Hierdie saak waar die Konstitusionele Hof – ten gunste van die SA Polisiediens (SAPD) – ’n appèl teen die beslissing van die Appèlhof gehandhaaf het, bied broodnodige verdere duidelikheid oor die uitleg en toepassing van artikel 9 van die Grondwet. Alhoewel die beslissing beslis ’n behoorlike evaluering en verdere bespreking regverdig, is dit belangrik om daarop te let dat die Hof op hierdie stadium die transformatiewe aard van die Grondwet herbevestig het en verdere duidelikheid oor die toepassing van herstelmaatreëls daargestel het.
Herstelmaatreëls soos deur die Grondwet vereis word moet teen ander regte gebalanseer word, met inbegrip van die reg op waardigheid en gelykheid. Gevolglik moet sodanige maatreëls “nie die menswaardigheid van diegene wat daardeur geraak word op onbehoorlike wyse aantas indien ons werklik ’n nie-rassige, nie-seksistiese en maatskaplik inklusiewe samelewing wil behaal nie”. Die Hof het daarop gewys dat stappe wat gedoen word om wesenlike gelykheid te bevorder, nie diegene mag uitsluit wat self voorheen benadeel is ten gunste van een groep voorheen benadeelde mense nie.
Die uiteindelike doelwit van regstellende maatreëls kragtens die Grondwet is om ons aan te spoor tot ’n meer gelyke en regverdige samelewing wat hopelik nie-rassig, nie-seksisties en maatskaplik inklusief is. Hierdie maatreëls het, volgens die Hof, ook nie ten doel om te straf of om vergeldend te wees nie.
Afgesien van herstelmaatreëls wat op só ’n wyse ingestel moet word dat dit die posisie van mense teen wie in die verlede gediskrimineer is, bevorder, het die Hof daarop gewys dat sodanige maatreëls alleen nie maatskaplike gelykheid sal bevorder nie: “’n Maatskaplike inklusiewe samelewing wat deur die Grondwet in die vooruitsig gestel word is ’n funksie van ’n goeie demokratiese staat, aan die een kant, en die individuele en gesamentlike mag van sy burgers aan die ander kant.” Gevolglik vereis dit ’n staat wat oor verantwoordingspligtigheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid beskik – veral ten opsigte van die gebruik van redelike openbare bronne ten einde wesenlike gelykheid te behaal en die instelling van “redelike, onmiddellike en doeltreffende maatreëls om die sosio-ekonomiese behoeftes van almal te verwesenlik, veral die weerloses”. In hierdie verband wys die Hof daarop dat dit wys sal wees vir ons openbare verteenwoordigers om ’n hoë waarde te heg aan die eerlike, doeltreffende en ekonomiese gebruik van ons openbare bronne. Die behaling van wesenlike gelykheid vereis natuurlik ook van al die mense van Suid-Afrika om hulle te verbind tot die waardes van gelykheid, nie-rassigheid en nie-seksisme – veral in ’n persoonlike en individuele hoedanigheid.
Op ’n baie belangrike punt het die Hof daarop gewys dat diegene wat deur regstellende aksie bevoordeel word, wel in staat moet wees om die werk te kan doen: “Hulle moet toepaslik gekwalifiseerde mense wees sodat doeltreffendheid en vermoë nie op die altaar van remediërende indiensneming geoffer word nie…eenvoudig gestel is dit ’n belangrike doelwit van gelykheid om mense in diens te neem en te behou wat nie net tot diversiteit bydra nie, maar wat ook bevoeg en doeltreffend is betreffende die lewering van goedere en dienste aan die publiek.”
Herstellende geregtigheid en remediërende maatreëls is aan die kern van die behaling van gelykheid in Suid-Afrika soos deur die Grondwet vereis word. Dit is egter ’n emosionele onderwerp. Dit is as gevolg van ons geskiedenis van diskriminasie op grond van ras en ander gronde, die uitwerking van remediërende maatreëls op diegene wat vandag uitgesluit voel, maar dit is ook weens die heersende ongelykheid in die samelewing oor die algemeen. Regstellende aksie is ’n onderwerp wat, soos uitgewys deur die Hof, met die idee van diskriminasie op grond van ras verbind word, sowel as met die gebrek aan dienslewering, maar ook aan moontlike politieke misbruik (indien die regerende party se beleid van sogenaamde kaderontplooiing in oorweging geneem word). Die belangrikheid van die Konstitusionele Hof se verduideliking van onsekerhede en die leiding wat dit bied betreffende die begrip van hoe regstellende aksie op ’n gebalanseerde wyse toegepas moet word soos deur die Grondwet vereis word, is nie net tot die gebied van prokureurs beperk nie. Dit het ook betrekking op die gewone verhoudings in die samelewing en op watter uitwerking hierdie maatreëls en die wyse waarop dit ingestel word op gemeenskaplike respek, vertroue en eenheid in Suid-Afrika sal hê.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
[Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND]