+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

VERKLARING DEUR DIE FW DE KLERK STIGTING OOR DIE BESLUIT OM DIE BTW-KOERS OP 15% TE HOU

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 24/04/2025

 

Die FW de Klerk Stigting verwelkom die aankondiging deur die Minister van Finansies om die voorgestelde BTW-verhoging te herroep en die Belasting op Toegevoegde Waarde-koers op 15% te handhaaf vanaf 1 Mei 2025. Hierdie besluit volg na uitgebreide konsultasies en insette van parlementêre komitees, sowel as bekommernisse vanuit die regs- en burgerlike samelewing oor die ekonomiese en grondwetlike gevolge van so ‘n verhoging.

As die BTW-koers sou verhoog, sou miljoene Suid-Afrikaners, veral laer- en middel-inkomste huishoudings, die grootste las dra van hoër pryse op noodsaaklike goedere en dienste. In ‘n land wat reeds met hoë werkloosheid, voedselonsekerheid en diensleweringsprobleme worstel, sou die BTW-verhoging ongelykheid verder vererger het en ekstra druk op huishoudings geplaas het wat nie die las kan dra nie.

Hoewel hierdie besluit die onmiddellike las negeer, los dit nie die onderliggende fiskale tekort op nie. Nasionale Tesourie het ‘n inkomstegaping van R75 miljard vir die mediumtermyn beraam, wat ‘n volledige hersiening van huidige bestedingsprioriteite en die bekendstelling van ‘n hersiene Wetsontwerp op die Besteding en Verdeling van Inkomste in die komende weke vereis.

Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, is die volgende mening toegedaan: “Die handhawing van die BTW-koers op 15% is ‘n noodsaaklike besluit om die koopkrag van miljoene kwesbare Suid-Afrikaners te beskerm. Fiskale konsolidasie mag nie ten koste van maatskaplike samehorigheid óf ekonomiese deelname plaasvind nie. Ons doen ‘n beroep op die regering om alternatiewe inkomste-maatreëls te ondersoek wat groei bevorder, die belastingbasis uitbrei en wanbesteding van uitgawes verminder, eerder as om op regressiewe belasting staat te maak.”

Hier is nou ‘n geleentheid vir innoverende en billike alternatiewe om die gaping te verklein. Die Stigting dring daarop aan dat inkomstemaatreëls gegrond moet wees op die beginsels van artikel 215 van die Grondwet, wat bepaal dat nasionale begrotingsprosesse deursigtigheid, aanspreeklikheid en die doeltreffende gebruik van hulpbronne bevorder. Enige nuwe voorstelle moet ‘n balans vind tussen die herstel van fiskale volhoubaarheid en die beskerming van die sosio-ekonomiese regte van kwesbare burgers.

Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting, het bygevoeg: “Artikel 215 van die Grondwet vereis dat ons begrotingsproses deursigtig, verantwoordelik en doeltreffend moet wees. Hierdie oomblik bied ‘n geleentheid om fiskale beleid te herbedink op ‘n manier wat nie net ekonomies gesond is nie, maar grondwetlik gefundeer. Ons moet oplossings soek wat beide volhoubaar en regverdig is.”

Die Stigting sal voortgaan om die proses te monitor en herhaal sy steun vir ‘n regverdige, grondwetlike benadering tot openbare finansies. ’n Benadering wat langtermyn-ekonomiese groei, verantwoordelike rentmeesterskap en die welstand van alle Suid-Afrikaners prioritiseer.