Ons vier ons Grondwet en daardie grondwetlike waardes, regte en beginsels wat bevestig dat Suid-Afrika aan almal behoort wat daarin woon, verenig in ons diversiteit. Ons is egter diep bekommerd oor ’n toenemende vyandigheid in die samelewing wat aangevuur word deur rassisme, rassistiese optrede deur individue, onverskilligheid, minagting, aanspraakmaking en verwyt, wat dikwels verder deur politici en die media om hul eie onderskeie redes aangevuur word.
As ’n samelewing moet ons dit wat in ons land verkeerd gaan, aanpak, maar ons moet dit op die grondslag van wedersydse respek doen. Ons hoef nie met mekaar saam te stem oor hoe om dit wat verkeerd is, op te los nie, of oor wie die beste mense of party is om dit op te los nie – dit is immers waaroor demokrasie gaan. Ons moet egter ooreenstem om te verskil binne die raamwerk van waardigheid – van wedersydse respek. Ons besef nou dat die manier waarop ons mekaar in ons daaglikse lewens behandel – wat ons sê en wat ons doen en hoe ons dit sê en doen – ’n uitwerking het op ons samelewing en maatskaplike samehorigheid in die geheel. Ons moet ook verstaan dat maatskaplike samehorigheid nie ’n funksie van die regering (wie se optrede ten beste eenheid kan bevorder en op sy slegste dit kan vernietig) is nie. Die verwesenliking van maatskaplike samehorigheid en wedersydse respek is in ons as individue se hande. Ongelukkig beïnvloed die ongeregtighede van ons verlede en aanhoudende maatskaplike en politieke probleme hoe Suid-Afrikaners mekaar sien, wat dikwels daartoe lei dat mense nie mekaar meer sien as mense nie, maar eerder as produkte van hul eie vooroordeel.
Die Grondwet het ten doel om die verdeeldheid van die verlede te genees deur die grondslag daar te stel vir ’n demokratiese en oop samelewing waarin die regering gebaseer is op die wil van die mense en waar elke burger gelyke beskerming deur die reg geniet. Dit het ten doel om die lewensgehalte van alle burgers te verbeter en om die potensiaal van elke persoon te ontsluit in ’n samelewing wat gebaseer is op demokratiese waardes, maatskaplike samehorigheid en fundamentele menseregte. Dit het kortliks ten doel om ’n verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat gebaseer is op die waardes van menswaardigheid, die behaling van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme, die oppergesag van die Grondwet en die reg, die reg om te stem en ’n veelpartystelsel van demokratiese regering wat verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid tot gevolg sal hê. Die Grondwet pas egter nie homself toe nie. Dit bied slegs die raamwerk en die reëls waarvolgens almal in Suid-Afrika lewe en betekenis moet verleen aan die soort samelewing wat in die Grondwet verskans word.
Ten einde vir ons om die verdeeldheid van die verlede te genees en só ’n samelewing te bou – ’n samelewing en ’n Suid-Afrika wat verenig is in sy diversiteit – moet ons mekaar met wedersydse respek behandel; of dit in die politiek, ons professionele lewens of ons sosiale skakeling met mekaar is. Ons moet ons vooroordele opsy sit en begin om betekenisvolle en gelyke verhoudings met diegene om ons te vorm. Ons moet luister na en leer van mekaar, en ons moet werklike gesprekke met mekaar voer. Elkeen van ons moet dit egter doen met onvoorwaardelike respek vir mekaar. Sonder wedersydse respek sal eenheid in diversiteit net ’n frase in die Voorrede van ons Grondwet bly.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: fmgbain / Foter / CC BY-NC-ND
Vir navrae oor verklaring:
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: tjkruger@cfcr.org.za
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622