Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
WAAROM SUID-AFRIKA HERVORMING VAN SY KIESSTELSEL BENODIG: 'n OORSIG VAN GEKOMBINEERDE LEDE-PROPORSIONELE STELSELS
Geskryf deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/11/2024
*Hierdie artikel is op 12 November 2024 vir die eerste keer as ‘n meningstuk in Mail & Guardian gepubliseer.
Die debat oor verkiesingshervorming is al ‘n geruime tyd aan die gang – eintlik sedert die Tussentydse Grondwet van 1993.
Nou, met die konsultasiepaneel verantwoordelik vir verkiesingshervorming se uitnodiging vir kommentaar oor hoekom, hoe en óf Suid-Afrika se huidige kiesstelsel hervorm, verander óf selfs vervang moet word, is die saak weer in die kollig.
Dat daar meer as een kiesstelsel bestaan, is gewis. In werklikheid is daar ‘n veelheid. Vir tydsonthalwe sal slegs die drie hooftipes in hierdie artikel bespreek word:
So wat is fout met ons huidige stelsel?
In die huidige stelsel word die helfte van die Parlement se setels (200) betwis deur onafhanklike kandidate en politieke partykandidate wat meeding in nege streke (streeksetels).
Die ander helfte word betwis deur politieke partykandidate (kompenserende setels).
Die kompenserende setels is daar om die algehele proporsionaliteit tussen die politieke partye te herstel as gevolg van moontlike verwringings wat deur die streeksetels veroorsaak kan word.
Verantwoordingspligtigheid
Ongelukkig verseker die huidige stelsel nie dat verkose verteenwoordigers meer verantwoordingspligtig is teenoor die kiesers as teenoor hul party nie (die verantwoordingspligtigheid probleem). Dit voldoen ook nie aan ander grondwetlike vereistes nie, soos ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid nie.
Alhoewel ‘n onafhanklike kandidaat in meer as een streek genomineer kan word, mag die stemme wat hy/sy in daardie verskillende streke ontvang, nie saamgevoeg word om vir hom/haar ‘n setel in die Parlement te bekom nie. Verder, indien ‘n onafhanklike kandidaat meer as een setel wen, word hy/sy slegs een setel toegeken en verbeur enige addisionele setels.
Duidelik lei dit tot ‘n stelsel waarin stemme vir onafhanklike kandidate aansienlik minder tel as dié wat deur politieke partye gewen word. (Dit voldoen ook nie aan die grondwetlike vereiste vir proporsionaliteit nie, aangesien stemme vir onafhanklike kandidate nie sal lei tot hul proporsionele verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering of provinsiale vergaderings nie.)
Om nie eers te praat van die hoë persentasie vermorste stemme nie, want onafhanklike kandidate sal net een setel toegeken word, al wen hulle meer as een setel.
Dit is opvallend dat nie een onafhanklike kandidaat daarin geslaag het om ‘n setel in die Nasionale Vergadering te wen nie.
Om hierdie redes, en ander, is verkiesingshervorming nie net geregverdig nie, maar uiters noodsaaklik.
Wat is die oplossing?
‘n Gemengde lede-proporsionele stelsel is herhaaldelik voorgestel: Eerstens deur die meerderheid in die Van Zyl Slabbert-verslag (wat gepubliseer is voordat onafhanklike kandidate toegelaat is om vir openbare ampte te staan).
Tweedens, deur die Hoëvlakpaneel in sy verslag.
Derdens, deur voormalige hoofregter Raymond Zondo, wat die Parlement versoek het om so ‘n kombinasie te oorweeg in die Staatskapingsverslag.
Laastens was daar die Ministeriële Advieskomitee oor Verkiesingshervorming (die MAV), wat ook so ‘n kombinasie in 2021 voorgestel het.
In sy voorlegging aan die Verkiesingshervormingskonsultasiepaneel het die FW de Klerk Stigting die MAV se meerderheidsaanbeveling (wat gebaseer was op die Slabbert-taakspan se meerderheidsaanbeveling, maar wat verwerk is om onafhanklike kandidate in te sluit) van ‘n gemengde lede-proporsionele stelsel ondersteun.
Dit sal kiesers in staat stel om ‘n direkte skakel te hê met die kandidate in hul geografiese kiesafdeling wat vir ‘n setel in die Parlement meeding. Terselfdertyd sal kiesers onderpresterende verkose amptenare kan herroep.
Die MAV-meerderheid se aanbeveling dat politieke partykandidate regstreeks teen individuele onafhanklike kandidate meeding om ‘n enkellid-geografiese kiesafdeling in die Nasionale Vergadering of provinsiale wetgewer te verteenwoordig, is ‘n regverdiger mededingingsstelsel. Dit verseker dat stemme, so ver moontlik, dieselfde waarde het.
Die FW de Klerk Stigting het egter aanbeveel dat in plaas van die MAV se 200 setels, 250 uit die Parlement se 400 setels aan verteenwoordigers van enkellid-kiesafdelings toegeken moet word.
Dit sal groter gewig aan kiesafdelings gee en help om die uitdaging van verantwoordingspligtigheid op te los.
Dit sal ook ʼn responsiewe ingesteldheid en openheid verhoog, wat sal lei tot die herstel van die publiek se vertroue in die demokratiese stelsel. Daar word gehoop dat dit, op sy beurt, die dalende kiesersopkoms sal verhoog.
Die Stigting glo dat so ‘n kiesstelsel ook tot algehele proporsionele verteenwoordiging sal lei, terwyl dit onafhanklike kandidate in staat stel om op ‘n gelyke speelveld met politieke partye mee te ding.
Suid-Afrika het desperaat ‘n stelsel nodig wat politici aanspreeklik maak teenoor die kiesers, nie hul politieke party nie.
Die konsultasiepaneel vir verkiesingshervorming moet teen Mei 2025 aan die Minister van Binnelandse Sake verslag doen oor hoekom en hoe Suid-Afrika se huidige kiesstelsel hervorm moet word.
Aangesien die paneel die saak nou weer van nuuts af oorweeg (vir die vyfde keer), sal ‘n gemengde stelsel dalk uiteindelik ‘n kans kry. Die FW de Klerk Stigting moedig die publiek aan om deel van die gesprek te bly.