Volgens die berig, is Dawid Kamfer, ‘n raadslid van die Eden-distriksmunisipaliteit, glo deur die OVK aangesê om sy vrae in Engels te vra tydens een van die Kommissie se plaaslike vergaderings in Mosselbaai. Mnr Kamfer was, volgens dieselfde berig, ook deur die OVK ingelig dat in terme van ‘n “hoë-vlak besluit” deur die OVK, die gebruik van Afrikaans nie by die Kommissie se vergaderings toegelaat word nie. Hierdie bewering is klaarblyklilk bevestig deur die OVK se verkiesingbeampte in die Wes-Kaap, Courtney Sampson, wat gesê het dat die Kommissie se vergaderings weens “sensitiwiteit” in Engels gehou word “om alle mense te akkommodeer” en “indien iemand geensins Engels kan praat nie, sal ons reëlings tref vir ‘n tolk.”
As dit inderdaad die OVK se beleid is, voldoen dit nie aan grondwetlike vereistes nie.
Artikel 30 en artikel 31 van die Grondwet bepaal, in beginsel, dat almal die reg het om die taal van hul keuse te gebruik en dat geen persoon daardie reg, tesame met ander lede van daardie taalgemeenskap, ontken mag word nie. Daarbenewens bepaal artikel 9 dat nie die staat óf enige ander persoon onregverdig teen enige iemand mag diskrimineer op grond van taal nie. Verder erken artikel 6 van die Grondwet Afrikaans as een van die amptelike tale van Suid-Afrika tesame met die 10 ander tale. Hierdie artikel vereis ook van die staat om “praktiese en daadwerklike maatreëls [te] tref om die status van tale te verhoog en hul gebruik te bevorder”. Die staat moet aldus hierdie artikel ook verseker dat al die amptelike tale “billik behandel” word en “gelykheid van aansien” geniet. Gevolglik bepaal artikel 6 dat die nasionale en provinsiale regerings ten minste twee amptelike tale moet gebruik “met inagneming van gebruik, doenlikheid, koste, streeksomstandighede en die ewewig van die behoeftes en voorkeure van die bevolking as geheel of in die betrokke provinsie”. Munisipaliteite moet ook die taalgebruik en -voorkeure van hul inwoners in ag neem.
Die OVK is een van die staatsinstellings wat ingevolge Hoofstuk 9 van die Grondwet ten doel het om grondwetlike demokrasie in Suid-Afrika te ondersteun en te versterk. As sodanig, is die OVK in terme van artikel 181(2) van die Grondwet, onderhewig aan die Grondwet en al die bogenoemde bepalings met betrekking tot taal.
Daarbenewens het die OVK die gronwetlike mandaat om waarskynlik die mees invloedryke reg in ons grondwetlike demokrasie te bevorder en te verseker – die reg om te stem en om ‘n regering te verkies. Maar, in plaas van die verwesenliking van hierdie fundamentele reg in konteks van die veeltalige en diverse samelewing wat die Grondwet in die vooruitsig gestel het, blyk die OVK die grondwetlike vereistes met betrekking tot die gebruik van amptelike tale (met inbegrip van die behoeftes en voorkeure van die bevolking in die betrokke provinsie), te ignoreer. Ironies genoeg, glo die OVK klaarblyklik dat hy die Kommissie meer toeganglik maak vir almal deur Engels as die enigste lingua franca te gebruik. Dit is nie uniek aan die OVK nie, maar ‘n toenemende tendens wat die nasionale, provinsiale en plaaslike sfere van regering, sowel as ander staatsorgane, betref. Hierdie tendens is eenvoudig ‘n minagting van diversiteit en veeltaligheid wat nie net deur die Grondwet erken word nie, maar ook beskerm en bevorder word.
In die Wes-Kaap, byvoorbeeld, is Afrikaans die mees gesproke taal met 49.7% van die bevolking wat hierdie taal as huistaal aangedui het tydens die laaste nasionale sensus (isiXhosa is tweede met 24.7% en Engels slegs die derde mees gebruikte taal met 20.2% in die Wes-Kaap). In die Noord-Kaap is Afrikaans ook die mees gebruikte taal waar 53.8% van die bevolking dit gebruik as huistaal. Afrikaans is ook die tweede mees gebruikte taal in die Vrystaat (12.7%), die Oos-Kaap (10.6%) en Noordwes (9.0%). Volgens Statistiek SA se mees onlangse sensussyfers is Afrikaans die derde mees gesproke huistaal in Suid-Afrika (Engels is vierde). Byna sewe miljoen Suid-Afrikaners het Afrikaans aangedui as hul moedertaal waarvan 3 442 164 bruin, 602 166 swart, 58 700 Asiaties of Indiër en 2 710 461 wit is. In sommige gevalle, is dit die enigste taal waarmee Suid-Afrikaners van alle rasse vertroud is. As sodanig, misken die OVK nie net Afrikaans (en ander amptelike tale) nie, maar ignoreer en marginaliseer die Kommissie ook in werklikheid daardie Suid-Afrikaners van alle rasse wat nie vertroud is met, of in enige ander amptelike taal gemaklik kan kommunikeer nie. Dit is egter geensins beperk tot Afrikaans nie, maar raak die gebruik van al die ander amptelike tale in daardie provinsies waar daardie tale die meeste gebruik word. Volgens ‘n 2008-opname, het meer as 30% van swart Suid-Afrikaners byvoorbeeld aangedui dat hulle nie goed (of glad nie) Engels kon lees en skryf nie. Het hierdie Suid-Afrikaners dan nie die reg om oor een van hul mees basiese demokratiese regte ingelig te word, in ‘n amptelike taal wat hulle verstaan nie?
Dit is dus nie onredelik om van die OVK, as ‘n Hoofstuk 9-instelling, te verwag om ‘n voorbeeld te stel wanneer dit kom by die handhawing van daardie regte, waardes en beginsels wat vervat is in die Grondwet nie. As sulks behoort die OVK praktiese en positiewe maatreëls in plek te stel ten einde die status en die gebruik van al die amptelike tale te bevorder en te verhoog, veral ter bevordering en verwesenliking van een van die belangrikste regte in ons demokrasie – die reg om te stem. Waar die die OVK versuim om dit te doen, tree die Kommissie eenvoudig strydig met die Grondwet op.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: sabc.co.za