Die saak het betrekking op die Stad Kaapstad se appélaansoek teen ‘n bevel van die Wes-Kaapse afdeling van die Hoë Hof, wat die publikasie van sekere inligting beperk wat verband hou met ‘n hersieningsaansoek teen besluite wat deur die SA Nasionale Padagentskap Bpk (SANPAB) geneem is. Kragtens laasgenoemde bevel (wat gesteun het op die “geïmpliseerde onderneming”-reël) het die Hoë Hof verhoed dat die tersaaklike inligting gepubliseer word – tensy dit deur SANPAB of die Hof goedgekeur is – totdat die aansoek om hersiening aangehoor is.

Die Appèlhof het gevolglik die Hoë Hof se bevel ter syde gestel en het daarop gelet dat dit inbreuk maak op ’n oop samelewing deur die publiek en die media te verhoed om hofverrigtinge te ondersoek voordat die aangeleentheid aangehoor word. Die Appèlhof het ook bevind dat die “geïmpliseerde onderneming”-reël nie deel vorm van Suid-Afrikaanse reg nie en dat die Hoë Hof se uitleg van Reël 62(7) van die Eenvormige Hofreëls verskeie grondwetlike regte wat oorvleuel of met mekaar verband hou, ondermyn, naamlik: (a) die regte van litigante op ’n openbare verhoor in beide siviele en strafregtelike sake; (b) die reg van die publiek op oop geregtigheid; (c) die reg van almal op toegang tot inligting; (d) die reg van ’n litigant op vryheid van uitdrukking; en (e) die media se reg om oor hofverrigtinge verslag te doen. Die Appèlhof het voorts aangevoer dat, in hierdie spesifieke saak, die aandrang op geregtigheid met besonderse krag ontstaan as gevolg van wat in die hersieningsverrigtinge ter sprake is.

Wat ter sprake is is natuurlik hoe SANPAB (as staatsorgaan soos gedefinieer deur artikel 239 van die Grondwet) sy besigheid bedryf. Hierdie saak kyk egter in wese na baie meer as net SANPAB se besigheid of ’n foutiewe besluit deur die Hoë Hof. Dit het te make met die voortdurend toenemende neiging van die regering en staatsorgane (met inbegrip van openbare ondernemings) – en ongelukkig ook die Parlement – om op geheimhouding te steun as instrument van staatsbestuur. Gevolglik weerspieël hierdie saak hoe ons howe geheimhouding en diegene wat sonder rede daarop staatmaak, beoordeel. Dit herbevestig presendente wat deur die Konstitusionele Hof daargestel is betreffende openheid, die reg op vryheid van uitdrukking, die reg op toegang tot inligting en die reg op ’n regverdige verhoor in ’n ope hof.

Die Appèlhof het weer eens die Grondwet se vereiste van openheid in plaas van geheimhouding bevestig. Dit het voorts die Konstitusionele Hof se besluit betreffende die Independent Newspapers-saak beklemtoon om ’n benadering wat uit geheimhouding spruit, af te keur – selfs waar inligting regmatig as vertroulik in belang van nasionale veiligheid verklaar is. Meer belangrik nog het die Appèlhof verklaar dat geheimhouding die teenoorgestelde is van verantwoordbaarheid. Dit verhoed dat die publiek weet watter besluit gemaak is, waarom dit gemaak is en of dit regverdigbaar is. Volgens die Appèlhof sal die omstredenheid in die geval van SANPAB verdiep indien daardie instelling uiteindelik daarin sou slaag dat die hiersieningsaansoek na afloop van ’n gedeeltelik geheime verhoor van die hand gewys word:  “Dit sou nie die openbare belang of die belang van geregtigheid dien nie”.

Ons grondwetlike demokrasie is gegrond op die waardes van, onder andere, die oppergesag van die Grondwet en die Reg en ’n veelparty-stelsel van demokratiese regering ten einde verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker. Aan die kern van die Oppergesag van die Reg is gelykheid voor die reg en gelyke beskerming deur die reg – en die idee dat geregtigheid moet geskied. As grondwetlike waardes (of grondwetlike “wagwoorde” volgens die Appèlhof), het verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid ten doel om ’n kultuur van regverdiging daar te stel waar die uitoefening van mag regverdig moet word. Gevolglik gaan verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid en geregtigheid hand aan hand. Sonder verantwoordbare en oop hofverrigtinge sal die mense nie die regbank en die regstelsel vertrou nie. Net so sal die mense nie hul verteenwoordigers of die regering vertrou sonder verantwoordbaarheid en openheid in die regering nie. Geheimhouding kan vanselfsprekend in ’n oop en demokratiese samelewing onder sekere omstandighede redelik en regverdigbaar wees, maar volgens die Konstitusionele Hof en die Appèlhof kan dit nie ten koste van verantwoordbaarheid, ’n responsiewe ingesteldheid en openheid geskied nie.

Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.