Support the work of the FW de Klerk Foundation

For more information regarding donations contact info@fwdeklerk.org or scan the QR code below

BELA-WETSONTWERP NOU WET

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 13/09/2024

Vanoggend het president Ramaphosa die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (“BELA-wetsontwerp”) onderteken en as wet bekragtig. Nou bekend as die BELA-wet, het hierdie wet ‘n impak op die bevoegdhede van skoolbeheerliggame (“SBL’e”) – wat hoofsaaklik uit ouers bestaan – met betrekking tot taal- en toelatingsbeleide.

SBL’e moet egter weet dat provinsiale onderwyshoofde nie onbeperkte bevoegdheid gekry het nie. Volgens FEDSAS is daar verskeie vereistes waaraan voldoen moet word voordat departemente skoolbeleide kan verander. Die FW de Klerk Stigting deel ook FEDSAS se beroep op die Minister van Basiese Onderwys om BELA-opleiding vir amptenare te prioritiseer om magsmisbruik te voorkom.

’n Groot bekommernis vir die Stigting is die feit dat die nuwe wet ook ouers kriminaliseer (met tot 12 maande tronkstraf) sou hulle versuim om hul kind vanaf Graad R af in te skryf (artikel 2(b) van die Wet).

Die Stigting is bekommerd dat die BELA-wet teenstrydig is met voetsoolvlak-demokrasie deur magte weg van ouers en skole se plaaslike gemeenskappe te sentraliseer. Dit is ook bekommerd dat die kriminalisering van ouers die verkeerde oplossing is, een wat ‘n oneweredige impak sal hê op sosio-ekonomies kwesbare gesinne,” sê Daniela Ellerbeck, die FW de Klerk Stigting se Bestuurder van Grondwetlike Programme.

Die Wet was onderhewig aan baie teenkanting – beide van die publiek en van binne die Regering van Nasionale Eenheid. Gevolglik het president Ramaphosa gesê hy sal die implementering van klousules 4 en 5 van die wetsontwerp (nou artikels 4 en 5 van die Wet) vir drie maande uitstel om partye toe te laat om saam te werk om alternatiewe oplossings te vind. Hierdie artikels raak toelatings- en taalbeleid. Indien geen alternatiewe oplossings gevind word nie, sal hierdie afdelings van die BELA-wet geïmplementeer word. Óf dit die gehalte van onderwys sal aanspreek, moet nog gesien word.