In Suid-Afrika word hierdie belangrike vryheid ook in ons Grondwet erken, aangesien artikel 16 (1) (a) bepaal dat elkeen die reg tot vryheid van uitdrukking het, wat die vryheid van die pers en ander media insluit.
Die VN se Algemene Vergadering het in 1993 3 Mei aangewys as die Wêrelddag Vir Persvryheid is na aanleiding van aanbevelings deur UNESCO se Algemene Konferensie in 1991, en het ten doel om persvryheid wêreldwyd te evalueer, om die media te verdedig teen aanvalle op sy onafhanklikheid en om hulde te bring aan joernaliste wat hul lewens verloor het in die uitoefening van hul beroep.
Natuurlik is die pers van vandag anders as “die pers” van die verlede. Terwyl die pers van vroeër jare hoofsaaklik uit koerante en ander gedrukte media bestaan het, behels “die pers” van moderne tye: televisie en radio, die Internet, digitale vorme van joernalistiek soos blogs, twiets en webtuistes (dit sluit dikwels foto’s, data, films en klank in), wat dag en nag op ‘n verskeidenheid platforms gepubliseer word.
Die Press Freedom Index is ‘n jaarlikse ranglys van lande wat gebaseer is op hul persvryheid en oorweeg die klas van vryheid wat joernaliste en nuusorganisasies in elke land geniet, sowel as pogings deur die owerhede om hierdie vryheid te respekteer en respek daarvoor te verseker. Die verslag is saamgestel en uitgereik deur Reporters without Borders.
Met betrekking tot die 2013-verslag, is Finland die land wat die meeste respek het vir mediavryheid, en word gevolg deur Nederland en Noorweë. Die verslag evalueer verskeie kriteria – wat wissel van wetgewing tot geweld teen joernaliste – en bevind dat terwyl demokratiese lande aan die bokant van die indeks is, is diktatorskappe, naamlik Turkmenistan, Noord-Korea en Eritrea, heel onder val.
Volgens die verslag is Suid-Afrika tans in die 52ste posisie en alhoewel dit ‘n gerespekteerde rang is en dat vryheid van inligting en die media – tegnies – ’n werklikheid is en dit oor die algemeen geniet word, is Suid-Afrika besig om te gly op die indeks, en is vir die eerste keer nie meer onder die top-50 nie.
Wat is die stand van sake in Suid-Afrika?
Oor die algemeen is die media vry en die land het ‘n aktiewe, doeltreffende en uitgesproke media en samelewing. Sedert 1994 is Suid-Afrika een van die mees toeganklike omgewings vir die pers in Afrika. Bedreigings tot vryheid van uitdrukking en vryheid van die media het egter onlangs begin toeneem. Die regerende party word al hoe meer “sensitief” ten opsigte van dikwels geregverdigde kritiek deur die media. Ondersoekeenhede by die groot koerante, sowel as joernaliste, word gereeld dopgehou en verduur ’n klein mate van teistering. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het onlangs die arrestasie en beweerde aanranding deur die polisie van Die Son se fotograaf, Hein Coetzee, in Oudtshoorn veroordeel. Coetzee het ‘n bende-aanval op die ANC se provinsiale voorsitter Marius Fransman gedek. Hy het foto’s geneem van Fransman toe hy van die toneel gevlug het met sy polisielyfwagte. Die polisie het Coetzee in hegtenis geneem, na bewering aangerand en beslag gelê op sy selfoon en kamera.
Die Spear-skildery van President Jacob Zuma, asook ander gevalle van regstappe teen koerante en joernaliste deur die regerende party en President Jacob Zuma, dien as verdere illustrasie van hierdie tendens.
In 2012 het die DA en IVP kommer uitgespreek oor die toenemende verpolitisering van die openbare uitsaaier (SAUK), sowel as die ontwikkelende klimaat van sensorskap en party- politieke vooroordeel wat skynbaar die aktuele sake-en nuus-uitsaaidienste van alle SAUK- kanale deurdrenk en het daarop aangedring dat die voorsitter van die SAUK, Ben Ngubane, en lede van sy direksie “in die openbaar hul steun vir optrede teen politieke uitdrukking bevestig of ontken”, wat afgedwing is deur die voormalige waarnemende hoof bedryfsbeampte, Hlaudi Motsoeneng.
