PRESIDENT DE KLERK'S SPEECH AFTER THE ADOPTION BY PARLIAMENT OF THE 1993 CONSTITUTION

EMBARGO:

VERGELYK TEEN LEWERING

CHECK AGAINST DELIVERY

TOESPRAAK BY GELEENTHEID VAN AFSLUITING VAN DIE PARLEMENTSITTING, DESEMBER 1993

Die Parlement is ‘n magtige instrument. Alhoewel dikwels ‘n wêreld op sy eie, ietwat afgesonderd van die volle werklikheid, hou ons hier die sleutels van mag en gesag. Dit is ‘n geweldige verantwoordelikheid.

Wat hier besluit word, word wet.

Individue, maatskappye, organisasies, en volke se lot is menslik gesproke in ons, hier vergader, se hande.

Met ‘n enkele pennestreep het ons die vermoë om deur ons besluite die ganse land op ‘n nuwe koers te plaas.

Dit het ons vanmiddag gedoen. Deur die aanvaarding van ‘n nuwe Grondwet, het ons Suid-Afrika oor die drumpel van die geskiedenis getel – binne in ‘n nuwe era met al sy gevare, sy geleenthede en sy uitdagings.

Hierdie besluit was om verskeie redes ‘n geskiedkundige een. Vandag wil ek net een daarvan uitsonder. Dit was die laaste besluit wat enige Parlement in Suid-Afrika sal neem met die onbeperkte magte wat ek beskryf het. Met die aanvaarding van die nuwe Grondwet roep ons die Westminster-stelsel vaarwel toe. Voortaan sal alle besluite deur alle wetgewende vergaderings op alle vlakke getoets word aan die waardes en reëls wat in die Grondwet en die Handves van Regte uiteengesit word.

Ons was nie eensgesind nie. Naas beklemtonings-verskille, was daar ook diepliggende en fundamentele verskille. By baie is daar onsekerheid. Daar was ook emosie, wisselend van woede en verwyt, tot idealisme en hoop.

Oor twee sake het ons egter redelike eensgesindheid. Eerstens dat ons nog ‘n laaste poging moet aanwend om groter eensgesindheid te bewerkstellig deur middel van verdere onderhandeling. Dit gee rede tot hoop.

Tweedens stem ons almal saam dat die status quo nie langer kan voortgaan nie – dat die tyd vir fundamentele verandering onherroeplik gekom het. Dit plaas ons almal saam onomkeerbaar op die pad van vernuwing, maak nie saak by watter mylpaal op daardie pad watter party hom bevind nie.

Ek wil vra dat alle partye in die weke wat kom erns sal maak met die pogings om ‘n weg te vind tot nog groter eensgesindheid oor die

oorgang tot ‘n nuwe bedeling. Die geleentheid daarvoor is geskep. Die Regering sal van sy kant met oorgawe daaraan bly werk.

Intussen bly ek verbonde daaraan om doelgerig voort te gaan op die pad wat die Regering loop sedert 1989. Ek wil nie vanmiddag omstrede wees nie. Agbare lede moet my egter gun om ook my hart oop te maak.

Die afgelope week het ek geduldig gesit en luister na aanval en verwyt, belediging en vervloeking uit sommige banke – dikwels van vorige persoonlike vriende.

Dit was ‘n kulminasie van vier jaar se aanvalle, verwyte, beledigings en vervloekings.

Ek het goed geluister. Ek het myself by hernuwing ondersoek, voor God en my gewete. En ek wil vandag hier sê dat ek nou meer oortuig is as ooit dat ek die regte keuses gemaak het. Ek glo:

Daar is nie ‘n beter weg, as om geregtigheid teenoor alle Suid-Afrikaners te bewerkstellig nie.

Daar is nie ‘n ander manier om geregtigheid te verseker, as die demokratiese weg van volwaardige deelname aan alle Suid-Afrikaners te bied nie. Alle vorms van rassisme en diskriminasie moet teengestaan word.

