Die Suid-Afrikaanse pers is grootliks vry – en baie menseregteskendings wat grootskaals plaasgevind het, soos die Marikana- en Esidimeni-sterftes, is oorspronklik in die media berig – wat goed is ten opsigte daarvan om die Staat aanspreeklik te hou. Suid-Afrika se Regbank speel steeds ‘n belangrike rol om die Staat se nakoming van die Grondwet te verseker, deur optrede of wette wat ongrondwetlik is, ongeldig te verklaar. Die ware uitdaging vir die nasie is egter die versuim van die Staat in ‘n paar noemenswaardige gevalle om aan die besluite van die Howe gehoor te gee.

Xenofobie is weer in die kollig, asook gerapporteerde voorvalle van lesbiese, gay, biseksuele, transgender en interseksuele Suid-Afrikaners wat aangeval is of selfs vermoor is. In daardie opsig is die reg op gelykheid en waardigheid onder geweldige druk.

Oor die algemeen blyk dit of Suid-Afrikaners burgerlike en politieke regte tot ‘n groter mate geniet as sosio-ekonomiese regte. Die vryheid om te vergader, te betoog, betooglinies te vorm en petisies voor te lê word byvoorbeeld wyd geniet, soos gesien kan word aan die getal sogenaamde betogings teen swak dienslewering. Onderwys is steeds hoogs omstrede, soos die #FeesMustFall-betogings van getuig, wat die opskrifte vir die grootste gedeelte van die jaar oorheers het. Wat eiendomsregte betref, ten spyte van die hernude gevoel van dringendheid wat die openbare diskoers oorheers, het grondhervorming grootliks daarin misluk om aan sy doel te voldoen om gelyke toegang tot natuurlike bronne vir baie Suid-Afrikaners te verseker. Taal- en kultuurregte word wyd geniet, maar die dood van baie jong mans by inisiasieskole plaas die fokus op skadelike kulturele praktyke. Die kwessie van taal by instellings van hoër onderrig is steeds onopgelos, met Afrikaans wat grootliks as onderrigmedium uitgefaseer word by instellings van hoër onderrig.

Wat wel duidelik is is dat Suid-Afrika steeds ‘n baie ongelyke samelewing is, wat weer ‘n uitwerking het op hoe verskeie regte en vryhede uitgevoer word. Voorbeelde hiervan is toegang tot geregtigheid, gesondheidsorg en behuising, waar jou ervaring van daardie regte ingelig word deur jou inkomste.

21 jaar na die aanvaarding van die finale Grondwet is Suid-Afrika inderdaad ‘n grondwetlike demokrasie. Die mislukkings in sekere opsigte, soos hier bo uitgewys, om die Handves van Regte te beskerm en bevorder, beteken dat die Grondwet onder geweldige druk verkeer.

Hierdie verklaring is ‘n opsomming van die SGR se jaarlikse Menseregteverslagkaart, waarin die Staat se grondwetlike verpligtinge om die Handves van Regte te respekteer, bevorder, beskerm en uit te voer, geëvalueer word. Die volledige verslag kan HIER afgelaai word.

Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.