Suid-Afrika het so ‘n liggaam gehad – wat in 2001 tot stand gekom het. Dit is ‘die Skerpioene’ (die Direktoraat vir Spesiale Bedrywighede) genoem en was gesetel in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om sy onafhanklikheid te verseker. Afgesien van die ondersoek na georganiseerde misdaad, rampokkery en geldwassery, was die Skerpioene verantwoordelik vir die bekamping van georganiseerde korrupsie.
Dit was baie suksesvol. Die Skerpioene het die ondersoeke gelei teen die betrokkenes by die berugte wapentransaksie – waaronder Schabir Shaik en die destydse adjunk-president Jacob Zuma. Dit het ook begin om korrupsie onder ANC-parlementslede in die Travelgate-bedrogspul te ontrafel en was op die spoor van beskuldigings rakende korrupsie waarby senior ANC-lede en werknemers betrokke was.
Dit moes gestop word. Die ANC het Jacob Zuma op sy nasionale raadplegende konferensie in Polokwane in Desember 2007 verkies tot President – ondanks 783 uitstaande aanklagte van bedrog teen hom. Daar is ook besluit om die Skerpioene te ontbind en te vervang met ‘n eenheid wat onder die SAPD – en dus van die ANC-regering sou wees. Ondanks heldhaftige optrede in die howe (Glenister I en II) het die teenkorrupsie-eenhede wat uit die proses voortgespruit het, veral “die Valke”, nooit dieselfde vlak van effektiwiteit en onafhanklikheid bereik as wat die Skerpioene geniet het nie.
Die uitwerking van die ANC se besluit van Polokwane was om die sluise van korrupsie oop te draai en die weg te baan vir Jacob Zuma se program vir die kaping van die staat. Staatskaping is vergemaklik deur die aanhoudende skending van die onafhanklikheid van die NVG deur ‘n opeenvolging van presidente – insluitend die afdanking van Vusi Pikoli, die ongrondwetlike aanstelling van Menzi Simelane, gevolg deur die aanstelling van Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi tot sleutelposisies in die organisasie.
Die resultaat van hierdie korrupsie op groot skaal word nou ontrafel deur die Zondo-kommissie en ander kommissies wat deur President Ramaphosa aangestel is. Die totale koste is waarskynlik onberekenbaar:
- Dit sluit in die krisisse wat ondernemings in staatsbesit tans ondervind – insluitend ESKOM, SAL, PRASA en Denel.
- Tesame met onbevoegdheid het dit gelei tot die enorme skuld van R450 miljard wat deur ESKOM opgehoop is, asook die geweldige koste vir die ontwrigting van elektrisiteitsonderbrekings vir die ekonomie.
- Dit is ook een van die belangrikste redes – tesame met onvanpaste ideologiese programme – waarom die ekonomiese groei van Suid-Afrika ná die finansiële krisis in 2008 versuim het om te verbeter.
- Dit het daartoe bygedra dat slegs 33 van Suid-Afrika se 257 munisipaliteite in 2018 skoon oudits gehad het.
Marianne Thamm van die Daily Maverick het beraam dat die totale koste van korrupsie gedurende die Zuma-jare R1.5 biljoen kan beloop.
Volgens Transparency International se korrupsie-persepsie-indeks van 2018 beklee Suid-Afrika die 73ste posisie uit die 180 lande gemeet aan openbare persepsies van korrupsie. Die indekstelling van 43/100 is presies dieselfde as die wêreldgemiddelde.
Transparency International wys daarop dat daar ‘n direkte verband bestaan tussen vlakke van korrupsie en vlakke van politieke vryheid en demokrasie. Baie min van die wêreld se 75 volle demokrasieë tel onder 50 in die korrupsie-waarnemingsindeks (een van die uitsonderings is Suid-Afrika). Aan die ander kant behaal slegs vier van die wêreld se 30 vryste lande bo 50.
Integriteit in die regering en in die samelewing is ‘n sleutelvereiste vir die langdurige handhawing van demokratiese bestuur en ekonomiese vooruitgang. Daarom moet ons die stappe wat President Ramaphosa gedoen het om die integriteit van die NVG te herstel deur die aanstelling van advokaat Shamila Batoyi verlede jaar as die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging (NDOV) verwelkom, asook sy besluit om ‘n nuwe onafhanklike ondersoekende direktoraat te stig binne die NVG.
Die toets sal egter wees in watter mate die optrede van die President sal lei tot die vervolging van diegene wat by korrupsie betrokke is – en die reaksie van baie ANC-kaders in die munisipaliteite, in die staatsdiens en in die ondernemings in staatsbesit wat afhanklik was van die voortsetting van korrupsie en beskerming vir hul huidige en toekomstige welstand.
Dit is alles faktore wat ons deeglik moet oorweeg op die Internasionale Dag teen Korrupsie.
Deur Dave Steward: Voorsitter, FW de Klerk Stigting
9 Desember 2019
{phocadownload view=file|id=1060|text=Laai die PDF af|target=s}