DIE PLEK VAN AFRIKAANS IN SUID-AFRIKA: 2007

TOESPRAAK OP 23 FEBRUARIE DEUR MNR F W DE KLERK BY DIE NASIONALE FORUM VIR AFRIKAANS SE TWEEDE NASIONALE TAALBERAAD

Die oorkoepelende tema van hierdie konferensie vra:  Waar staan ons met Afrikaans in multikulturele Suid-Afrika?

In hierdie vraag lê daar nog ‘n vraag opgesluit, naamlik waar behoort ons met Afrikaans te staan in multikulturele Suid-Afrika?

My antwoord hierop in ‘n neutedop is dat Afrikaans en Afrikaanssprekendes nie die stief behandeling, wat op so baie terreine ervaar word, verdien nie.  Saam met prof Willie Esterhuyse, volgens ‘n artikel deur hom in Die Burger van 21 Februarie, vind ek dit ontstellend dat mnr Saki Macozoma die volgende te sê het na aanleiding van die FNB sage:

“There is going to be a rift.  But it won’t be black and white.  It will probably be the rest versus the Afrikaans speaking community.”

Ek vind die stelselmatige erodering van Afrikaans se regte en aansprake, soos gevestig in die Grondwet, onaanvaarbaar.  Die kwessie van taal was een van die fundamentele regte waaroor konsensus bereik is.  En vandag word nie net die bepalings van die Grondwet dikwels omseil nie, maar word die gees waarin dit beding is ook nie gestand gedoen nie.  En dit is nie net Afrikaans wat nie voldoende erken word nie, maar ook al ons ander inheemse tale.

Dit is my hoop dat hierdie konferensie, en wat daaruit mag voortvloei, ‘n daadwerklike bydrae sal maak tot regstelling van dit wat skeef loop en tot bestendiging van die rol van Afrikaans en al ons ander tale in ons multikulturele samelewing.

Hoe vaar ons in 2007 – dertien jaar na 1994?

  • Afrikaans is ‘n dinamiese taal in die mond van miljoene Suid-Afrikaners. Dit floreer in kultuur aktiwiteite, moderne musiek en literatuur.  Onder andere getuig die talle suksesvolle kultuur- en taalfeeste wat jaarliks dwarsdeur die land plaasvind hiervan.
  • Afrikaans is bevry van historiese politieke konnotasies. Dit is nie meer die taal van die onderdrukker, soos ons nog so dikwels hoor nie.  Afrikaans kan ook nie meer gedefinieer word op rasse-grondslag nie.

    Vergun my in hierdie verband ‘n voetnota.  Terwyl dit waar is dat Afrikaans ‘n dominante taal in die apartheidstyd was, is dit ook waar dat stryders teen apartheid hul stryd dikwels in Afrikaans gevoer het.  Dink maar aan die Jake Gerwels en die Franklin Sonns.

  • Ons moet ook erkenning gee aan die rol van die Pieter de Langes van die Afrikaner Broederbond, die Willie Esterhuyses en ja, ook my broer Willem de Klerk en ander baanbrekers in die perswese. Dit was in Afrikaans dat hulle die pad na hervorming help baan het.
  • Toe ek en my kollegas in die kabinet ons verreikende hervormings beplan het, het ons dit in Afrikaans gedoen. En toe ons uitvoering aan daardie planne gegee het, was Afrikaans ons hoof voertaal.
  • Afrikaans is nou die derde sterkste taal in Suid-Afrika, naas Zoeloe en Xhosa. Dit word gepraat deur 14% Suid-Afrikaners – dit beteken meer as 6½ miljoen Suid-Afrikaners.  Dit is die meerderheidstaal onder ons Kleurling en Blanke bevolkings en word gebesig deur talle Swart Suid-Afrikaners.
  • Afrikaans is ook ‘n trotse taal. Dit het ontwikkel tot volwaardige wêreldtaal en ‘n mens kan enigiets oor enige onderwerp, hoe tegnies ookal, in suiwer Afrikaans sê of skryf.

Ek sou kon aangaan om die lof van Afrikaans te sing en die positiewe te onderstreep.  Dit is egter gepas dat ons ook by ‘n geleentheid soos hierdie vra na die problematiek rondom Afrikaans.  Dit is ‘n feit dat Afrikaans onder groot druk verkeer:

  • Ondanks die Grondwet word Afrikaans in al hoe minder mate gebruik in ons howe en binne Staatsverband.
  • Afrikaans is onder druk by die SABC. Bloot die nuwe naam van die ou meertalige SAUK getuig van die wegbeweeg van taal diversiteit.
  • Afrikaans is onder ernstige druk in skole. Die daling in die aantal enkelmedium Afrikaanse skole is dramaties en duur voort.
  • Insgelyks is Afrikaans onder geweldige druk by universiteite. Die ontwikkelinge van die afgelope paar jaar aan die Universiteit van Stellenbosch is ‘n klinkende voorbeeld hiervan.
  • Soos ander tale is Afrikaans ook onder geweldige druk binne die konteks van globalisering. Engels met sy wêreldtaal status word al hoe meer die taal van die wêreldmedia, die sakewêreld en inligtingsisteme.  Die resultaat is dat baie Afrikaanse families die oorheersing van Engels gelate aanvaar en verkies om hulle kinders in Engels op te voed.
  • Afrikaans is ook onder druk as gevolg van ander faktore soos misdaad, regstellende aksie en ‘n breë gevoel van onsekerheid. Dit het tot die ongelukkige situasie gelei dat 20%+ van jong Afrikaanses die land verlaat het.

