Op hierdie Vryheidsdag vier die Sentrum vir Grondwetlike Regte (die SGR) die geboorte van ons grondwetlike demokrasie wat gegrond is op die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid. Ons vier die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (die Grondwet) wat, as die hoogste reg, hierdie fundamentele waardes en regte waarborg. Ons vier ook vryheid, waarsonder demokrasie maklik in ‘n demagogiese en despotiese regering kon verander het.

Op 27 April 1994 het die tussentydse Grondwet in werking getree. Dit het Suid-Afrika bevry van ‘n wetlik en moreel onregverdigbare politieke bedeling en het voorsiening gemaak vir die eerste nie-rassige en werklik demokratiese verkiesings in Suid-Afrika wat op daardie selfde dag plaasgevind het. Dit het die parlementêre soewereiniteit vervang met grondwetlike soewereiniteit en het aan die howe die mag verleen om optrede en wetgewing wat nie met die Grondwet versoen kan word nie, ongeldig te verklaar. Daarbenewens het die tussentydse Grondwet ‘n Handves van Regte verskans wat universeel aanvaarde fundamentele regte en vryhede vir almal in die land beskerm en wat dus die staat verhoed om daardie regte en vryhede op arbitrêre wyse te skend of beperk. Dit het ‘n demokrasie teweeg gebring wat gegrond is op die wil van die mense onder die Grondwet, waarin magte van die uitvoerende gesag beperk is en onderhewig is aan toesighouding en geregtelike hersiening, en waarin vryheid die norm en nie die uitsondering op die reël is nie.

Vandag waarborg die Grondwet, wat deur ons vrylik verkose verteenwoordigers as die hoogste reg van Suid-Afrika aanvaar is, ‘n demokratiese staat wat gegrond is op die waardes van:

Hierdie grondliggende waardes is uiters belangrik vir ons Grondwet en tesame met die beginsels van demokrasie en vryheid vorm dit deel van ons grondwetlike skema. In hierdie verband hou ‘n demokrasie of ‘n demokratiese regering verband met ‘n regering wat die wil van die mense formuleer en wat reageer op die wil van die mense op ‘n wyse wat verantwoordbaar, responsief en oop is. Daarbenewens dra fundamentele regte, vryhede en burgerlike vryhede as ‘n geheel ‘n saamgestelde idee oor, wat stewig gevestig is in jurisprudensie ten opsigte van menseregte, dat vryheid ‘n onvervreembare reg van alle mense is. In hierdie konteks is vryheid, volgens Ignazio Silone, die moontlikheid om te twyfel, om ‘n fout te begaan, om te soek en eksperimenteer, om nee te sê vir enige gesag – letterkundig, artistiek, filosofies, godsdienstig, maatskaplik en selfs polities.

Demokrasie en vryheid, soos in die Grondwet verskans is, is interafhanklik van mekaar. Die een is nie volhoubaar sonder die ander een nie. Anders gestel, die reg om te stem, so belangrik as wat die reg is, beteken nie veel sonder fundamentele regte en vryhede nie. Gevolglik maak die Grondwet nie net voorsiening vir ‘n veelparty-demokrasie nie, maar ook vir fundamentele regte en vryhede wat die staat moet respekteer, beskerm, bevorder en uitvoer.

Ons geniet gereelde en vrye verkiesings wat in beginsel ‘n verteenwoordigende demokrasie tot gevolg het. Desnieteenstaande ervaar ons egter ook ‘n toenemende aanslag op fundamentele regte en vryhede – hetsy deur pogings om mediavryheid en toegang tot inligting te beperk, bedreigings vir eiendomsregte, die politisering van die strafregstelsel, polisiewreedheid of die onvermoë om verskeie sosio-ekonomiese regte te verwesenlik. Daarbenewens is die Parlement se versuim om doeltreffende toesighouding van optrede deur en die magte van die uitvoerende gesag uit te oefen, maar ook die regerende party se houding in die Nasionale Vergadering, ‘n werklike bedreiging vir die fundamentele regte en vryhede van almal in Suid-Afrika.

Volgens John Gray is dit ‘n wonderlike ding om ‘n sê te hê in gesamentlike besluite – op grond van demokrasie – maar dit sal nie jou vryheid beskerm indien die meerderheid vyandig is oor die manier waarop jy wil leef nie. John Stuart Mill, ‘n prominente voorstander vir groter demokrasie, het ook sy vrees uitgespreek dat sodra ‘n regering aanvoer dat hy volgens die wil van die meerderheid optree, persoonlike vryheid byna altyd verminder.

Ons demokrasie hou duidelik nie net verband met die reg om te stem of die wil van die meerderheid nie. Dit word gebalanseer deur die verwesenliking van fundamentele regte en vryhede, ongeag van wie jy is of vir wie jy gestem het. Dit is, volgens die Konstitusionele Hof, ‘n grondwetlike demokrasie wat opgestel is om te verseker dat diegene sonder ‘n stem, gehoor word, en dat selfs diegene van ons wat, indien ons ‘n keuse gehad het, sou verkies het om nie ag te slaan op die menings van die gemarginaliseerdes of magtelose minderhede nie, luister.

Vryheid is natuurlik nie onbeperk nie. Dit moet geniet word binne die raamwerk van die Grondwet en moet die regte en vryhede van ander in ag neem. Desnieteenstaande is die beginsel steeds vryheid – vryheid wat ons moet beskerm met elke middel waarvoor die Grondwet voorsiening maak, aangesien vryheid betekenis verleen aan ons demokrasie en fundamentele regte. Thomas Paine het dit moontlik die beste gestel toe hy gesê het dat hy wat sy eie vryheid verseker het, selfs sy vyand teen onderdrukking moet beskerm, want indien hy hierdie plig skend, hy ‘n presedent sal daarstel wat hom self sal raak.

Deur Adv Johan Kruger, Direkteur: Sentrum vir Grondwetlike Regte

Foto: lildude / Source / CC BY-NC-SA

Leave a Reply

Your email address will not be published.