Die oorsake van die grootskaalse inploffing van munisipaliteite is wydlopend en kompleks.  Die Staatsdienskommissie het aan die einde van 2014 in ’n besprekingsdokument aangetoon dat van diebelangrikste redes vir swak dienslewering in die staatsdiens, die verskynsels van kaderontplooiing en regstellende aksie is. Hulle waarsku toe al dat “doeltreffendheid en bevoegdheid” nie op die “altaar van remediërende indiensneming geoffer mag word nie”. Die waarnemende voorsitter van die Kommissie, adv. RK Sizani, het bevestig dat kaderontplooiing daartoe lei dat ongekwalifiseerde kandidate soms top staatsposte kry. Dit alles is gedryf deur die eise van demografiese verteenwoordigendheid (die sogenaamde 80-9-9-2 formule). Hierdie is die wortel van die huidige probleem in ons munisipaliteite. Maar dis ook die olifant in die kamer waaraan die regerende party nie aandag (wil) gee nie. Daar is byvoorbeeld sedertdien nog niks weer van die dokument of sy aanbevelings gehoor nie. En die situasie aan die einde van 2014 sou onder die Zuma-administrasie nie verbeter het nie, maar eerder versleg het.

As gevolg van ‘n gebrek aan kennis en vaardighede (veral finansieel en op ingenieursvlak), spandeer munisipaliteite jaarliks (meestal totaal oneffektief) miljoene rande aan konsultante – om te doen wat die amptenare behoort te doen. En daar is ‘n getuienis dat die meeste van hierdie konsultante nie ‘n snars verskil maak nie. 

Hierdie toestand van onbevoegdheid is en word steeds vererger deur endemiese korrupsie wat in talle munisipaliteite ‘n manier van lewe geword het – na aanleiding van die voorbeeld van die Zuptas. Dit gaan baie maal gepaard met ‘n kultuur van toe-eiening (“entitlement”). In plaas van “batho pele” (die mense eerste), is die motto “ke pele” (ek eerste). 

Ten slotte moet dit gestel word dat die mooi en grondwetlike konsep van“samewerkende regering” onder hierdie omstandighede in wese opgehou werk het. Volgens artikel 139 van die Grondwet het provinsiale regerings slegs onder sekere spesifieke omstandighede die reg om in te gryp en ‘n munisipaliteit onder administrasie te plaas. En dan is daar gewoonlik op provinsiale vlak self nie genoeg vaardighede om die situasie om te keer nie. Daar is nie ‘n gebrek aan baie en soms burokratiese reëls nie, maar dit word gewoon omseil of nie toegepas nie en voorkom nie korrupsie nie.

Maar soos wat ‘n vriend onlangs aan my gesê het: “Ek is nou siek en sat om te hoor hoe sleg dit met munisipaliteite gaan. Fokus eerder op oplossings. Wat sal jy doen as jy die President was”?

In die eerste plek sal die regerende partye (ANC en DA) dit sterk moet oorweeg om leefstyloudits en vaardigheidstoetsing van munisipale amptenare te doen. Dis die enigste effektiewe manier om die wortel van die kwaad soos hierbo genoem, uit te kap. ‘n Mens sou, op grond van die statistieke van die Ouditeur-generaal, kan aflei dat ten minste 50% van munisipale amptenare onbevoeg of korrup is. Daar sal eenvoudig van hulle ontslae geraak moet word om die situasie om te draai en plaaslike regering op ‘n vaste voet te plaas. Heropleiding mag ‘n opsie vir ‘n kleiner persentasie amptenare wees. Of die staatsdiensvakbonde egter hierin gaan saamwerk, is te betwyfel. 

Tweedens moet die politieke partye ‘n kultuurverandering onder munisipale amptenare teweegbring. Gespreksgroepe, gedragskodes en die ondertekening van etiese kodes kan hier gebruik word. Die essensie van “batho pele” moet teruggebring word. Dit moet duidelik gestel word dat toe-eiening en erger nog, korrupsie, nie meer welkom in die munisipaliteit en die party is nie. Wat hierin baie belangrik is, is dat dieselfde faktore wat amptenare na korrupsie en toe-eiening laat beweeg het, grootliks ook op verkose raadslede van toepassing is. En dis waar die politieke partye met ‘n kultuurverandering moet begin – by hulle “eie” verkose raadslede. Want dit is die oorsig van daardie raadslede wat óf gebrekkig is, óf afwesig is. Eers wanneer hulle ‘n gesindheidsverandering ondergaan, kan hulle die amptenare se gesindheid en die kultuur van die plaaslike owerheid ten goede verander. Waar nodig (en dis waarskynlik in die meeste gevalle), moet die kultuurverandering eers of gelyktydig op provinsiale vlak gebeur.

Die onlangse nuwe magte van die OG om amptenare wat munisipaliteite deur tenders bedrieg het, in hulle persoonlike hoedanigheid krimineel aan te kla, is ‘n stap vorentoe. Hierdie beginsel word reeds op nasionale vlak aangewend en kan suksesvol wees, nie net om huidige korruptes uit te vang en aan die pen te laat ry nie, maar om ook as ‘n baie sterk persoonlike afskrikmiddel vir toekomstige korrupsie te dien. In kort beteken dit in die derde plek dat alle juridiese middels gebruik moet word om onbevoegde en korrupte amptenare aan die pen te laat ry – en hulle met bevoegde, eerlike amptenare te vervang.

Vierdens,  en miskien ietwat kontroversieel, kan die President dit oorweeg om demografiese ras-teikens in sekere omstandighede by munisipaliteite en selfs die hele staatsdiens te verslap of selfs af te skaf. Mense wat die werk reg kan doen, moet dringend in die hande gekry word – ongeag wat hulle ras of afkoms is. Indien dit nie gedoen word nie en dienslewering verbeter nie, is die mense wat die gevaar loop om steeds die meeste daaronder te ly, die benadeelde en veral arm swart bevolking.

In die laaste plek  sal die President weer goed na die beginsels van samewerkende regering in die Grondwet moet kyk en moontlik ‘n nuwe wetgewende raamwerk vir plaaslike regering moet daarstel – sonder om noodwendig aan die Grondwet self te torring. Om owerhede onder administrasie te plaas, kan in een provinsie (soos Noordwes) werk, maar daar is nie die kapasiteit in die provinsiale regerings om al 128 die munisipaliteite wat in die moeilikheid is, onder administrasie te plaas en “om te draai” nie. En om (soos wat skynbaar beplan word) bloot finansiële en administratiewe hulp aan sukkelende munisipaliteite te gee, is geen blywende oplossing vir die dieper liggende probleme van onbevoegdheid, korrupsie en toe-eiening nie. Daar sal dus ‘n ander wetgewende raamwerk geskep moet word om ons plaaslike owerheidsektor te bestendig en lewensvatbaar te maak.

Enige regering wat weet dat meer as die helfte van sy plaaslike owerhede, waar noodsaaklike dienste aan gewone mense en soms die armstes van die armes gelewer moet word, wanfunksioneel en/of bankrot is, en niks daaraan doen of nie die regte ingrepe maak nie, speel met vuur. 

Dit is nie ‘n oordrywing nie dat Suid-Afrika vir sy plaaslike owerheidssektor dringend ‘n omvattende en ingrypende “Marshall-Plan” soos Europa na die Tweede Wêreldoorlog nodig het. 

Deur Theuns Eloff: Uitvoerende Direkteur, FW de Klerk Stigting
30 Mei 2018

*Eers op Netwerk24 gepubliseer

{phocadownload view=file|id=864|text=Laai die PDF af|target=s}