Geen redelike persoon sal die behoefte betwyfel aan doeltreffende maatreëls om swart Suid-­Afrikaners in die ekonomie te bevorder nie, om die getal swart eienaars van sakeondernemings te verhoog en om swart menslike hulpbronne en vaardighede te ontwikkel nie. Hierdie proses moet op vinnige, natuurlike en organiese wyse geskied totdat Suid-­Afrikaners hul regmatige plek in die ekonomie beklee op grond van meriete en prestasies.

Die proses rondom SEB en die Wet op Billike Indiensneming strek egter veel verder as dit. Die doelwit waarna die regering streef is om demografiese verteenwoordiging in die privaatsektor in werking te stel, op dieselfde wyse as wat dit in die staatsektor van toepassing is. Volgens Minister Rob Davies:

“Swart ekonomiese bemagtiging is nie bloot ’n maatskaplike en politiese noodsaaklikheid nie. Ons moet seker maak dat die land se ekonomie, beheer, eienaarskap en leierskap die demografie van die samelewing weerspieël op dieselfde wyse as wat dit die politieke ruimte weerspieël. Dit is waarom ons sê dat SEB steeds ’n ekonomiese noodsaaklikheid is. Ons kan nie verwag om te groei en as ’n land te ontwikkel as die leierskap van die ekonomie steeds in die hande van slegs ’n klein minderheid van die samelewing is nie.”

Die nuwe SEB-­kodes wil voorts ook die skroewe aandraai vir sakeondernemings in wit besit. Alhoewel die kodes vrywillig is, is dit noodsaaklik vir maatskappye wat met die regering sake doen -­ of wat mynboulisensies wil bekom. Omdat groot maatskappye hul eie geloofwaardigheid ten opsigte van SEB moet bevorder deur goedere en dienste van kleiner verskaffers te verkry wat aan BSEB voldoen, veroorsaak dit dat daar minder ruimte is vir kleiner maatskappy wat nié hierdie vereistes na kom nie, om sake te doen.

Waar kwalifiserende klein ondernemings (KKOs) voorheen slegs aan vier uit die agt kategorieë op die SEB-­puntekaart moes voldoen, sal hulle van Oktober 2014 aan al vyf kategorieë van die nuwe stelsel moet voldoen. Hulle sal gepenaliseer word indien hulle nie voldoen aan die minimum doelwitte van 40% nakoming in drie kategorieë nie -­ eienaarskap, vaardigheidsontwikkeling en die ontwikkeling van ondernemingsverskaffers. Nakoming van die kategorie oor eienaarskap sal nou swart eienaarskap van 40% van die onderneming vereis wat ‘skuld vry’ moes wees. Dít sal ’n ernstige probleem wees vir maatskappye wat BSEB-­aandeelhouers finansier het by wyse van lenings teen toekomstige dividendvloei.

Maatskappye wat voorheen in staat was om ’n gerespekteerde SEB-­gradering van vlak 4 te behaal, sal nou afgeskuif word na ’n nie-­nakomende vlak van 7 -­ tensy hulle hul punte drasties verbeter.

Die vermoede is dat die doelwitte ten opsigte van toekomstige kodes uiteindelik so streng sal wees totdat “beheer, eienaarskap en leierskap” van maatskappye in die privaatsektor -­ in ooreenstemming met Minister Davies se wense -­ die nasionale demografie weerspieël, dit wil sê totdat dit deur swart Suid-­Afrikaners beheer word.

Op soortgelyke wyse oefen die Wysigingswetsontwerp op Billike Indiensneming druk uit op sakeondernemings in wit besit. Die Wetsontwerp skrap verskeie faktore wat werkgewers kon voorhou oor waarom daar nie aan die mikpunte van billike indiensneming voldoen is nie. Dit sluit in die beskikbaarheid van toepaslik gekwalifiseerde mense uit aangewese groepe; ekonomiese en finansiële faktore wat met die werkgewer se sakesektor verband hou; die werkgewer se ekonomiese en finansiële omstandighede; en die werkgewer se omset ten opsigte van vakante poste en arbeid.

