Dan lewe ons nou ook in die tyd van “Valse Nuus”. Terwyl die verskynsel van valse nuus wat aanlyn versprei word, nie nuut is in Suid-Afrika nie, het sodanige nuus slegs gefokus op bekendes, politici en ander individue met hoë openbare profiele. Onlangse gevalle het egter aan die lig gekom, wat sosiale media-rekeninge van media-huise, soos Radio 702, die Daily Maverick en Huffington Post, naboots. Alhoewel parodie en satire veronderstel is om snaaks te wees, is hierdie rekeninge alles behalwe snaaks. Dit blyk of hulle doelbewus verkeerde inligting en blatante leuens versprei betreffende bewerings wat in die State of Capture-verslag vervat word. Hul beoogde doel is duidelik: om die publiek te verwar en groter wantroue in die media te skep. Wat kommerwekkend is, is die aanstootlike aard van die valse nuus – wat daarop gerig is om onafhanklike stemme stil te maak, in ‘n tyd waar die media en die Regbank aan die voorpunt is van die stryd teen korrupsie.
Die professie van joernalisme speel ‘n belangrike rol om Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie te handhaaf. As dit nie vir ondersoekende joernaliste – met inbegrip van amaBhungane en Scorpio – was nie, sou die volk niks wyser gewees het betreffende die omvang van staatskaping nie. In ‘n tyd wanneer daaglikse nuusberigte die waarheid ontbloot oor die reuse omvang van staatskaping, is dit selfs meer skokkend dat die Nasionale Vervolgingsgesag nog geen aankondigings gemaak het betreffende wetsoortreding nie.
Deur me Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte