+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk-stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

DIE MOED OM DIE LAND BO DIE PARTY TE STEL

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 18/11/2026

Die duidelikste toets vir ’n politieke leier kom wanneer die party se belange en dié van die land nie meer ooreenstem nie. Dit is dan dat patriotisme ’n prys het: die ontevredenheid van kollegas, die prysgee van politieke voordeel en moontlik selfs die verlies van ’n amp.

By die Vyfde FW de Klerk-gedenklesing op 11 November het dr Mathews Phosa dié ongemaklike toets in die kollig geplaas. Dié jaarlikse geleentheid van die FW de Klerk Stigting herdenk die lewe en politieke leierskap van oudpresident FW de Klerk. In sy toespraak oor “Die blywende belofte van grondwetlike demokrasie” het dié veteraan van die bevrydingstryd en grondwetlike onderhandelaar huidige leiers uitgedaag om Suid-Afrika se toekoms bo hul organisasies se voortbestaan te stel. Hy het die gehoor daaraan herinner: “Geen party besit die kiesers nie.”

Die moed om van koers te verander

Dr Phosa het terugverwys na mnr De Klerk se besluit in Februarie 1990 om die verbod op bevrydingsbewegings op te hef en die weg vir onderhandelinge te baan. Om daardie bydrae te erken, maak nie die onreg van apartheid minder ernstig of die stryd daarteen minder belangrik nie. Dit erken dat ’n deurslaggewende daad van leierskap behels het dat politieke mag prysgegee is en ’n toekoms aanvaar is waarvan die uitkoms nie meer beheer kon word nie.

Vandag se omstandighede verskil ingrypend, maar die behoefte aan politieke moed bly bestaan. Dit kom na vore wanneer leiers wangedrag onder hul bondgenote moet aanspreek, ’n terugslag by die stembus moet aanvaar of moet erken dat ’n beleid wat hulle jare lank verdedig het, die mense wat dit moes dien, in die steek gelaat het.

Dié dilemma strek verder as Suid-Afrika. In sy afskeidstoespraak van 1796 het George Washington gewaarsku teen die skade wat sterk partypolitieke gevoelens aan die gemeenskaplike belang kan berokken. Ons Grondwet maak tereg voorsiening vir ’n veelpartydemokrasie; partye gee uitdrukking aan geldige meningsverskille en bied kiesers betekenisvolle keuses. Die gevaar ontstaan wanneer lojaliteit aan ’n organisasie kritiese denke uitskakel en gebruik word om die opoffering van die openbare belang te regverdig.

Lojaliteit het grondwetlike perke

In Suid-Afrika het hierdie onderskeid reeds regskrag. Artikel 42(3) van die Grondwet bepaal dat die Nasionale Vergadering die mense moet verteenwoordig en uitvoerende optrede moet ondersoek. ’n Regerende party se parlementêre mag bring dus die verpligting mee om sy eie regering se optrede te ondersoek, ook wanneer die bevindings polities ongerieflik is.

In United Democratic Movement v Speaker of the National Assembly het die Grondwetlike Hof verduidelik dat parlementslede getrouheid aan die Republiek en gehoorsaamheid aan die Grondwet en wette sweer. Waar grondwetlike waardes met partylojaliteit bots, moet hul verbintenis om die mense te dien, voorrang geniet. Dié beginsel het voortgevloei uit ’n hofsaak oor ’n geheime stemming oor ’n mosie van wantroue in die president, maar die betekenis daarvan strek tot die daaglikse werk van toesighouding.

’n Eed is juis die belangrikste wanneer dit ongerieflik raak om dit na te kom. Anders bly net die seremonie oor, terwyl die verpligting verdwyn.

’n Komiteelid wat geloofwaardige bewyse van die vermorsing van openbare geld onder oë kry, moet op antwoorde aandring, selfs wanneer die verantwoordelike minister ’n kollega is. Partydissipline help verkose verteenwoordigers om ’n program uit te voer; dit kan nie die verontagsaming  van die grondwetlike pligte wat hul gesag wettig maak verskoon nie.