Daar is nie ‘n beter en veiliger metode om die bedreiging van linkse of regse radikalisme – van kommunisme of nazïsme – af te weer, as om dit op demokratiese wyse by die stembus te doen nie. Die stille meerderheid van gematigde, gelowige Suid-Afrikaners uit alle bevolkingsgroepe moet en kan en sal dit doen. Daar is genoeg van hulle.

Ek besef dat baie Suid-Afrikaners diep besorg is. Daar is ook vrese. Vrees vir verandering. Vrees om te deel. Vrees vir mede-Suid-Afrikaners. Vrees vir die toekoms.

Aan daardie mede-Suid-Afrikaners wil ek sê dat daar net een teenvoeter is vir die bedreigings wat u vrees – en dit is om die bul trompop by die horings te pak, om deur te druk en om diegene, wat beproefde waardes en ons stabiliteit bedreig, direk te konfronteer.

Diegene van ons wat in hierdie Parlement ten gunste van die oorgangsgrondwet gestem het, het presies dit gedoen. Ons het ‘n nuwe Groot Trek, die toekoms in, onderneem. Ons is op pad na ‘n nuwe Suid-Afrika en ons is vasbeslote om ons daar te vestig in vrede en in samewerking met al ons landgenote.

Ons is bewus van die bedreigings en gevare. Maar ons is vol vertroue. Vertroue dat ons saak reg is. Vertroue dat ons die vermoë het om welslae te behaal. Vertroue dat ons weer saam beweeg met die breë stroom van die geskiedenis – en nie daarteen nie.

Ons het deur evolusie – nie revolusie nie – daarin geslaag om ons land by hierdie geskiedkundige oomblik te bring. Dit is hierdie Parlement wat toesig gehou het oor elke stap van die proses wat gelei het tot die aanvaarding van die oorgangsgrondwet vandag. Daar is dus ‘n deurlopende gang van konstitusionele kontinuïteit. So sal dit ook in die toekoms wees.

Ons besluit vandag neem geen jota of tittel weg van die bestaande regte van enige individu of gemeenskap wat in hierdie Parlement verteenwoordig is nie. Dit brei regte uit en bring dit binne die bereik van alle Suid-Afrikaners.

Dit bring nie ‘n einde aan die selfbeskikking van enige van ons volke nie. Dit skep ‘n nuwe bedeling waarin alle Suid-Afrikaners oor hul toekoms sal kan beskik.

Dit open nie die deure vir oorheersing deur enige groepe of vir die skrikbewind van enige meerderheid nie. Dit waarborg almal se fundamentele regte. Voortaan sal ‘n individu – of die kleinste gemeenskap – wat die reg aan sy kant het, hom kan verweer teen enige poging om daarop inbreuk te maak.

Ek glo dat die nuwe Grondwet wat ons aanvaar het, die grondslag lê vir ‘n nuwe regverdige Suid-Afrika – ‘n Suid-Afrika waarin geregtigheid kan seëvier en waarin radikalisme effektief hokgeslaan kan word.

Die uitdaging vir alle partye is om nou die geleenthede, wat hierdie grondwet skep, te benut. Die tyd om agtertoe te kyk is verby. Die toekoms is op die spel.

Daarom is die einde van hierdie parlement nie ‘n begrafnis nie, maar ‘n geboorte. Dit is nie die einde nie, maar ‘n nuwe begin.

Daar gaan weer ‘n parlement wees, maar die keer ‘n parlement wat nie ‘n legimiteits-probleem sal hê nie.

Die parlementêre tradisie gaan voort, maar die keer sonder die albatros van onreg, diskriminasie en uitsluiting om sy nek.

Hierdie nuwe begin het die potensiaal om Suid-Afrika tot sy volle reg te laat kom – om ons land se volle potensiaal op elke lewensterrein te ontsluit. Dit skep ‘n gebalanseerde en ten volle verteenwoordigende demokrasie. En die gematigde meerderheid Suid-Afrikaners uit alle volke en tale gaan daardie demokrasie maak werk.

Ek groet u dus, nie in ‘n gees van pessisisme nie, maar in die vaste oortuiging dat 27 April die begin sal wees van ‘n beter nuwe Suid-Afrika.