Verder het die Press Freedom Index 2013 spesifiek bevind dat mediavryheid in Suid-Afrika bedreig word deur die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting omdat dit ‘n noemenswaardige aanval op ondersoekende joernalistiek uitmaak. Sedert dié Wetsontwerp se bekendstelling het dit aansienlik verbeter. Dit bots byvoorbeeld nie meer met die bepalings van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000, nie, maar dit bevat steeds nie ‘n omvattende klousule oor “openbare belang ” nie, en maak nog voorsiening vir drakoniese boetes vir die besit van geklassifiseerde materiaal. Dit is nog nie duidelik hoe die Wet geïmplementeer sal word in die praktyk nie – en daar is ‘n sterk moontlikheid dat dit vroeër of later onder die loep geneem word deur die Konstitusionele Hof. Die sukses wat teenstanders van die wetgewing bereik het, het gelei tot aansienlike verbeteringe aan die Wetsontwerp, wat op sigself ‘n aanduiding van die uiterste belangrikheid en doeltreffendheid van mediavryheid in ‘n grondwetlike demokrasie is.
Die Suid-Afrikaanse Persraad het breë hervormings van die Suid-Afrikaanse Perskode ingestel – met inbegrip van groter openbare deelname – om geloofwaardigheid van die media te versterk en te handhaaf,en dit lyk asof die Regering besluit het om die idee van ‘n “media-appèltribunaal” te laat vaar. Maar die vooruitsigte vir die vryheid van uitdrukking – insluitende vryheid van die media – wek al hoe meer kommer as gevolg van die Regering se plan om die bepalings in die Wetsontwerp op Beskerming van Staatsinligting te aanvaar, en sy toenemende gebruik van geheimhouding om verduidelikings oor korrupsie en oormatige en ongeregverdigde staatsbesteding te vermy. Daarby inbegrepe – verkeerdelik – is die afhanklikheid op die Wet op Nasionale Sleutelpunte om toegang tot inligting te beperk.
Die pers en media wêreldwyd – vorm ‘n onafhanklike en samehangende mag in die moderne samelewing. Dit deel nie die doelwitte van die Regering, die wetgewer, die uitvoerende gesag, godsdiens of handel nie. Dit het die vermoë om sterk optree in samewerking met, of in teenstand tot enige van hierdie magte. Dit is hoekom totalitêre en verdrukkende regerings of bewegings nooit ‘n vrye pers kan toelaat nie: dit is óf gebruik as ‘n instrument, verbied en vervolg, of beheer.
Vandag moet dit wêreldwyd en in Suid-Afrika nie net die datum wees waarop ons hierdie belangrike vryheid vier en inisiatiewe ten gunste daarvan aanmoedig nie, maar ook ‘n dag waarop ons werklik die toestand van persvryheid in oorsig neem. In hierdie opsig moet veral die Suid-Afrikaanse regerende party voortdurend herinner word aan die behoefte om persvryheid te respekteer – nie net omdat dit vervat word in artikel 16 van ons Grondwet nie, maar ook omdat – as ‘n beweging – dit baie staatgemaak het op die vryheid van die media om gebeure in Suid-Afrika te weerspieël voor ons in 1994 ‘n grondwetlike demokrasie geword het.
‘n Kultuur van geheimhouding – een wat tans ontwikkel onder die regerende party van Suid- Afrika – is ‘n bedreiging vir demokrasie, aanspreeklikheid en die deursigtigheid van die staat. Dit is teen die gees van ons Grondwet en ‘n uitstekende voorbeeld van die rede waarom mediavryheid ten alle koste ‘n onvervreembare vryheid in ons samelewing moet bly.
Deur Adv Jacques du Preez, FW de Klerk Stigting
WÊRELDDAG VIR PERSVRYHEID 2013