En so sou ek kon aangaan om probleme te identifiseer.  Dit wil ek nie doen nie.  Ek hoop ook dat hierdie konferensie nie sal uitloop op ‘n soort van klaagbank nie.  Die vraag is wat ons moet doen om te verseker dat Afrikaans (en daarmee saam die ander inheemse tale) tot hulle reg kom in die nuwe Suid-Afrika.  Ek sou onder andere die volgende aan die hand doen:

  • Ons moet in ‘n konstruktiewe gees aandring op die handhawing van die grondwetlike posisie van Afrikaans in die algemeen en in die besonder ook in ons skole en universiteite.
    [Brei uit oor die F W de Klerk Stigting en die Sentrum vir Grondwetlike Regte.]
  • Ons durf nooit weer toelaat dat Afrikaans gekenmerk word as die taal van ras of van uitsluiting nie. Dit is die taal van miljoene Suid-Afrikaners oor ras en politieke grense heen.  Daarom moet ons waak teen elemente wat steeds Afrikaans wil misbruik om rondom ‘n ander agenda te mobiliseer.

    Daar is by my geen twyfel dat die oorweldigende meerderheid van Suid-Afrikaners, wat Afrikaans liefhet, entoesiasties is oor die nuwe Suid-Afrika, nie wil terugkeer na die ou bedeling nie;  en hande wil vat met nie-Afrikaanse Suid-Afrikaners ten einde seker te maak dat ons land die sukses bereik waartoe hy in staat is.

  • Ons moet verseker dat Afrikaans tot sy reg kom in die media, in uitgewery, moderne kommunikasie tegnologie en in die sakewêreld.
  • Ons moet die vloei van emigrasie van Afrikaanses omdraai. Dit kan ons doen deur onder andere ons gewig in te gooi by betekenisvolle stappe en aksies gerig op die oplossing van dié probleme wat aanleiding tot daardie emigrasie gee.  Soos reeds gesê sluit dit in die misdaad probleem en die wyse waarop regstellende aksie toegepas word.
  • Ons moet Afrikaans op die voorpunt plaas van die betekenisvolle erkenning, sowel as die bevordering, van al ons ander inheemse tale. Ek glo dat Afrikaans die vermoë het om werklik ‘n baanbreker te wees waarby alle tale in Suid-Afrika kan baat.

U sal hopelik aan al hierdie sake aandag gee tydens u beraadslagings.  En natuurlik is my lysie nie volledig nie.  Ek het met waardering kennis geneem van die goeie werk wat reeds gedoen is en steeds gedoen word.  Met die taal oudit in ‘n tweede fase en die werk aan taalplanne vir Afrikaans op verskillende lewensterreine, is die Nasionale Forum vir Afrikaans besig om die bul by die horings te pak.  Krag en sterkte daarmee.

Ek sluit af.  Een van die sleutel werklikhede in Suid-Afrika is dat ons ‘n multikulture land is.  Alle Suid-Afrikaners het gelyktydig meer as een identiteit.  Ons is almal Suid-Afrikaners maar elkeen van ons behoort ook aan een van ons 11 taalgroepe.

Dié feit plaas ons almal voor ‘n sleutel uitdaging:  Hoe moet ons hierdie diversiteit bestuur?

Die antwoord lê ten dele in ons nuwe Grondwet opgesluit – dié Grondwet wat ons enersyds saam verbind tot samewerking as lede van die Suid-Afrikaanse nasie, en andersyds waarborge gee dat ons verskeidenheid geëer en gerespekteer sal word.

Dit beteken vir my dat ek nooit gevra sal word om my Afrikaanse herkoms te verloën nie;  dat ek en my mense erken word as ‘n positiewe boublok binne die Suid-Afrikaanse nasie;  en dat alle ander Suid-Afrikaners dieselfde aanspraak het ten opsigte van hulle kulturele erfenis.

Dit beteken ook vir my dat ek geroepe is om oor kultuurgrense heen uit te reik na alle mede Suid-Afrikaners;  om saam te bou aan ons gemeenskaplike Suid-Afrikanerskap;  en om saam te werk in die soeke na oplossings vir die probleme waarmee ons land steeds worstel.

Nasiebou moet slaag, maar kan slegs slaag as ons aan diversiteit ‘n volhoubare en eerbare rol toeken.  Dit is nie die een of die ander nie.  Altwee – nasiebou en diversiteit – verg planmatige aandag in balans met mekaar.