+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

VERKIESINGS, KOALISIES EN PLAASLIKE BESTUUR: FW DE KLERK-STIGTING STEL VERSLAG WAT FOKUS OP 2026-VERKIESING VRY

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 18/11/2025

 

Suid-Afrika het amptelik sy koalisie-era betree. Die Stigting se jongste verslag, Kritieke Vrae oor Suid-Afrika se Verkiesings, Koalisies en Plaaslike Bestuur (met die oog op 2026), volg die ontwikkeling vanaf die munisipale deurbrake in 2016, deur die golf van 66 gehangrade in 2021, tot by die nasionale en provinsiale verkiesings van 2024 wat die land se eerste gehangde Parlement opgelewer het. Die prentjie is dié van ’n demokrasie wat besig is om volwassenheid te betree, maar wat steeds worstel met versplintering, dalende deelname – veral onder jong Suid-Afrikaners – en gebrekkige bestuursvermoë in verskeie regeringsfere.

Die verslag bevind dat die kiesersopkoms in 2024 op sowat 58-59% van geregistreerde kiesers (ongeveer 40-41% van die stemgeregtigde bevolking) gebly het, terwyl die plaaslike verkiesings van 2021 tot 45,9% gedaal het – die laagste sedert 1994. Afname in registrasie onder jong mense en lae deelname bly van die grootste bedreigings vir demokratiese legitimiteit. Intussen het dienslewering in talle munisipaliteite verder agteruitgegaan. Volgens die Ouditeur-Generaal se 2022/23-verslag het slegs 13% (34 van 257) munisipaliteite skoon oudits behaal, met aanhoudende mislukkings in inkomstebestuur, verkryging, instandhouding en gevolgebestuur.

Koalisiebestuur is nie meer ’n uitsondering nie, maar ’n nuwe norm wat kan slaag óf misluk, afhangend van reëls en leierskap. Waar koalisies gedissiplineerd, deursigtig en met beperkte vennote funksioneer – gesteun deur duidelike geskrewe ooreenkomste, administratiewe kontinuïteit en ’n diensleweringsgerigte program – volg stabiliteit en skoon oudits dikwels. Waar hulle egter ondeursigtig, oorversnipperd en gedryf deur politieke agendas gebasseer op eie gewin was, het hulle ineengestort. Besture is voortdurend vervang word en administrasies is gevolglik lam gelê. Die les is duidelik! Koalisies misluk nie van nature nie – hulle misluk wanneer daar ’n gebrek aan reëls, vertroue en aanspreeklikheid is.

Deur die ontleding in grondwetlike beginsels te veranker, voer die verslag aan dat hernuwing moet begin waar die Grondwet self begin. Dit is by die stigtingswaardes van aanspreeklikheid, responsiwiteit en openheid (artikel 1); die staat se plig om regte te respekteer, te beskerm, te bevorder en te vervul (artikel 7(2)); die doelwitte van plaaslike regering (artikel 152); en die basiese waardes en beginsels van openbare administrasie (artikel 195). Die verslag stel praktiese hervormings voor om die politieke stelsel te stabiliseer en plaaslike administrasies te professionaliseer vóór die plaaslike verkiesings van 2026.

Hierdie verslag is ’n oproep om van ideologie na bekwaamheid te beweeg,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting. “Kiesersopkoms daal, koalisies neem toe en diensversaking ondermyn menswaardigheid. Die Grondwet gee ons reeds die kompas. Dit behels aanspreeklikheid, responsiwiteit en openheid. As ons daardie waardes omskep in ’n kultuur van etiese leierskap en doeltreffende bestuur, sal dienslewering vanself volg.”

Suid-Afrikaners verwerp nie demokrasie nie – hulle verwerp disfunksionele praktyke,” voeg Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, by. “Voor 2026 moet ons openbare leierskap versterk, professionele amptenare beskerm en sigbare verbeterings lewer – waterstelsels herstel, paaie onderhou en strate verlig. Só bou ons vertroue weer op en gee jongmense ’n rede om deel te neem.”

Suid-Afrika se vernuwing sal nie uit slagspreuke voortspruit nie. Dit sal kom uit bekwaamheid wat geanker is in grondwetlike praktyk en uit ’n hernude verbintenis om regering vir elke gemeenskap te laat werk.

Klik hier om die volledige verslag te lees: Kritieke Vrae oor Suid-Afrika se Verkiesings, Koalisies en Plaaslike Bestuur (met die oog op 2026).