Die Grondwet beskerm die regte van almal om byeen te kom, te betoog en petisies op ongewapende en vreedsame wyse voor te lê. Die Grondwet maak ook voorsiening vir verskeie ander opsies om ons regte op ’n vreedsame en regmatige wyse op te eis. Dit sluit in die reg om verteenwoordigers te kies wat uitvoering moet gee aan die bevordering en beskerming van, die respek vir en die verwesenliking van die regte wat in die Handves van Regte verskans word; die reg om daardie verteenwoordigers verantwoordelik te hou indien hulle versuim om hierdie taak uit te voer; en die reg om regshulp deur die howe te bekom. Hierdie regte maak egter geensins voorsiening vir kriminele optrede soos diefstal, die verwoesting van eiendom of die intimidering en aanranding van ander individue ten einde enige doelwit te bereik nie.
Ongeag die griewe wat mense kan hê, is sodanige kriminele optrede deur betogers onaanvaarbaar en moet deur alle Suid-Afrikaners, met inbegrip van die ANC (wie se Jeugliga op verskeie geleenthede ’n beroep gedoen het om die ontwrigting van die regering in Kaapstad en die Wes-Kaap), veroordeel word. Die ANC se versuim om op vorige geleenthede die Jeugliga in hierdie verband aan te spreek laat die vraag ontstaan oor of die ANC sodanige verklarings en dreigemente dalk stilweg steun.
In hierdie onlangse geval het raadslid Nkhola - volgens mediaberigte - gedreig om Kaapstad tot stilstand te ruk in wat hy beskryf as ’n poging om Premier Helen Zille se aandag te kry. In hierdie verband is hy vroeër dié week aangehaal deur die Daily Sun toe hy ’n byeenkoms by Nyanga se KTC-stadsaal toegespreek het: “Julle sal nie honger ly nie want daar is soveel plekke in die stad wat julle kan plunder. Die polisie kan nie ons almal in hegtenis neem nie, want daar is te veel van ons “. Hy het na bewering ook aan die koerant gesê dat “plakkers na Kaapstad sal gaan en plunder indien Zille nie die memorandum aanvaar nie. Mense wat voel dat hulle nie deel hiervan wil wees nie, moet tuis bly. Ons is nie bang nie.”
Verklarings wat geweld en kriminele optrede aanhits, of ’n beroep doen om die ontwrigting van enige regmatig en demokraties verkose regering in Suid-Afrika, is onversoenbaar met die Grondwet en moenie as aanvaarbare sosiale of politieke diskoers aanvaar word nie. Inteendeel, sodanige verklarings en kriminele optrede wat spruit uit hierdie verklarings moet veroordeel word en die skuldiges vervolg word, aangesien dit die fundamentele beginsels van ons grondwetlike demokrasie ondermyn. As sodanige gewelddadige en kriminele optrede toegelaat word om sonder veroordeling voort te duur en om ongestraf gelaat te word, sal nie aanleiding gee tot die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte nie, maar kan inderwaarheid ons grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg in Suid- Afrika in gevaar stel.
Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte