+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk-stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

WAAROM DIE BRONKHORSTSPRUIT-WATERKRISIS DIE GRONDWET SKEND

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 20/10/2026

Die FW de Klerk Stigting is diep bekommerd oor berigte dat honderde inwoners van Bronkhorstspruit en omliggende gemeenskappe, onder wie baie jong kinders, siek geword het en mediese behandeling benodig nadat hulle aan besmette water blootgestel is.

Hoewel dit in die eerste plek ’n openbaregesondheidskrisis is, is wat tans in Bronkhorstspruit afspeel ook ’n saak van grondwetlike belang. Wanneer besmette water huishoudings bereik en inwoners siek word, word die grondwetlike regte op water, gesondheid, menswaardigheid en ’n omgewing wat nie skadelik is nie, direk geraak.

Die Grondwet waarborg aan elkeen die reg op toegang tot voldoende water en vereis dat munisipaliteite ’n veilige en gesonde omgewing bevorder. Dit vereis ook dat die openbare administrasie verantwoordingspligtig moet wees en dat die regering verantwoordingspligtig, responsief en oop moet wees.

Die feite wat uit Bronkhorstspruit na vore kom, dui op moontlike tekortkominge nie net in die behandeling van water en die instandhouding van kritieke waterinfrastruktuur nie, maar ook op ’n versuim van die owerhede om moontlike risiko’s aan inwoners en die gemeenskap te kommunikeer. Dit is belangrik om daarop te wys dat hierdie krisis beide voorsienbaar en voorkombaar was. In Desember 2025 het die Ouditeur-generaal die Parlement meegedeel dat hy bevind het dat 46% van drinkwaterstelsels nie aan mikrobiologiese veiligheids-standaarde voldoen het nie, 44% nie aan chemiese veiligheids-standaarde voldoen het nie, en 99% van afvalwaterbehandelingsaanlegte nie aan ten minste een uitvloeiselgehaltestandaard voldoen het nie. Die verslag het ook bevind dat infrastruktuurprojekte met gemiddeld 32 maande vertraag is en dat 96% van Waterdienste-owerhede nie aan instandhoudingsnorme voldoen het nie. Hierdie bevindings het daartoe gelei dat die Parlement se Portefeuljekomitee oor Water en Sanitasie die toestand van die sektor as diep kommerwekkend en onaanvaarbaar beskryf het.

Bronkhorstspruit behoort nie as ’n geïsoleerde voorval beskou te word nie, maar as ’n waarskuwing van dieper sistemiese swakhede in Suid-Afrika se waterbestuur. Die Stigting doen ’n beroep op alle sfere van die regering om volle deursigtigheid te verseker rakende die oorsake van die besoedeling, om diegene wat verantwoordelik is aanspreeklik te hou waar wangedrag of nalatigheid vasgestel word, en om die institusionele- en infrastruktuurhervormings te implementeer wat nodig is om die grondwetlike regte van alle Suid-Afrikaners te beskerm. Toegang tot veilige en betroubare drinkwater is nie ’n voorreg nie, maar ’n grondwetlike vereiste.

EINDE

WAAROM DIE BRONKHORSTSPRUIT-WATERKRISIS DIE GRONDWET SKEND

Die FW de Klerk Stigting spreek kommer uit oor die Bronkhorstspruit-waterkrisis en waarsku dat besmette drinkwater grondwetlike regte, openbare gesondheid en menswaardigheid bedreig. Die Stigting doen ’n beroep op deursigtigheid, aanspreeklikheid en dringende hervormings om sistemiese swakhede in Suid-Afrika se waterbestuur en die bestuur van waterinfrastruktuur aan te spreek.

Read More »

KULTUURREGTE MOET PRAKTIESE BETEKENIS HÊ

Kultuurregte kry betekenis wanneer dit in die praktyk verwesenlik word. Die FW de Klerk Stigting se KGT-verslagkaart 2026 ondersoek belangrike ontwikkelings wat kulturele, godsdienstige en taalgemeenskappe raak, van die erkenning van Khoi- en San-gemeenskappe tot kulturele deelname en gebruiklike praktyke.

Read More »

BESKERMING VAN VRYHEID VAN GELOOF IN SUID-AFRIKA

Suid-Afrika se Grondwet beskerm die vryheid van gewete, godsdiens, denke, geloof en mening sterk. Tog het onlangse debat oor die die Kommissie vir KGT-Regte se voorgestelde selfregulerende raamwerk vir die godsdienstige sektor belangrike vrae laat ontstaan oor die verhouding tussen verantwoordbaarheid, godsdienstige outonomie en staatsbetrokkenheid. Hierdie artikel ondersoek die grondwetlike beskerming wat aan geloofsgemeenskappe verleen word, die kontroversie rondom die Artikel 22-proses, en waarom die beskerming van geloofsvryheid noodsaaklik bly vir Suid-Afrika se demokrasie, diversiteit en menseregtekultuur.

Read More »