+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

WANNEER WOEDE OP DIE VERKEERDE TEIKEN FOKUS: XENOFOBIESE PROTESOPTREDE EN DIE 2026 PLAASLIKE REGERING VERKIESINGS

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 01/06/2026

Suid-Afrika staan op die vooraand van ’n munisipale verkiesing met werklike griewe, maar gebasseer op verwronge sargumeet. Die amptelike werkloosheidskoers staan op 32,7%. In die eerste kwartaal van 2026 alleen het indiensneming met 345 000 afgeneem. Agt miljoen mense is sonder werk. Plaaslike dienste – water, vullisverwydering, klinieke en paaie – bly onbetroubaar juis in die gemeenskappe waar mense hierdie mislukkings die diepste en mees persoonlik ervaar. Die woede op straat is nie kunsmatig geskep nie. Dit is verstaanbaar. Die probleem is teen wie die woede gerig word.

Tussen April en Mei 2026 het die beweging March and March betogings in Pretoria, Johannesburg en Durban georganiseer wat gewelddadig geraak het en, in sommige gevalle, noodlottig was. Op 29 April het die optog in Johannesburg gelei tot die sluiting van winkels wat aan sowel Suid-Afrikaners as migrante behoort, terwyl inwoners hulle op moontlike plundering voorberei het. Teen 2 Junie het Mosambiek bevestig dat vyf van sy burgers gesterf het in geweld wat met anti-immigrant-aktiwiteite in Mosselbaai verband hou, en dat burgers reeds na hul tuisland teruggekeer het. Ghana, Malawi, Nigerië en Zambië het almal reiswaarskuwings uitgereik of formeel kommer by die Afrika-unie uitgespreek. ’n Binnelandse politieke voorval het ’n buitelandsebeleidskwessie geword. ’n Protesbeweging het ’n nasionale krisis geword.

Die politieke tydsberekening is van groot belang. President Ramaphosa het 4 November 2026 as die datum vir die plaaslikeregeringsverkiesings bepaal, en kieserregistrasie-naweke is reeds aan die gang. Hierdie protesgolf kom nie ná ’n verkiesing nie. Dit kom te midde van een, en beïnvloed reeds taalgebruik in veldtogte, kiesersvrese en politieke party wat hul uitslae bereken nog voordat ’n enkele stem uitgebring is.

Die HSRC het in Mei 2026 berig dat anti-immigrant-sentiment die hoogste aangetekende vlak bereik het sedert die opnamereeks in 2003 begin het. Ongeveer 42% van respondente het gesê dat hulle glad geen internasionale migrante verwelkom nie. Hierdie sentiment is veral gekonsentreer in KwaZulu-Natal, Gauteng, Mpumalanga en Limpopo – juis die provinsies waar plaaslike verkiesings die felste betwis word.

KwaZulu-Natal is nou die land se voorste provinsie wat betref gedokumenteerde voorvalle van xenofobiese diskriminasie, met 85 voorvalle tussen 2022 en 2024, teenoor Gauteng se 79. Durban alleen het sedert 2008 reeds 93 aangetekende voorvalle gehad. Dit is nie ’n nuwe, skielike styging in spanning nie. Dit is die jongste hoogtepunt van ’n lang, herhalende patroon – en dit speel af in ’n provinsie waar die Munisipale Afbakeningsraad pas 20 nuwe wyke bygevoeg het. Dit bring KZN se totaal op 921 wyke te staan, die grootste provinsiale toename landwyd, en skep meer verkiesingswedstryde én meer geleenthede vir kandidate om hulself rondom vrees te posisioneer.

Teen hierdie gelaaide agtergrond is die werklike demografiese prentjie opvallend beskeie. Stats SA se Sensus 2022 het 2,418 miljoen buitelandsgebore persone in Suid-Afrika getel, wat 3,9% van die totale bevolking verteenwoordig – af van 4,2% in 2011. In KwaZulu-Natal is slegs 1,3% van die provinsiale bevolking buite Suid-Afrika gebore; in eThekwini is die syfer 1,8%.

Die politieke temperatuur is dus heeltemal buite verhouding tot die demografiese werklikheid. Daardie wanverhouding sê iets belangriks: die immigrasiekwessie funksioneer hier simbolies. Dit het ’n houer geword waarin wyer ontevredenheid met mislukte instellings uitgegiet word. Migrante word dan die gerieflike teiken in ’n ruimte wat, grondwetlik gesien, eerder deur vrae oor bestuur, dienslewering en verantwoordbaarheid gevul behoort te word.

Die ekonomiese argument teen sondebokpolitiek is net so sterk. Die OESO en die ILO kom albei tot die gevolgtrekking dat immigrante ’n positiewe bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie lewer, nie indiensnemingsyfers vir Suid-Afrikaners verlaag nie, en ’n netto positiewe bydrae tot die fiskale balans maak. Wêreldbank-navorsing het bevind dat een immigrantwerker ongeveer twee werksgeleenthede vir Suid-Afrikaanse burgers skep. ISS-ontleding toon dat slegs sowat 2,3% van gevangenes wat jaarliks opgesluit word, ongedokumenteerde buitelanders is – wat die algemene bewering dat migrante misdaad dryf, direk weerspreek.

