Artikel 27 van die Grondwet bepaal dat elkeen die reg het op gesondheidsorgdienste en dat niemand mediese noodbehandeling geweier mag word nie. Die staat moet, volgens hierdie bepaling, redelike wetgewende en ander maatreëls tref om binne sy beskikbare middele hierdie reg in toenemende mate te verwesenlik – met die klem op “verwesenlik”. Daarbenewens vereis artikel 195 van die Grondwet dat openbare administrasie (wat daardie staatsdepartemente en staatsamptenare insluit wat vir gesondheidsorg verantwoordelik is) om:
- ‘n hoë standaard van beroepsetiek te bevorder en handhaaf.
- die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne te bevorder.
- ontwikkelingsgerig te wees.
- dienste onpartydig, regverdig, op billike grondslag en sonder vooroordeel te lewer.
- aandag aan mense se behoeftes te gee, en om die publiek aan te moedig om aan beleidvorming deel te neem.
- verantwoordingspligtig te wees.
- deursigtigheid te bevorder deur die publiek van tydige, toeganklike en korrekte inligting te voorsien.
- bekwame bestuur van menslike hulpbronne en geskikte loopbaanontwikkelingspraktyke te ontwikkel word ten einde menslike potensiaal tot die maksimum te ontsluit.
- in die breë verteenwoordigend te wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.
In 2008 het die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ‘n intensiewe landwye ondersoek ingestel na gesondheidsorgdienste in Suid-Afrika. Dit het bevind dat daar ‘n wye reeks sistemiese, landwye tekortkominge in die openbare gesondheidsorgstelsel is en het onder andere aan die nasionale Departement van Gesondheid aanbevelings gemaak dat die regering:
a. Vaardigheidsoudits van senior bestuur moet uitvoer en toepaslike maatreëls, soos opleiding en bewusmakingsveldtogte, moet instel om senior personeel te bemagtig;
b. Toepaslike infrastruktuur vir die openbare gesondheidstelsel moet instel sodat dit optimaal kan funksioneer; en
c. Finansiering aan openbare gesondheidsinstellings beskikbaar moet stel, veral in landelike dele van die land.
In Desember 2013 het die SAMRK in ‘n verslag oor die stand van hospitale in Mpumalanga (waarin daar bevind is dat verskeie hospitale in kritieke toestand is, met die gevolg dat die reg op toegang tot gesondheidsdienste geskend word) verklaar dat die regering versuim het om op pro-aktiewe wyse op sy aanbevelings in die verslag van 2008 te reageer.
Die SAMRK het onlangs verhore oor die stand van openbare gesondheidsdienste in die Oos-Kaap afgehandel (waarvan die bevindings in die nasionale verhore wat vir later vanjaar geskeduleer is om Suid-Afrika se toegang tot die reg op gesondheidsorg te ondersoek, ter sprake sal wees) en na aanleiding van die getuienis wat deur die SAMRK aangehoor is, moet die Oos-Kaap nie ‘n klop op die skouer verwag nie.
Daarbenewens is die oudit van nasionale gesondheidsorgfasiliteite in 2013 gepubliseer en het bevind dat van 3 880 gesondheidsfasiliteite van die staat wat in Suid-Afrika geoudit is, die gemiddeld vir belangrike maatreëls in ses prioriteitsgebiede soos pasiëntgerigte sorg, 48% was. Hierdie ses prioriteitsgebiede is uitgewys as positiwiteit en omgee (30%), wagtydperke (68%), netheid (50%), veiligheid en sekuriteit van pasiënte (34%), voorkoming en beheer van infeksie (50%) en die beskikbaarheid van medisyne en voorraad (54%). Die Oudit het ook daarop gewys dat die stand van fisiese infrastruktuur ‘n reuse uitwerking het op die funksionering van dienste en tevredenheid van kliënte en het daarop gewys dat ten einde die behoeftes verbonde aan die bestuur van fasiliteitinfrastruktuur te verbeter, veral op primêre gesondheidsorgvlak, aandag geskenk moet word aan daardie fasiliteite wat ten tyde van die oudit nie oor water en elektrisiteit beskik het nie.
Openbare gesondheidsorgfasiliteite en -dienste, veral in die Vrystaat, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal, was in die onlangse weke weer in die nuus om al die verkeerde redes. Die onvermoë van nasionale en provinsiale regerings om openbare gesondheidsorg te bestuur kragtens die grondwetlike waardes en beginsels soos deur artikel 195 in die Grondwet vereis word, blyk om aan die kern van die probleem te wees. Die gevolg is ‘n skending van die reg op toegang tot gesondheidsorg, die reg op waardigheid, en ongelukkig ook die reg op lewe. Tensy die nasionale en provinsiale regerings nou openbare gesondheidsorgfasiliteite en -dienste regstel, sal hierdie ernstige menseregteskendings voortduur. Daarvan kan jy seker wees.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: Monash University / Foter / CC BY-NC