verband hou met geslagsgebaseerde geweld is dat een in drie vroue wêreldwyd reeds fisieke geweld in een of ander vorm ervaar het, of nog sal ervaar. Dit beteken dat uit elke drie vroue wat jy ken, ten minste een van hulle die slagoffer van geslagsgebaseerde geweld is. Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het bevind dat slagoffers ook dikwels die stigma dat hulle op een of ander manier verantwoordelik is vir die leed wat hulle aangedoen is, die hoof moet bied.
In ‘n land wat reeds gebuk gaan onder hoë misdaadsyfers wat dui op ‘n kultuur van geweld as die norm, is dit nie verbasend dat die voorkoms van gesinsgeweld so prominent is nie. Die jaarlikse verslag van die SAPD vir 2014/2015 skets ‘n donker prentjie vir slagoffers van geslagsgebaseerde geweld. Die grootste misdaadkategorie wat oor die afgelope jaar toegeneem het is seksuele oortredings as gevolg van optrede deur die polisie. Dit sluit oortredings soos prostitusie en die besit van pornografie in. In die tydperk 2013/2014 is 4 720 voorvalle van seksuele oortredings wat deur polisiebeamptes geïdentifiseer is, aangemeld. In die tydperk 2014/2015 het dit gestyg van 34.3% na 6 340 sake. Die totale aantal seksuele oortredings hierdie jaar was 53 617, af van 56 680 verlede jaar. Dit kan toegeskryf word aan slagoffers se huiwering om polisie toe te gaan. Die vrees vir verdere mishandeling deur hospitaalpersoneel en polisiebeamptes ontmoedig mense om klagtes in te dien. Volgens ‘n studie wat deur die ISS onderneem is, getiteld, ‘Domestic Violence in South Africa’, sal slaogoffers lank sukkel met ‘n regstelsel wat die proses vir lang tydperke uitrek. Dit, asook die finansiële afhanklikheid van die slagoffer van die oortreder, lei dikwels tot klagtes wat teruggetrek word. Hierdie bevindings is in 2012 bevestig tydens ‘n inligtingsessie deur die Departement van Justisie oor die inwerkingstelling van die Wet op Gesinsgeweld, waartydens die Portefeuljekomitee oor Vroue in die Presidensie ingelig is dat 54% van slagoffers die klagtes teruggetrek het.
Die bogenoemde dui op die behoefte daaraan om die polisiediens te sensitiseer en op te lei sodat misdade van hierdie aard die hoof gebied sal word. Dit is kommerwekkend dat só hoë getal seksuele misdade deur polisiebeamptes gepleeg word, wie se mandaat dit is om die mense te beskerm. Daar word dikwels gesê dat baie geslagsgebaseerde misdade nie aangemeld word nie weens die bestaan van ‘n intieme verhouding tussen die oortreder en die slagoffer. ‘n Reputasie soos die een wat nou aan ons polisiediens gekoppel word sal slegs die slagoffers se huiwering om misdade aan te meld, vererger.
Dit sou nalatig wees om hierdie veldtog slegs tot vroue en kinders te beperk. Die uitbreiding van hierdie veldtog na ander kwesbare groepe soos die ‘Lesbian, Gay, Bisexual, Transgender, Queer, and Intersex (LGBTQI)’-gemeenskap, wat ook slagoffers is van geweld gebaseer op die persepsie en verstandhouding van die term ‘geslag’ en seksualiteit. Dit sal ook ‘n fout wees om aan te neem dat fisiese mishandeling oor die algemeen na verkragting en aanranding verwys. Hierdie geweld kom in verskillende vorms voor – van verbale mishandeling tot vroulike genitale verminking, alhoewel laasgenoemde nie wyd in Suid-Afrika aangemeld word nie.
Dit alles vereis ‘n holistiese benadering ten einde die slagoffers sowel as die oortreders van sodanige geweld te benader. Alkoholisme en dwelmmisbruik is dikwels van die faktore wat bydra tot geweld teen kwesbare groepe. Die versuim om ‘n kultuur van menseregte in staatsamptenare te kweek en om kinders nie korrek oor hul rolle in die samelewing te onderrig nie, lei na bewering tot die slegte behandeling van ander.
Alhoewel daar geen twyfel is dat daar opregte betrokkenheid is vanuit verskeie oorde soos die Departement vir Vroue in die Presidensie en nie-regeringsorganiasies nie, is hierdie bewegings nog nie werklik sigbaar vir diegene wat dit die meeste nodig het nie.
Dit is egter nie alles net slegte nuus nie. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se Beheersentrum vir Geslagsgebaseerde geweld is ‘n 24 uur-inbelsentrum wat in 2014 gestig is om ondersteuning en berading te bied aan slagoffers van geslagsgebaseerde geweld. Die Sentrum is sedertdien plaaslik en internasionaal erken vir sy innoverende benadering en uitmuntendheid om geslagsgebaseerde geweld te bekamp. Dit het verskeie internasionale toekennings ontvang, soos die Toekenning vir Innovasie in die groep vir die Bestuur van Inbelsentrums (CCMG) vir 2015, die Verander Lewens-kategorie tydens die Africom-toekennings vir 2015 en die goue medalje tydens Global Best se Beste Inbelsentrum-toekennings wat onlangs in die Verenigde State gehou is.
Alhoewel bewusmaking toeneem, gedeeltelik danksy aan veldtogte soos ‘16 Dae van Aktivisme teen Geweld teen Vroue’, moet meer nog gedoen word. Dit is tyd om ‘n sterker houding teen geweld teen kwesbare groepe in te neem – strafmaatreëls ingesluit – om te beklemtoon dat geweld teen kwesbare groepe glad nie geduld sal word nie, ten einde ‘n gelyke samelewing gebaseer op menswaardigheid te verwesenlik, soos deur die Grondwet in die vooruitsig gestel is.
Deur Rebecca Sibanda: Intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte