Korrupsie is, volgens die Verenigde Nasies se Global Compact Report getiteld Clean Business is Good Business 2008, die grootste struikelblok vir ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling regoor die wêreld. Dit lei tot verminderde welvaart, minder respek vir menseregte en ander regte, verminderde dienslewering en indiensneming. Korrupsie onderdruk ekonomiese groei, ondermyn die oppergesag van die reg en vermors talent en waardevolle bronne. Dit ondermyn demokrasie, goeie regeringsbestuur en menseregte deur instellings van demokrasie, demokratiese prosesse en dienslewering te verswak. Dit verkwis en herlei bronne en geld wat vir dienste soos gesondheidsorg, onderwys, skoon water, sanitasie en behuising bedoel was en neem geleenthede en werksgeleenthede weg deur nepotisme en voortrekkery. Korrupsie dwing ’n land op sy knieë – of dit nou as gevolg is van die ineenstorting van infrastruktuur, bouwerk wat nie voltooi is nie, wat substandaard van gehalte is of glad nie gebou is nie, die aanstelling van diensverskaffers wat nie goed presteer nie, of die werklike diefstal van openbare geld. Dit skrik beleggers af, stoot belasting en lewenskoste op en dryf ’n wig in tussen samelewings – veral in ongelyke samelewings soos ons s’n.
Ongelukkig blyk dit of dit alles van toepassing is op Suid-Afrika vandag. Volgens ’n verslag wat in Julie 2014 deur die Ouditeur-generaal bekendgestel is, is tenders van plaaslike regerings ter waarde van R680 miljoen aan diensverskaffers toegeken waarin raadslede en ander werknemers van plaaslike regerings en die staat finansiële belang het. Hierdie bedrag sluit ’n verdere R164 miljoen se kontrakte uit wat toegeken is aan diensverskaffers waarin die familie van werknemers van plaaslike regerings ’n finansiële belang het. Volgens Transparency International se Corruption Perceptions Index vir 2014 het Suid-Afrika 44 punte uit 100 behaal en beklee die 67ste posisie uit die 175 lande en gebiede wat deel was van die opname. Hierdie indeks ken punte aan lande toe op ’n skaal van 0, wat hoogs korrup is, tot 100, wat byna vry van korrupsie is. In 2012 en 2013 het Suid-Afrika 43 en 42 punte onderskeidelik behaal, en die 69ste plek uit 174 en 72ste plek uit 177. Daarbenewens glo meer as 70% huishoudings in Suid-Afrika, volgens Statistiek SA, dat korrupsie toegeneem het. Die probleem is duidelik nie beperk tot ’n paar gevalle of ’n paar rand nie. Dit is ’n nasionale krisis vergestalt in infrastruktuur wat ingee, ’n onderwysstelsel wat misluk, ’n gesondheidstelsel wat min diens lewer, grootskaalse bedrog ten opsigte van maatskaplike toelae en openbare verkryging at verbind word met diegene met politieke verbintenisse en families wat voorgetrek word. Dit is nie volhoubaar nie.
Ons moet daarop aandring dat leiers, verkose verteenwoordigers en aangewese amptenare verantwoordbaar is – of hulle nou in die regering, die Parlement of openbare instellings is. Ons moet, as ’n samelewing, onsself inlig oor wat ons regering en die privaatsektor werklik doen om korrupsie te beveg en of hulle genoeg doen. Daarbenewens moet ons die Kabinet (nasionaal en provinsiaal), stadsraadslede en korporatiewe rade vra om te wys hoe hulle korrupsie bekamp – nie deur verklarings en toesprake nie – maar deur optrede en resultate. Ons moet die verkose verteenwoordigers in die Parlement, provinsiale wetgewers en plaaslike regerings verantwoordelik hou indien hulle versuim om verantwoordbaar te wees en toesig uit te oefen, aangesien dit beteken dat hulle eenvoudig nie die werk doen waarvoor hulle verkies is nie. Ons moet ook fokus op sakeondernemings, groot of klein, wat geld maak deur sake te doen met die regering by wyse van korrupte transaksies. Ons moet natuurlik ook ’n standpunt inneem teen korrupsie in ons eie samelewings deur korrupsie aan te meld, deur ons kinders te leer wat korrupsie is en dat dit onaanvaarbaar is, en deur te weier om omkoopgeld te betaal of aanvaar. Die toekoms van ons land en ons kinders hang daarvan af of ons die kettings van korrupsie vandag breek – want môre sal daar dalk te min oor wees om te red.
Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte
Foto: UN
Vir kommentaar oor verklaring:
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte
E-pos: tjkruger@cfcr.org.za
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622
Navrae:
Megan Dick: Kommunikasiebeampte, FW de Klerk Stigting
E-pos: megan@fwdeklerk.org
Telefoon: 27 21 (0) 930 3622