Volgens onlangse mediaberigte is mnr Malema met betrekking tot pogings om grond in Nellmapius, Pretoria-Oos te beset, as volg aangehaal: “[grondbesettings] is progressiewe programme wat oral in Suid-Afrika moet gebeur….Dit is ons land. Hulle moet dit vat.”

Sodanige verklaring deur enige politieke leier, en dít deur ’n Lid van die Parlement, is onverantwoordelik en kan deur ondersteuners van mnr Malema beskou word as ’n regverdiging vir onwettige en gewelddadige besetting van eiendom in staatsbesit. Hierdie verklaring – afgesien daarvan dat dit duidelik voorspraak maak vir onwettige optrede wat tot geweld kan aanleiding gee – is kortsigtig en voldoen nie aan die oppergesag van die reg nie.

Grondherstel, in die konteks van herstellende geregtigheid en die behaling van gelykheid, is steeds ’n sensitiewe aangeleentheid wat ’n gebalanseerde benadering kragtens artikel 25 van die Grondwet noodsaak. In hierdie verband, en met verwysing na grondbesetting in stedelike gebiede oor die algemeen, moet grondhervorming en -herstel fokus op die 7 tot 10 miljoen huise in raadsbesit in townships in stedelike gebiede, waar die meerderheid Suid-Afrikaners woon (teenoor die sowat 40 000 plase wat steeds die fokus van grondherstel is). Hierdie eiendomme wat in raadsbesit is moet so gou as moontlik omskep word in ondubbelsinnige, verhandelbare eienaarskap wat onder verband gebring kan word.

Verklarings wat ’n beroep doen om onwettige en selfs gewelddadige besettings van enige eiendom om watter rede ook al moet veroordeel word en kan om geen rede geregverdig word nie.

Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: GovernmentZA / Foter / CC BY-ND

Leave a Reply

Your email address will not be published.