Die aankondiging oor die ondersoek, wat kragtens die Wet op Toesig oor Intelligensiedienste uitgevoer sal word, volg op mediaberigte oor verskeie beweerde aktiwiteite – van wangedrag tot moontlik onwettige bedrywighede – deur lede van die SVA. Hierdie aktiwiteite blyk ook om na bewering die ondermyning van ander staatsorgane ingesluit, met inbegrip van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).
Kragtens artikel 198 van die Grondwet moet nasionale veiligheid en alle aktiwiteite van die intelligensiedienste nagestreef word in ooreenstemming met die reg, met inbegrip van die volkereg. Daarbenewens moet die veiligheidsdienste, ingevolge artikel 199, “optree, en moet hul lede oplei en van hulle vereis om op te tree, ooreenkomstig die Grondwet en die reg” en mag hulle nie in die uitvoering van hul pligte enige partypolitieke belang benadeel of enige politieke party se belang bevorder nie.
Artikel 198 bepaal ook dat nasionale veiligheid en die veiligheidsdienste onderworpe is aan die gesag van die Parlement en die nasionale uitvoerende gesag. Gevolglik beskik die Minister oor die politieke en uitvoerende verantwoordelikheid vir die beheer en leiding van die SVA. Dit is dus baie belangrik dat die Minister, by wyse van die IGI, vasstel wat die feite agter die bewerings is, en ook of beheer en leiding in die tersaaklike eenheid of eenhede verbrokkel het. Dit is net so belangrik dat die Parlement se Gesamentlike Staande Komitee oor Intelligensie (GSKI), wat uit verskeie partye bestaan, sy eie ondersoek en verhore instel in ooreenstemming met sy grondwetlike plig om oor die SVA toesig uit te oefen.
Die GSKI se bedrywighede vind egter ongelukkig in die geheim plaas. Dit stel nie enige verslae aan die publiek bekend nie (nie eens oor of die vereiste vergaderings plaasgevind het of nie) en dit hou nooit openbare verhore betreffende die stand van intelligensie en toesighouding ten opsigte van intelligensie in Suid-Afrika nie. Die publiek kan dus nie veel meer doen as om te hoop en vertrou dat hul verkose verteenwoordigers wel hul werk doen, en dit doeltreffend doen in die belang van die mense van Suid-Afrika nie. Gegewe die feit dat die GSKI nie eens sy vereiste jaarverslae in die Nasionale Vergadering ter tafel lê nie, is die publiek met reg bekommerd oor die stand van intelligensie, maar ook oor die toesighouding oor intelligensiestrukture en hul aktiwiteite.
Dit is dalk hoog tyd dat die GSKI sy werksmetode betreffende sy skakeling met die publiek wysig. Dit is ook dalk tyd om te oorweeg of, in die belang van verbeterde verantwoordbaarheid, dit nie meer gepas sal wees indien die GSKI – soos die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge – ’n lid van een van die kleiner opposisiepartye as voorsitter het nie.
Intelligensiestrukture, hul aktiwiteite en hul vele professionele en toegewyde lede verrig ’n uiters belangrike funksie in die strategiese beleidmakingsproses, inisiatiewe betreffende proaktiewe nasionale veiligheid en internasionale betrekkinge en aangeleenthede met betrekking tot bedryfsveiligheid. Geheimhouding is noodsaaklik vir hierdie dienste en vir hul lede om hul bedrywighede suksesvol uit te voer. Weens die noodsaaklikheid van geheimhouding om bedrywighede uit te voer, het hierdie strukture en hul lede die vermoë om grondwetlike waardes, regte en beginsels op onregverdigbare en onwettige wyse te ondermyn sonder dat iemand dit agterkom – of dit eers agterkom nadat demokratiese en grondwetlike waardes en beginsels ondermyn is. Dit is dus uiters belangrik dat intelligensiestrukture en -aktiwiteite onderworpe is aan die grondwetlike waardes van verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid, in só ’n mate dat doeltreffende beheer en toesighouding die integriteit van dié strukture en die vertroue van die mense van Suid-Afrika, namens wie die intelligensiedienste hul bedrywighede moet uitvoer – verseker.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: GovernmentZA /Foter / Creative Commons Attribution-NoDerivs 2.0 Generic (CC BY-ND 2.0)