Die OVK moet ook met alle toekomstige munisipale verkiesings of tussenverkiesings alle kandidate in munisipale verkiesings, op die datum waarop hulle gesertifiseer word, voorsien van ‘n afskrif van die segment van die nasionale kiesersrol wat in daardie wyk tydens daardie verkiesing gebruik sal word, met inbegrip van die adresse van alle kiesers, waar hierdie adresse beskikbaar is.

Die reg om te stem is fundamenteel vir ons grondwetlike demokrasie. Artikel 1 van die Grondwet, “universele stemreg ‘n nasionale algemene kiesersrol, gereelde verkiesings en ‘n veelpartystelsel van demokratiese regering, ten einde verantwoordbaarheid, ‘n responsiewe ingesteldheid en openheid te verseker”, is ‘n grondliggende waarde van ons demokrasie. Hierdie waarde word verskans in artikel 19, wat bepaal dat elke burger die reg op vrye, regverdige en gereelde verkiesings het ten opsigte van enige wetgewende liggaam wat kragtens die Grondwet ingestel is en om in verkiesings te stem en om vir ‘n openbare amp te staan, en indien hy of sy verkies word, om die amp te beklee. Die OVK moet, kragtens artikel 190 van die Grondwet, uitvoering gee aan hierdie regte deur verkiesings van nasionale, provinsiale en munisipale wetgewende liggame te bestuur in ooreenstemming met nasionale wetgewing en deur te verseker dat verkiesings vry en regverdig is. In die Kham-saak het die Hof egter bevind dat die tussenverkiesings nie vry en regverdig was nie omdat die OVK nie voldoen het aan die standaarde wat daargestel is deur wetgewing en die OVK self ten einde vry en regverdige verkiesings te verseker nie.

In hierdie geval het die Hof bevind dat die OVK nie die toets geslaag het nie. Dit het oor ‘n tydperk van 13 jaar in meer as ‘n kwart van die gevalle nie sy statutêre plig nagekom om te verseker dat kiesers in die kiesdistrik geregistreer is waar hulle normaalweg woon nie. Volgens die Hof het die OVK ook bekendgemaak dat in byna een twaalfde van nuwe registrasies in die betrokke wyke, dit nie adresse of inligting van kiesers verkry het ten einde vir dit om sy statutêre plig uit te voer nie. In hierdie verband, en ter oorweging van ‘n baie beperkte ondersoek wat deur die OVK onderneem is betreffende die plaaslike munisipaliteit Tlokwe, let die Hof daarop dat tussen 2000 en 2014, 1040 uit 3832 nuut geregistreerde kiesers in die verkeerde wyk geregistreer is en dat die adresse van ‘n verdere 332 kiesers twyfelagtig is dat dit onmoontlik is om te sê of hulle in die regte wyk geregistreer is of nie. Die OVK kan nie verduidelik hoe hierdie verkeerde registrasies plaasgevind het nie en kon geen bevredigende verduideliking hiervoor gee nie, en het eerder aangevoer dat dit nie verplig is om kiesers se adresse na te gaan nie.

Die Hof het nie so ver gegaan om aan te voer dat die OVK doelbewus so opgetree het nie, maar het wel ernstige vrae geopper oor die OVK se onvermoë om sy optrede te verduidelik. Gevolglik het die Hof daarop gewys dat dit van die OVK verwag word om te verseker dat die mense wat as kiesers geregistreer is en toegelaat word om te stem, beperk moet word tot diegene wat regmatig daarop geregtig is om te stem. In hierdie verband het die Hof daarop gewys dat die proses van kiesersregistrasie, veral wat provinsiale en plaaslike regeringsverkiesings betref, veral vatbaar is vir manipulasie. Gevolglik kan ‘n verkiesing wat plaasvind wanneer daar ernstige vrae bestaan oor die betroubaarheid van die kiesersrol, nie as vry en regverdig bestempel word nie. Dit is omdat waar “kiesers van buite ingebring kan word, in ‘n wyk waar die politieke balans nie duidelik is nie, hul stemme die uitslag van die verkiesing op wyksvlak, en selfs ‘n hele munisipale verkiesing, kan beïnvloed. Ons kan nie die werklikheid ontken dat daar munisipaliteite is waar ‘n fyn balans bestaan wat verkiesings betref nie, waar die uitslag in ‘n enkele wyk die balans van mag in die munisipaliteit kan beïnvloed.”

Afgesien van sy ondubbelsinnige kritiek van die OVK, het die Hof ook ‘n waarskuwing vir politieke partye en hul ondersteuners uitgereik: ‘n vry en regverdige verkiesing “vereis die vryheid om stemme te werf; om te adverteer; en om deel te neem aan die aktiwiteite wat normaalweg betrekking het op ‘n persoon wat in ‘n verkiesing staan … Verskynsels soos ‘geen toegang’-gebiede; die weerhouding van fasiliteite vir die hou van vergaderings; die vernietiging van van advertensie-materiaal of die intimidasie van kandidate, werkers of ondersteuners, kan verhoed dat ‘n verkiesing as vry en regverdig beskou word.” Gegewe die opkomende plaaslike verkiesings in 2016, moet sekere politieke partye en hul ondersteuners ag slaan op hierdie waarskuwing.

Desnieteenstaande het die Konstitusionele Hof, as beskermer van die Grondwet van ons grondwetlike demokrasie, en namens die mense van Suid-Afrika, ‘n streng waarskuwing uitgereik aan die OVK en politieke partye: “Die regmatigheid van verkiesings en die integriteit van die verkiesingsproses is van uiterste belang in Suid-Afrika.” Gevolglik moet die OVK, as ‘n instelling wat grondwetlike demokrasie kragtens hoofstuk 9 van die Grondwet ondersteun, aan die hoogste standaarde ingevolge die Grondwet voldoen. Sy integriteit en onpartydigheid moet ten alle koste verdedig word. Sodra die OVK blyk om bevooroordeeld te wees – hetsy weens die Kommissarisse wat aangestel is om op die OVK te dien, hul optrede of weens optrede soos gesien in die Kham-saak – sal burgers van Suid-Afrika vertroue verloor, nie net in die integriteit van die OVK nie, maar ook in die demokrasie wat hierdie instelling veronderstel is om te dien.

Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Leave a Reply

Your email address will not be published.