Die beweging staan bekend as “16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld”. Regerings, internasionale organisasies, nie-regeringsorganisasies (NROs), burgerregte organisasies, organisasies wat op godsdiens gebaseer is en individue werk saam gedurende hierdie tydperk om bewusmaking te skep oor geslagsgebaseerde geweld in hul gemeenskappe.
25 November is deur die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering aangewys as Wêrelddag vir die Beëindiging van Geweld teen Vroue, omdat dit die herdenking is van die moord op drie van die Mirabal-susters, wat politieke aktiviste in die Dominikaanse Republiek was. Die veldtog kom op 10 Desember tot ’n einde, wat ook Internasionale Menseregtedag is. Wêreldvigsdag op 1 Desember val ook binne die tydperk van die veldtog, wat gepas is aangesien vroue en kinders van die grootste slagoffers van die Vigs-pandemie is.
Volgens die VN is geweld teen vroue een van die mees wydverspreide skendings van menseregte. Een in drie vroue en dogters het op een of ander stadium in hul lewens huishoudelike geweld ervaar. Sommige nasionale studies wys daarop dat tot ongeveer 70% vroue geslagsgebaseerde geweld ervaar het. Statistieke dui ook daarop dat minder as 4% van vroue in sodanige situasies die geweld aangemeld het weens die persoonlike aard van die verhouding tussen hulle en die oortreder.
Die VN is betrokke by die mobilisering vir hierdie veldtog deur middel van die UNiTE to End Violence Against Women-beweging. Die beweging is in 2008 gestig om bewusmaking te skep en om die politieke wil te verhoog om alle vorms van geweld teen vroue te beëindig. Die hutsteken (#-teken) op sosiale media, #orangeurhood, verwys na die amptelike kleur van die veldtog en moedig internasionale deelname aan.
Die kwessie van geweld teen vroue is so belangrik dat daar verskeie platforms is waar dit bespreek wo. Die VN Vroue se Beijing-verklaring en platform vir optrede, nou in sy 20ste jaar (2014), het geweld teen vroue uitgewys as ’n belangrike gebied wat internasionale aandag noodsaak. Die Platform bespreek maatreëls om geweld teen vroue te voorkom en beëindig. Dit identifiseer ook die behoefte om beide die oorsake en doeltreffendheid van voorkomende maatreëls te bestudeer. Die beëindiging van mensehandel is ook geïdentifiseer as ’n gebied waaraan aandag geskenk moet word.
Die doelwitte van hierdie inisiatief sluit in:
- Die verskerping van die veiligheid van vroue;
- Om wêreldwye solidariteit tussen vroue ten toon te stel;
- Die beklemtoning van die aard van die voorkoms van geweld teen vroue;
- Die bevordering van leierskap onder vroue;
- Om druk op regerings uit te oefen; en
- Die versterking van plaaslike pogings om geweld teen vroue aan te pak.
Suid-Afrika en Geweld teen Vroue
Die Suid-Afrikaanse Grondwet maak voorsiening vir die beskerming van vroue. Artikel 9 – die klousule oor gelykheid – doen ’n beroep om die reg op gelyke beskerming en voordeel van die reg, en verbied onregverdige diskriminasie op grond van ras. Artikel 12 maak voorsiening vir vryheid en sekuriteit van die persoon, waarop almal, met inbegrip van vroue, geregtig is. Daarbenewens stel hoofstuk 9 van die Grondwet beide die SA Menseregtekommissie en die Kommissie vir Geslagsgelykheid daar. Beide Kommissies het ’n grondwetlike mandaat om respek vir menseregte te bevorder. Laasgenoemde Kommissie het egter ’n spesifieke mandaat om respek vir geslagsgelykheid te bevorder en om geslagsgelykheid te beskerm, ontwikkel en behaal kragtens artikel 187(1) van die Grondwet. Artikel 187(2) ken weer sekere magte aan die Kommissie toe, met inbegrip van die magte om aangeleenthede betreffende geslagsgelykheid te monitor, te ondersoek, na te vors, opvoeding daaroor te voorsien, steun daarvoor te werf, daaroor te adviseer en verslag daaroor te doen.
Geweld teen vroue en dogters, of dit nou in die openbare of private sfeer is, is ’n skending van die regte van beide vroue en kinders. Benewens die Grondwet is daar wetgewende waarborge beskikbaar vir die beskerming van hierdie kwesbare groep. Wetgewing soos die Wet op Gesinsgeweld, die Kinderwet, die Wet op Onderhoud, die Promotion of Equity and Prevention of Unfair Discrimination Act, asook die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede) skenk aandag aan die verskeie maniere waarop geweld teen vroue en kinders plaasvind. Die Grondwet en hierdie wette moet holisties saamwerk om die menswaardigheid, eiewaarde, gelykheid en die fisiese integriteit van vroue en dogters te beskerm. Gegewe Suid-Afrika se vlakke van geslagsgebaseerde geweld wat voortdurend hoog is, is dit te betwyfel of instellings en wetgewing die probleem sal oplos.
Die Parlement het ook twee liggame ingestel wat onder andere moet verseker dat die regering sy grondwetlike verpligtinge moet nakom en dat gemeenskappe bewus is van en aktief is in die stryd teen geslagsgebaseerde geweld. Die eerste liggaam is die Portefeuljekomitee oor Vroue, die Jeug en Mense met Gestremdhede, en die tweede is die Gekose Komitee oor Vroue, Kinders en Mense met Gestremdhede. Beide hierdie Komitees skenk aandag aan vroue en kinders en die uitdagings wat hulle die hoof moet bied.
Suid-Afrika staan saam met die internasionale gemeenskap deur deel te neem aan die 16 Dae-beweging. Verskeie geleenthede word jaarliks op nasionale en provinsiale vlak aangebied.
Hoe kan Suid-Afrikaners 16 Dae ondersteun?
Jy kan:
- ’n Wit strikkie dra, wat die internasionaal erkende simbool van ondersteuning is om geweld teen vroue en kinders te beëindig.
- Kyk na televisie-uitsendings van tersaaklike toesprake en besprekings.
- Woon geleenthede by of ondersteun geleenthede wat fokus op opvoeding van en bewusmaking onder die burgerlike samelewing.
- Maak ’n skenking aan ’n instelling wat diegene wat deur geweld geraak is, ondersteun en bystaan.
In die verlede het vroue die 16 Dae van Aktivisme-veldtog hoofsaaklik alleen bestuur. Mans is egter onlangs genooi om by die veldtog aan te sluit. Die Minister in die Presidensie wat vir vroue verantwoordelik is, Susan Shabangu, tereg daarop gewys dat alhoewel slagoffer-geörienteerde aktivisme ’n goeie ding is, dit ook belangrik is om diegene wat verantwoordelik is vir die skade wat berokken is, ook te betrek. Die mobilisering van die helfte van die gemeenskap kan slegs soveel verrig. As die hele gemeenskap saamstaan om ’n veldtog te steun, sal die gevolge ’n groter uitwerking hê. Alhoewel haar opmerkings met teenstrydige gevoelens begroet is weens die onderliggende patriargale verwysings in haar toespraak, is die oorhoofse boodskap waar.
Ten spyte van intensiewe aktivisme is die vlak van geslagsgebaseerde geweld egter steeds uitermatig hoog – en dit slegs wat sake betref wat aangemeld word. Dit kan wees omdat huishoudelike geweld nie ’n aangeleentheid op sy eie is nie. Dit word verbind tot alkohol- en dwelmmisbruik, armoede en die wyse waarop geweld ’n oorheersende eienskap in die geskiedenis van Suid-Afrika is. Daar is ’n duidelike behoefte om weer te dink oor die manier waarop ons die voorkoming van geweld teen vroue en dogters benader. Ons benodig ’n geïntegreerde veldtog wat al die probleme in die samelewing aanpak wat bydra tot die voorkoms van huishoudelike geweld. Dit sluit in ’n strafregstelsel wat doeltreffend reageer op geweld teen vroue en kinders, en ’n samelewing wat nie net hierdie menseregteskendings afkeur nie, maar wat dit ook nie pleeg nie. In die woorde van aartsbiskop Desmond Tutu: “It is by standing up for the rights of girls and women that we truly measure up as men.”
Deur Rebecca Sibanda: Intern, Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: United Nations]