Die geraamde R1,5 miljard se skade aan besighede in buitelandse besit tydens die xenofobiese geweld van 2008 bied ’n ontnugterende maatstaf van wat die huidige vlaag kan kos. Xenowatch se kumulatiewe rekord sedert 2008 dui op meer as 612 sterftes, 122 000 mense wat ontheem is, en 6 306 winkels of eiendomme wat geplunder of beskadig is.

Dit is nie abstrakte morele statistieke nie. Dit is ’n rekord van vernietigde bestaansmiddele. Die toerisme-dimensie verhoog die risiko verder: Suid-Afrika het in 2025 10,5 miljoen toeriste verwelkom, terwyl die sektor ongeveer 8,8% tot die BBP bygedra het, 1,68 miljoen werksgeleenthede ondersteun het en R445 miljard in binnelandse besoekersbesteding gegenereer het.

Anti-immigrantgeweld wat op video vasgelê is en reeds formele besware van vyf naburige regerings ontlok het, toets nou die streeksreputasie waarop ’n groot deel van hierdie ekonomie afhanklik is.

Die FW de Klerk Stigting het ’n duidelike en beginselvaste standpunt oor hierdie grondwetlike vraagstuk. Suid-Afrika het die soewereine reg om sy grense te reguleer en onwettige betreders deur gemagtigde kanale te verwyder. Die Presidensie was hieroor uitdruklik, en Binnelandse Sake het dit met optrede ondersteun: 109 344 deportasies is oor die afgelope twee finansiële jare gesamentlik uitgevoer.

Die staat ignoreer dus nie onwettige immigrasie nie. Hierdie afdwingingsrekord is trouens die sterkste moontlike weerlegging van vigilante-optrede. As die staat reeds deur wettige middele optree, is daar geen grondwetlike regverdiging vir bewegings wat hulself as immigrasie-owerhede aanstel nie. Die Suid-Gautengse Hooggeregshof het reeds hierdie grens getrek deur Operasie Dudula te verbied om toegang tot klinieke, skole, handelsstalletjies en huise te blokkeer. Die hof het bevestig wat die Grondwet nog altyd bepaal het: afdwinging behoort aan die staat, nie aan die straat nie.

Wat grondwetlik in die 2026-verkiesing op die spel is, is nie bloot openbare orde nie. Dit is die integriteit van plaaslike demokrasie self. Artikel 152 van die Grondwet omskryf die oogmerke van plaaslike regering as demokratiese en verantwoordbare bestuur, volhoubare dienslewering, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling, en ’n veilige en gesonde omgewing.

Munisipale verkiesings behoort ’n wedywering oor institusionele bekwaamheid te wees – oor wie waterdienste kan herstel, informele handel billik kan bestuur, klinieke behoorlik kan beman en amptenare aanspreeklik kan hou. Sodra xenofobiese mobilisering begin oorheers, verval daardie wedstryd in ’n wedloop om vyandigheid teenoor buitestaanders te vertoon asof dit ’n plaasvervanger vir administratiewe vermoë is. Kandidate begin dan beloftes maak wat munisipaliteite geen wetlike bevoegdheid het om na te kom nie, en kiesers word aangemoedig om sukses te meet aan hardheid teenoor buitelanders eerder as aan werklike diensleweringsuitkomste.

Die kiesersopkoms in eThekwini tydens die plaaslike verkiesing van 2021 was 41,91%, met sommige wyke waar dit tot so laag as 17% gedaal het. In só ’n omgewing verteenwoordig ’n verskuiwing van net twee persentasiepunte ongeveer 38 000 stemme – genoeg om die uitslae in verskeie wyke te verander.

Die gevaar is nie noodwendig dat randbewegings self aan bewind kom nie. Die gevaar is dat groter partye hul narratief begin kaap, dat wykskandidate hulself as buurtbeskermers teen “buitelandse druk” voordoen, en dat munisipale verantwoordbaarheid stilweg deur identiteitspolitiek vervang word. Die ISS het daarop gewys dat die geweld van 2008, waarin 62 mense gesterf en meer as 200 000 mense ontwortel is, minstens gedeeltelik deur politieke retoriek in die aanloop tot die 2009-verkiesing aangevuur is. Die 2026-verkiesingsiklus bring nou sy eie weergawe van daardie patroon voort – vroeër en op ’n wyer skaal as voorheen.

Die Stigting se argument kan eenvoudig opgesom word: xenofobiese protes in die aanloop tot ’n munisipale verkiesing is nie net ’n menseregteprobleem nie. Dit is ook ’n demokratiese probleem. Dit verander grondwetlik gerigte verantwoordbaarheid – die soort verantwoordbaarheid wat beter plaaslike regering van verkose verteenwoordigers eis – in die ongrondwetlike sondebokmaking van ’n kwesbare minderheid.

Dit skep die indruk van daadwerklike optrede, maar lei in werklikheid tot swakker uitkomste: geslote winkels, ekonomiese inkrimping, diplomatieke skade, risiko’s vir toerisme en verkiesings wat deur vrees eerder as bekwaamheid bepaal word.

Suid-Afrika se werklike griewe verdien beter as dit. Ons grondwetlike orde vereis dit.

 

Vir meer oor hierdie onderwerp, lees: FW DE KLERK FOUNDATION EXPRESSES CONCERN OVER RISING XENOPHOBIC MOBILISATION – https://fwdeklerk.org/fw-de-klerk-foundation-expresses-concern-over-rising-xenophobic-mobilisation/