Die Wet, wat op 2 Mei 2013 gepromulgeer is, is aangeneem om die gebruik van amptelike tale deur die nasionale regering te reguleer, soos deur artikel 6 van die Grondwet vereis word, en wat van alle nasionale departemente, nasionale staatsinstellings en nasionale openbare ondernemings vereis om amptelike taalbeleide binne 18 maande vanaf die inwerkingtreding van die Wet te aanvaar.
Tydens ’n onlangse inligtingsessie aan die parlementêre Portefeuljekomitee oor Kuns en Kultuur het die Departement van Kuns en Kultuur (DKK) egter aangedui dat nie ’n enkele nasionale departement nie, en slegs ’n handjievol nasionale instellings en ondernemings, die Wet teen 2 November 2014 – die sperdatum vir inwerkingstelling – nagekom het.
Artikel 6 van die Grondwet maak voorsiening vir 11 amptelike tale. Hierdie artikel erken ook die verminderde gebruik en status van inheemse tale en vereis van die Staat om “praktiese en positiewe maatreëls” in te stel om die status te verhoog en ook om die gebruik van inheemse tale te bevorder. Desnieteenstaande vereis artikel 6(4) dat alle amptelike tale gelykheid van aansien moet geniet en billik behandel moet word, en dat die nasionale regering sy gebruik van amptelike tale moet reguleer en monitor deur wetgewende en ander maatreëls om dit te verseker.
Die Wet is só ’n wetgewende maatreël, met die doelwit om die gebruik van amptelike tale vir regeringsdoeleindes deur die nasionale regering te reguleer en monitor; om billike toegang tot dienste en inligting van die nasionale regering te bevorder; en om goeie taalbestuur deur die nasionale regering te bevorder om doeltreffende staatsdiensadministrasie te verseker en om aan die behoeftes van die publiek te voldoen.
Gevolglik vereis die Wet dat nasionale departemente, instellings en ondernemings ’n taalbeleid aanvaar waarin hulle, onder andere, drie amptelike tale moet aanwys vir regeringsdoeleindes. Dit vereis ook van hulle om aan te dui hoe die amptelike tale gebruik sal word om, onder andere, doeltreffend te kommunikeer betreffende die publiek, amptelike kennisgewings, regeringspublikasies en ander kommunikasie in en tussen regerings. Selfs meer belangrik vereis die Wet dat hierdie staatsorgane in hul onderskeie beleide moet beskryf hoe hulle doeltreffend met lede van die publiek sal kommunikeer wie se taal van keuse nie een van die drie amptelike tale is wat deur die spesifieke departement, instelling of ondernemings aangewys is nie.
Die Minister is daarvoor verantwoordelik om die gebruik van amptelike tale deur die nasionale regering, nasionale openbare instellings en nasionale openbare ondernemings te monitor. Gevolglik moet elke nasionale departement, nasionale staatsinstelling en nasionale openbare onderneming jaarliks ’n verslag by die Minister en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) indien oor die aktiwiteite van sy taaleenheid; die inwerkingstelling van sy taalbeleid; en enige klagtes wat ontvang is betreffende die gebruik van amptelike tale en die wyse waarop hierdie klagtes aangespreek is. Die Minister moet jaarliks ’n verslag in die Nasionale Vergadering indien oor die stand en gebruik van amptelike tale deur die nasionale regering vir regeringsdoeleindes en oor enige vrystelling wat aan ’n nasionale openbare instelling en nasionale openbare onderneming kragtens artikel 12 verleen is. Na aanleiding van die DKK se onlangse inligtingsessie aan die Parlement is dit egter duidelik dat die meeste nasionale staatsorgane nie die Wet ernstig opneem nie.
Ter verdediging het die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthethwa, gesê dat hy diep bekommerd is oor die stadige inwerkingstelling van hierdie wet. Hy het, kragtens die Wet, die sperdatum vir taalbeleide om aanvaar te word tot 2 Mei 2015 uitgestel, onderhewig aan die voorwaardes wat hy in ’n statusverslag van elke departement, instelling en onderneming teen 30 Januarie 2015 ontvang; dat taalbeleide teen 31 Maart 2014 in die Staatskoerant gepubliseer word vir kommentaar deur die publiek; en dat alle taalbeleide teen 2 Mei 2015 aanvaar is. Die Minister het ook gewaarsku dat die nie-nakoming gesien sal word as die regering wat nie daarin slaag om sy eie regulasies in werking te stel nie. Daarbenewens het hy daarop gewys dat ’n gebrek aan nakoming sal lei tot ouditnavrae aangesien dit deur die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika beskou sal word as die nie-nakoming van regeringswetgewing en -regulasies.
Afgesien van die Minister se ooglopende verantwoordelikhede kragtens die Wet, het die Portefeuljekomitee oor Kuns en Kultuur ’n belangrike rol om in dié aangeleentheid te speel. Die Parlement het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat die nasionale uitvoerende gesag en alle nasionale staatsorgane aan hom verantwoording doen – veral betreffende die versuim om aan die Grondwet en wetgewing te voldoen. Enige verdere versuim deur staatsorgane om die Wet of die Minister se hersiene tydraamwerke en sperdatums na te kom moet tot gevolg hê dat die Portefeuljekomitee ernstige stappe neem teen die tersaaklike staatsorgane en die betrokke Ministers.
Die belangrikheid van taal is oogeenlopend. Dit weerspieël die diversiteit van Suid-Afrika; dit spreek tot die erkenning van die verlede en die erkenning van ’n verenigde toekoms in Suid-Afrika wat aan almal behoort wat daarin woon. Taal, in konteks van staatsorgane, hou direk verband met responsiewe en deursigtige openbare administrasie, met doeltreffende dienslewering en toegang tot inligting. Trouens, die gebruik van amptelike tale deur staatsorgane is so belangrik dat die opstellers van die Grondwet dit nodig geag het om dit by die grondliggende bepalings van die Grondwet in te sluit. Versuim deur nasionale staatsorgane om aan die Wet te voldoen het nie net ’n uitwerking op doeltreffende dienslewering nie, maar ondermyn ook ’n grondliggende bepaling van die Grondwet.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte