+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

VERSTERKING VAN SUID-AFRIKA SE RAAMWERK VIR DIE BEKAMPING VAN KORRUPSIE: DIE FW DE KLERK STIGTING DOEN 'N BEROEP OP DIE SKEPPING VAN 'N GRONDWETLIK GESKIKTE TEENKORRUPSIELIGGAAM

Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 12/12/2025

*Hierdie artikel is aanvanklik as ‘n opiniestuk deur Netwerk24 op 20/11/2025 en BizNews op 14/11/2025 onderskeidelik gepubliseer.

Inleiding

Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie word geteister deur die aanhoudende en sistemiese plaag van korrupsie. Ten spyte van talle wette, regulasies, riglyne, ensovoorts, staar Suid-Afrika steeds ‘n volgehoue korrupsiekrisis in die gesig wat die publiek se vertroue in die staat en sy instellings ondermyn het.

In reaksie op die Spesiale Ondersoekeenheid (“SOE”) se uitnodiging vir openbare insette, het die FW de Klerk Stigting sy vertoë ingedien oor die SOE se Konsep Nasionale Korrupsierisiko- en Voorkomingsraamwerk (“die Konsepraamwerk”). Die vertoë het die ongrondwetlikheid van Suid-Afrika se huidige korrupsieraamwerk uitgewys en het op dringende hervormings aangedring.

Die FW de Klerk Stigting handhaaf dat korrupsie die effektiewe funksionering van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie ernstig ondermyn het. Korrupsie het die staat se vermoë om sy grondwetlike plig na te kom om die regte en vryhede van alle Suid-Afrikaners te eerbiedig, beskerm, bevorder en verwesenlik, direk belemmer.

Nie-nakoming van ‘n Konstitusionele Hofbevel

In die Glenister II-saak het die Konstitusionele Hof beslis dat die Grondwet ‘n “dringende plig” op die Staat plaas om ‘n konkrete en effektiewe teenkorrupsieliggaam te stig. Hierdie liggaam moet oor voldoende onafhanklikheid beskik om korrupsie effektief en doeltreffend te voorkom en uit te roei. Die Hof het ook beslis dat die Staat se verpligting om so ‘n liggaam te skep grondwetlik afdwingbaar is.

Veertien jaar ná hierdie mylpaal-uitspraak, het Suid-Afrika steeds nie so ‘n liggaam nie. Die Stigting se indiening beklemtoon dat hierdie versuim ongrondwetlik is. Die kersie op die koek van hierdie versuim is dat die Departement van Justisie nog nie eers die eerste stap geneem het nie – naamlik om ‘n wet op te stel om hierdie liggaam te skep. Die Stigting beskou dit as onredelik en ‘n skending van veelvuldige grondwetlike regte.

 
‘n Kort Oorsig van Suid-Afrika se teenkorrupsieliggame

1. Die Skerpioene:

In 1999, het President Mbeki besluit om ‘n goed toegeruste, multidissiplinêre liggaam te stig om georganiseerde misdaad te bekamp: Die Direktoraat vir Spesiale Operasies, algemeen bekend as die Skerpioene. Die Skerpioene was binne die Nasionale Vervolgingsgesag (“NVG”) geplaas, aangesien vervolging ‘n belangrike deel van die bekamping van georganiseerde misdaad was. Alhoewel dit wêreldwyd uniek was, was die Skerpioene se plasing in die NVG wettig en grondwetlik. Gedurende hul bestaan het die Skerpioene ‘n skuldigbevindingkoers van oor die 90% behaal, wat hul doeltreffendheid bewys het. Tog het die Parlement binne 10 jaar van die Skerpioene se stigting, op 23 Oktober 2008, gestem om hulle te ontbind.

2. Die Valke:

Toe die Parlement gestem het om die Skerpioene te ontbind, het dit besluit om hulle te vervang met die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke, algemeen bekend as die Valke. Anders as die Skerpioene, is die Valke binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens geplaas en het hulle nie werks- of vergoedingsekerheid nie. Die Valke is ook kwesbaar vir politieke inmenging, aangesien hul aktiwiteite deur die Kabinet gekoördineer word. Die Konstitusionele Hof het dus beslis dat die Valke nié die voldoende onafhanklike teenkorrupsieliggaam is wat die Staat verplig is om te skep nie.

Belangrik: In 2022 het die Valke slegs 49,55% van hul vereiste personeel gehad. Hulle het eenvoudig nie die mannekrag om effektief te wees nie.

3. Die (Tydelike) Onafhanklike Direktoraat:

In 2019, 20 jaar nádat President Mbeki die Skerpioene gestig het, het President Ramaphosa die Onafhanklike Direktoraat gestig. Hierdie liggaam was bedoel as ‘n tydelike eenheid binne die NVG om die NVG te bemagtig om komplekse korrupsiesaak te hanteer.

4. Die (Permanente) Direktoraat vir Ondersoek na Korrupsie:

Vyf jaar later, in 2024, is die Onafhanklike Direktoraat omskep in ‘n permanente liggaam binne die NVG en herdoop tot die Direktoraat vir Ondersoek na Korrupsie (“IDAC”). Tog, ten spyte daarvan dat dit nou permanent is, het IDAC in Desember 2024 slegs 22 ondersoekbeamptes gehad. Dit het dus óók nie die mannekrag om effektief te wees nie.


