Die Grondwet maak voorsiening vir sekere maatstawwe vir die aanstelling van regters: Eerstens bepaal artikel 174(1) dat “[e]nige toepaslik gekwalifiseerde vrou of man wat ’n geskikte en gepaste persoon is, as ‘n regterlike beampte aangestel [kan] word. Iemand wat in die Konstitusionele Hof aangestel staan te word moet daarbenewens ‘n Suid-Afrikaanse burger wees.” Tweedens bepaal artikel 174(2) dat “[d]ie behoefte dat die regbank in die breë die rasse- en geslagsamestelling van Suid-Afrika weerspieël, in aanmerking geneem [moet] word wanneer regterlike beamptes aangestel word.” Voorts bepaal artikel 174(6) dat “Die President die regters van alle ander howe op advies van die Regterlike Dienskommissie [moet] aanstel.” Alhoewel die Grondwet vereis dat die regbank in die breë verteenwoordigend moet wees, het die RDK se uitleg van artikel 174(2) tot die gevolg gehad dat die Kommissie te veel klem plaas op “die transformasie” van die regbank en sy denkwyse, en nie genoeg op die aanstelling van die mees geskikte en gepaste kandidate as regters nie. In hierdie verband het die SGR voorheen, as amicus curiae in beide die Cape Bar Council v the Judicial Service Commission and Another, sowel as die daaropvolgende appèlaansoek, aangevoer dat die RDK se uitleg van 174(1) en 174(2) - en veral die gewig wat dit aan die bepalings van artikel 174(2) toeken - verkeerd is.
In die konteks van die oppergesag van die reg en die bewoording van artikels 174(1) en 174(2), is laasgenoemde artikel duidelik onderhewig aan artikel 174(1). Dus is ras en geslag nie op sig self maatstawwe wat die aanstelling van ’n toepaslik gekwalifiseerde, gepaste en geskikte persoon kwalifiseer of diskwalifiseer nie. Die RDK verskil klaarblyklik hiermee - ten koste van gekwalifiseerde, hoogs ervare en kundige kandidate, soms ongeag hul ras of geslag. Dit opper die regmatige vraag: Watter maatstawwe gebruik die RDK om kandidate vir regterlike aanstellings aan te beveel?
Die regbank moet ongetwyfeld die rasse- en geslagsamestelling van ons samelewing in die algemeen weerspieël, en die RDK moet daarna streef om die samelewing se ambisie om sodanige werklike gelykheid te bereik, te weerspieël. Die Grondwet vereis egter nie van die regbank om die demografie van Suid-Afrika in getalle te weerspieël nie en dit verleen nie aan die RDK magte om sodanige samestelling na te jaag nie. Tensy die bepalings van artikel 174(1) die oorwegende maatstaf vir die aanstellings van regters is, kan ons op die ou einde, as ons gelukkig is, op eindig met ’n regbank wat ontneem is van ervaring, kennis en verstandhouding van die reg, en as ons nie so gelukkig is nie, ’n regbank met ’n gebrek aan onafhanklike denke. Hoe gouer die hof - en uiteindelik die Grondwetlike Hof - duidelikheid oor hierdie belangrike aangeleentheid kan bied, hoe beter.
By Adv Johan Kruger, Director: Centre for Constitutional Rights