Dit is hier waar die gebruik van die woord “verraad” bevraagteken moet word. ’n Verteenwoordiger wat moeilike vrae aan hul eie party se regering stel, kom moontlik juis hul plig teenoor die mense na wat dié regering verkies het, veral wanneer stilswye toelaat dat openbare geld vermors word of dienste in duie stort.

Maak dit makliker om leiers tot verantwoording te roep

Dr Phosa se argument vra ook dat ons kyk na die aansporings wat politieke gedrag beïnvloed. Hy het voorgestel om ’n direk verkose president te oorweeg en bevraagteken of die huidige reëlings te veel afhanklikheid van partystrukture skep. Daardie voorstel verdien deeglike openbare debat oor hoe burgers hul leiers kies en hulle tussen verkiesings aanspreeklik hou.

Die FW de Klerk Stigting het omvattende werk oor kiesstelselhervorming gedoen, onder meer deur voorleggings in te dien en hom vir nouer bande tussen kiesers en hul verteenwoordigers te beywer. Die Stigting se betrokkenheid spruit uit die behoefte om demokratiese aanspreeklikheid en betekenisvolle openbare deelname te versterk.

Enige voorgestelde stelsel moet aan dié doel gemeet word. Selfs met ’n afsonderlike presidensiële stemming sal doeltreffende parlementêre toesig en waarborge teen magsmisbruik nodig wees. Burgers moet weet hoe ’n president vir mislukkings tot verantwoording geroep sal word, veral wanneer die president en die parlementêre meerderheid uit verskillende politieke kampe kom.

Intussen bly die bestaande pligte van openbare ampsdraers bindend. Parlementêre komitees moet onbeantwoorde vrae opvolg, geloofwaardige verduidelikings eis wanneer beloftes nie nagekom word nie en nagaan of regstellende stappe uitgevoer word. Politieke partye moet sulke toesig binne hul eie geledere ondersteun en kollegas se prestasie aan dieselfde maatstawwe meet as dié wat hulle op politieke teenstanders toepas.

Om die land bo die party te stel, kry deur sulke besluite praktiese betekenis. Vir inwoners wat wag vir water, skole wat behoorlik funksioneer of verantwoordbare besteding van openbare geld, lê die waarde daarin of iemand met gesag bereid is om mislukkings aan te spreek, ondanks die politieke prys.

Dr Phosa se lesing verdien om langer voort te leef as die aand waarop dit gelewer is. Die uitdaging is of diegene aan wie mag toevertrou is, hul grondwetlike verantwoordelikhede sal nakom wanneer dit hul eie posisie en voorregte bedreig.

Vir meer oor hierdie onderwerp, lees: Why South Africa Needs Electoral Reform: A Look at Mixed-Member Proportional Systems – https://fwdeklerk.org/why-south-africa-needs-electoral-reform-a-look-at-mixed-member-proportional-systems/?utm_source

DIPLOMATE VERTREK. VRIENDSKAPPE BLY

Op Maandag, 23 November, het die FW de Klerk-stigting – verteenwoordig deur die voorsitter, Elita de Klerk, en Adjunkvoorsitter, Christina Teichmann – die voorreg gehad om mev Lily Chen, direkteur-generaal van die Taipei Skakelkantoor, vir ’n afskeidsbesoek te verwelkom

Read More »

DIE MOED OM DIE LAND BO DIE PARTY TE STEL

Die FW de Klerk Stigting het sy Vyfde FW de Klerk-gedenklesing aangebied, waartydens dr Mathews Phosa oor moedige leierskap en die blywende belofte van grondwetlike demokrasie besin het. Na aanleiding van sy toespraak ondersoek hierdie artikel politieke leiers se verantwoordelikheid om die land se belange en hul grondwetlike pligte bo partylojaliteit te stel. Dit kyk hoe parlementêre toesig en kiesstelselhervorming aanspreeklikheid kan versterk en kan verseker dat leiers verantwoording doen aan die mense wat hulle dien.

Read More »