Probleme met die huidige teenkorrupsieliggame

Nóg die Valke nóg IDAC – die liggame wat verantwoordelik is vir die kriminele ondersoek en vervolging van korrupsie – is die voldoende onafhanklike teenkorrupsieliggaam wat die Grondwet vereis. Alhoewel die Valke direk aan die Parlement rapporteer, is hulle nié buite die uitvoerende gesag se beheer nie (sien hierbo). IDAC, aan die ander kant, rapporteer aan die uitvoerende gesag, wat nie aan die Konstitusionele Hof se vereiste van onafhanklikheid voldoen nie – naamlik dat die liggaam búite die beheer van uitvoerende gesag moet wees.

Verder is die huidige teenkorrupsie-argitektuur gefragmenteer en oneffektief: Veelvuldige liggame (die Valke, IDAC, SOE, ens.) deel oorvleuelende mandate, wat lei tot ondoeltreffendheid, gapings en verwarring. Verslagdoeningslyne is ingewikkeld, samewerking is ad hoc, en beide die Valke en IDAC het te min personeel. Hierdie tekortkominge, tesame met swak afdwinging van sanksies, het daartoe gelei dat daar sover nog net een skuldigbevinding was ná die Zondo-kommissie se uitgebreide ondersoek na staatskaping – wat die dringende behoefte aan hervorming van Suid-Afrika se teenkorrupsie-argitektuur beklemtoon.


Voorkoming kan nie handhawing vervang nie

Hoewel die Konsepraamwerk se klem op die voorkoming van korrupsie verwelkom word, het die Stigting beklemtoon dat hierdie fokus op voorkoming nie ten koste van die afdwinging van sanksies mag kom nie. ’n Samelewingswye benadering onthef nie die Staat van sy grondwetlike plig om ’n voldoende onafhanklike teenkorrupsieliggaam buite die beheer van die Uitvoerende Gesag te stig nie. Die Stigting het dus ‘n beroep op die Parlement gedoen om hierdie liggaam te skep en te verseker dat dit oor die nodige personeel, ensovoorts, beskik om korrupsie doeltreffend te beveg.

Die Stigting het ook die Parlement versoek om wetgewing aan te neem om:

  1. Te verseker dat vonnisse vir korrupsie nie opgeskort kan word nie;
  2. Lewenslange verbod op individue wat aan korrupsie skuldig bevind is om openbare amp te beklee of aan staatskontrakte deel te neem;
  3. Lede van die Parlement (“LP’s”) te beskerm teen die verlies van hul party-lidmaatskap (en gevolglik hul setels in die Parlement) wanneer hulle hul pligte uitvoer om toesig oor die Uitvoerende Gesag te hou;
  4. Die Uitvoerende Gesag te verplig om enige tekortkominge of foute wat deur die Parlement uitgewys word, reg te stel; en
  5. Te belê in omvattende opleidingsprogramme, hulpbronne, opgeleide navorsers en tegniese bystand om te verseker dat LP’s die Uitvoerende Gesag effektief kan moniteer en aanspreeklik hou. Die Stigting het voorgestel dat die Parlement innoverende oplossings ondersoek om dit te doen, byvoorbeeld deur gebruik te maak van KI wat wette kan opsom, beleidsimpakte kan ontleed en internasionale beste praktyke kan identifiseer.

 

Die Parlement moet aanspreeklik gehou word

Die Stigting het uitgewys dat die SOE se Konsepraamwerk nie die Parlement as ‘n kwesbare sektor insluit nie, ten spyte van die Zondo-kommissie wat uitgewys het dat die Parlement versuim het om die Uitvoerende Gesag tydens staatskaping tot verantwoording te roep.

Die Stigting het dus die SOE versoek om die Konsepraamwerk te wysig om die Parlement as een van die geïdentifiseerde kwesbare sektore in te sluit en om effektiewe risikobestuursstrategieë aan die Parlement voor te stel vir oorweging.


’n Openbare Platform vir Deursigtigheid

Ten einde aanspreeklikheid te bevorder, het die Stigting aanbeveel dat die SOE ‘n openbare aanlyn platform met regstreekse moniteringsvermoëns skep. Hierdie platform kan:

  1. Korrupsie-rapporteringskanale konsolideer;
  2. Verkrygingsprosesse in reële tyd moniteer;
  3. Staatsverliese as gevolg van korrupsie kwantifiseer en vertoon;
  4. Ondersoeke en die afdwinging van gevolge vir korrupsie naspoor; en
  5. Teruggevorderde fondse kwantifiseer en naspoor.

So ’n hulpmiddel sal burgers bemagtig, parlementêre toesig ondersteun en openbare vertroue in regering herstel.


Slot

Die Staat se aanhoudende versuim om ’n werklik onafhanklike en effektiewe teenkorrupsieliggaam te stig, soos deur die Konstitusionele Hof voorgeskryf, ondermyn steeds die openbare vertroue en die oppergesag van die reg. Die FW de Klerk Stigting se vertoë wys die tekortkominge van die huidige teenkorrupsieliggame duidelik uit en doen ’n dringende beroep op hervormings wat nakoming van die Grondwet en die Hof se bevel prioritiseer. ’n Samehangende en grondwetlik gesonde teenkorrupsiestrategie is nie net ’n wetlike vereiste nie, dit is ’n grondslagselement van demokratiese aanspreeklikheid en openbare vertroue.