Op ’n selfs ernstiger nood is dat waar daar voorheen van die Direkteur-­generaal vereis is om die demografiese profiel van die nasionale en provinsiale ekonomies aktiewe bevolking in ag te neem wanneer planne betreffende billike indiensneming oorweeg word, hy nou sy eie diskresie in hierdie verband kan uitoefen. Die toepassing van die nasionale demografie in die Wes-­Kaap kan die vooruitsigte vir bruin Suid­Afrikaners ernstig benadeel. Dít is geïllustreer in die onlangse saak van die werknemers van die Departement van Korrektiewe Dienste, wat nie bevorder is nie omdat hulle die nasionale demografiese kwota van 8.8% oorskry in ’n provinsie waar hulle met 53% die meerderheid uitmaak.

Dít alles het ten doel om die ekonomie te dwing in die rigting van die NDR se doelwit van demografiese verteenwoordiging. Dit gaan hand-­aan-­hand met soortgelyke inisiatiewe om demografiese verteenwoordiging by universiteite, in die regsprofessie, in die staatsdiens en elders in die samelewing in werking te stel.

Daar is natuurlik baie goeie redes waarom demografiese verteenwoordiging nié op soortgelyke wyse as in die staatsektor op die privaatsektor toegepas moet word nie.

Eerstens is daar geen grondwetlike vereiste vir die toepassing van demografiese verteenwoordiging buite die staatsektor nie.

Tweedens is die toepassing van demografiese verteenwoordiging in die staatsdiens een van die hoofoorsake van die wanfunksionering in staatsdepartemente. Die staatsektor kan egter steeds funksioneer ongeag sy prestasie omdat dit nie kliënte tevrede moet stel of ’n wins lewer nie.

As maatskappye egter nie winste lewer nie gaan hulle een of ander tyd ten gronde. Om suksesvol te wees moet hulle belangrike personeel aanstel en bevorder op grond van meriete. Hulle moet ook verskaffers en dienste verkry op grond van prys, gehalte en die tyd waarbinne dit gelewer word -­ en nie op grond van ras nie. Entrepreneurs sal nie nuwe ondernemings begin nie -­ of bestaande besighede onderhou nie -­ indien hulle nie in staat is om die vrugte van eienaarskap sonder enige hindernisse te geniet nie.

Demografiese verteenwoordiging -­ soos deur die Wetsontwerp op Billike Indiensneming bevorder word -­ kom neer op maatskaplike manipulering op ’n skaal wat Hendrik Verwoerd in verwondering sou gehad het. Waar apartheid ten doel gehad het om mense in tuislande in te hok, het demografiese verteenwoordiging ten doel om hulle in demografiese krale in te perk in elke gebied van hul lewens. In beide stelsels geniet ras voorkeur bó individuele meriete.

Soos die ideologieë van apartheid, glo ondersteuners van die NDR werklik dat demografiese verteenwoordiging noodsaaklik, regverdig en in die belang van alle Suid-­Afrikaners op die lang termyn is. Soos alle sodanige oefeninge wat versuim om rekenskap te hou met die aard van die mens, individuele regte en die ekonomiese werklikheid, sal dit egter lei tot uiters ongelukkige gevolge. Dit sal toenemend moeilik raak vir die privaatsektor om die welvaart en werk te skep waarvan die toekoms van die land afhanklik is. Dit sal ook die vooruitsigte van nasionale eenheid en die bou van ’n suksesvolle, multikulturele nie-­rassige samelewing ernstig ondermyn.

Die ANC is besig om die wêreld warm te maak betreffende SEB en billike indiensneming -­ maar soos paddas in water wat prut verkeer die meeste wit leiers in die sakewêreld in ’n gehipnotiseerd en beweginglose toestand in die pot. 

Deur Dave Steward, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting


 

Photo credit: deVos / Foter.com / CC BY-NC-SA