Die beslissing, wat in wese artikel 11 van die Wet op Bevoegdhede, Voorregte en Immuniteite van die Parlement en Provinsiale Wetgewers (die Wet) strydig met die Grondwet verklaar, herinner politici aan wat die skeiding van magte en vryheid van spraak, in die konteks van ons Grondwet, werklik behels. Die beslissing bevestig ook die belangrikheid van vryheid van spraak in die Parlement as fundamentele waarde waarvolgens lede van die Parlement hul grondwetlike pligte moet uitvoer.

Die Nasionale Vergadering word verkies om die mense te verteenwoordig en om regering deur die mense ingevolge die Grondwet te verseker. Gevolglik moet die Nasionale Vergadering voorsiening maak vir ’n nasionale forum vir openbare debat en moet verseker dat elke staatsamptenaar – van die President tot ’n poskantoorklerk – aan die Parlement verslag doen en deur die Parlement gestraf kan word indien hy of sy versuim om dit te doen. Om hierdie rede beskerm die Grondwet kragtens artikel 58(1)(b) en 71(1)(b) lede van die Parlement met betrekking tot hierdie verpligtinge. Dit waarborg vryheid van spraak in die Nasionale Vergadering, die NRVP en hul onderskeie komitees, en bepaal dat lede nie aan siviele of kriminele verrigtinge onderwerp kan word, in hegtenis geneem kan word, tot tronkstraf gevonnis kan word of vir skade verantwoordelik gehou kan word vir enige iets wat hulle in die Nasionale Vergadering, die NRVP of enige van hul komitees gesê, gedoen of voorgelê het nie.

Gedurende ’n gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die NRVP vir die President se jaarlikse staatsrede, het die Speaker van die Nasionale Vergadering en die Voorsitter van die NRVP gesteun op artikel 11 van die Wet om lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) uit die Huis te verwyder. In hierdie verband het die voorsittende beamptes lede van die SA Polisiediens (SAPD) en veiligheidsdiens van die Parlement gevra om lede van die EVV te verwyder nadat hulle verskeie vrae aan die President gestel het en versuim het om die instruksies van die Speaker en die Voorsitter na te kom. Die DA het gevolglik die Hof genader om die grondwetlikheid van artikel 11 te bevraagteken.

Gevolglik het Regter Andre le Grange verklaar dat alhoewel die Parlement geregtig is daarop om sy eie sake te behartig, die privilegie van vryheid van spraak belangrik is vir die Parlement om sy funksie uit te voer om debat toe te laat oor aangeleenthede van openbare belang. Hy het gevolglik aangevoer dat artikel 11 van die Wet strydig is met die Grondwet en ongeldig is aangesien dit toelaat dat ’n Lid in hegtenis geneem kan word vir optrede wat deur artikel 58(1)(b) en 71(1)(b) van die Grondwet beskerm word, maar hy het die bevel vir 12 maande opgeskort om die Parlement in staat te stel om hierdie tekortkoming reg te stel. In ooreenstemming met artikel 167(5) van die Grondwet is die bevel betreffende grondwetlike ongeldigheid ook na die Konstitusionele Hof verwys vir bevestiging. In hierdie geval sal die Konstitusionele Hof heel moontlik met die Hoë Hof saamstem.

Afgesien van die ooglopende grondwetlike beperkings in die Wet, is die werklike probleem steeds dat die regerende alliansie, en dus die Speaker en Voorsitter, bepaal in watter mate die Parlement deelneem aan debat en hoe hy sy toesighoudende plig uitvoer. Wanneer ’n meerderheidsmentaliteit dus behoorlike debat onderdruk en doeltreffende toesighouding beperk tot lippediens, het die opposisiepartye ’n reg om gefrustreerd te wees. In sulke gevalle het hulle ongelukkig geen ander keuse as om die dikwels subjektiewe en foutiewe beslissings deur die Speaker en Voorsitter te verontagsaam nie. Die reg om vrylik te praat en  die oortuiging om met integriteit op te tree is wat ’n regering maak wat verantwoordbaar, responsief en oop is. Gevolglik was die feit dat die Speaker en Voorsitter op die Wet gesteun het om ’n opposisieparty stil te maak en te verwyder nie aanvaarbaar of regverdigbaar in ’n oop en demokratiese samelewing nie. Dit is strydig met die waardes en fundamentele vryhede waarop ons grondwetlike demokrasie gegrond is. Die Speaker en Voorsitter moet daaraan herinner word dat ons veelpartystelsel van demokratiese regering ontwerp is om te verseker dat die stemloses gehoor word, en dat diegene van ons wat, indien ons ’n keuse gegee sou word, sou verkies om nie aandag te skenk aan die menings van die gemarginaliseerdes of magtelose minderhede nie, sal luister.

Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: GovernmentZA / Patio Furniture / CC BY-ND

Leave a Reply

Your email address will not be published.