
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
WEERGAWE VAN GILAB ONDERTEKEN IN WET - 'N SUKSESVERHAAL VAN DIE KRAG VAN OPENBARE DEELNAME
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 01/04/2025
Op Vrydag, 28 Maart 2025, het die President die Algemene Intelligensiewette Wysigingswetsontwerp, algemeen bekend as die “GILAB”, in wet onderteken. (Dit word nou die Algemene Intelligensiewette Wysigingswet genoem.) Die Wet implementeer onder andere die Presidensiële Hoëvlak Hersieningspaneel oor die Staatsveiligheidsagentskap se 2018-aanbeveling dat die Staatsveiligheidsagentskap in twee aparte dienste verdeel moet word: ‘n binnelandse en ‘n buitelandse diens.
“Die Wet wat bekragtig is, was die baie hersiene weergawe wat op 16 Mei 2024 deur die Parlement goedgekeur is,”,” sê Daniela Ellerbeck, ’n prokureur en bestuurder van die FW de Klerk Stigting se Grondwetlike Regte Program.
Vroeg in 2024 het die Parlement die eerste weergawe van die Wet (toe bekend as die Wetsontwerp) oopgestel vir openbare kommentaar. Hierdie aanvanklike weergawe het groot openbare bohaai veroorsaak, omdat dit die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste vrye teuels sou gegee het om te besluit wie aan indringende keuringsondersoeke onderwerp sou word. Dit sou direk verskeie grondwetlike regte, soos privaatheid en toegang tot geregtigheid (artikels 14, 34 en 38 van die Grondwet), geskend het.
“Dit is ‘n suksesverhaal van die krag van openbare deelname,” verduidelik Ellerbeck. “Omdat die publiek deelgeneem het en die Parlement na die mense geluister het en die nodige wesenlike veranderinge aangebring het, insluitend die veranderinge wat die Stigting versoek het.”
Die FW de Klerk Stigting bedank almal wat aan die openbare deelnameproses deelgeneem het.