Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
SUID-AFRIKA SE WETGEWENDE PROSES
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 21/10/2025
Inleiding
Die vraag wat ek die meeste van die publiek kry, handel oor die wetgewende proses. “Gaan hierdie môre wet wees?” óf “Maar, het ons nie al hieroor kommentaar gelewer nie?”, is van die vrae wat gevra word. Hoe ons wette gemaak word, is nie iets wat ons op skool leer nie (alhoewel dit behoort te wees). Hierdie artikel poog om ’n proses wat dikwels verwarrend ervaar word, duidelik te maak. Die doel is om elke Suid-Afrikaner te bemagtig om ’n aktiewe burger te wees.
In ’n neutedop verloop die proses soos volg:
Wie Maak die Wette?
Slegs ‘n wetgewende gesag mag wette maak. Die Grondwet bepaal duidelik dat nasionale wette, wat oor die hele Suid-Afrika geld, deur die verkose Parlement gemaak word (artikel 43(a)). Provinsiale wette, wat slegs in daardie provinsie geld, word deur daardie provinsie se provinsiale wetgewer gemaak (artikel 43(b)). Munisipale verordeninge (wat slegs in ’n spesifieke munisipaliteit geld) word deur daardie munisipaliteit se munisipale raad gemaak (artikel 43(c)).
Huise van die Parlement
Ons nasionale Parlement het twee Huise – die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies (artikel 42(1) van die Grondwet).
Die Nasionale Vergadering, die eerste Huis van die Parlement, bestaan uit ons verkose verteenwoordigers (artikel 46 van die Grondwet). Die doel daarvan is om regering deur die mense kragtens die Grondwet te verseker, onder andere deur nasionale wette te maak (artikel 42(3) van die Grondwet).
Die Nasionale Raad van Provinsies, die tweede Huis van die Parlement, verteenwoordig provinsiale belange en bestaan uit ’n 10-lid afvaardiging van elke provinsie (artikel 60 van die Grondwet). Die doel daarvan is om te verseker dat die provinsies se belange oorweeg word wanneer, onder andere, nasionale wette gemaak word (artikel 42(4) van die Grondwet).
Wat Is Wet en Wat Nie?
Beleide
Beleid rig regeringsbesluite, maar is nie wet nie: Dit is die standpunte wat staatsdepartemente oor spesifieke kwessies inneem. Omdat dit egter nie deur ’n wetgewende gesag gemaak word nie, is dit nie wet nie.
’n Groenskrif is ’n aanvanklike regeringsdokument om ’n gesprek met die publiek oor ’n spesifieke kwessie te begin waaroor die regering ’n beleid wil hê. Die publiek kry dan die kans om te sê watter beleidsposisies hulle dink die regering moet inneem betreffende die kwessie. Byvoorbeeld, die Groenskrif op Polisiëring, 2013, deur die Burgerlike Sekretariaat vir Polisie.
Na oorweging van die publiek se kommentaar op die groenskrif, mag die staat ’n konsep witskrif vir verdere openbare kommentaar publiseer. Hierdie konsep witskrif stel die verskillende beleidsopsies voor wat die regering oorweeg. Byvoorbeeld, die Konsep Witskrif op Oudio- en Oudio-visuele Mediadiens en Aanlynveiligheid, 2025.
Eers nadat die publiek se kommentaar oorweeg is, volg ’n finale witskrif, wat die finale beleidstandpunt van die regering is. Hierdie witskrif is dan die beleidsdokument. Byvoorbeeld, die Witskrif op Onderwys en Opleiding, 1995.
Wette en Wetsontwerpe
’n Wetsontwerp is ’n voorgestelde wet. ’n Wet is wet.
Die Verskillende Rolspelers
Wetsontwerpe kan deur Kabinetsministers, lede van die Parlement (“LP’s”), óf deur parlementêre komitees ingedien word (artikel 73(2) van die Grondwet).
Die SALRK – Hou die Reg op Datum
Die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie (“SALRK”) is deur wetgewing ingestel (spesifiek, die Wet op die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie, 1973). In ‘n neutedop is die SALRK se taak om te verseker dat die reg op datum bly. Dit doen navorsing en maak aanbevelings oor hoe Suid-Afrika se wette ontwikkel, verbeter, gemoderniseer óf hervorm moet word (artikel 4 van die Wet).
Die SALRK vra vir openbare kommentaar op ’n voorspraakdokument. Sien byvoorbeeld, Voorspraakdokument 35 op Suid-Afrika se huwelikswette, wat moes bepaal het óf en hoe Suid-Afrika se talle huwelikswette verander moet word. Die voorspraakdokument het geen voorstelle bevat oor hoe die wet verander moet word nie, maar het eerder gepoog om debat te stimuleer en om die publiek se insette oor hoe die wet verander moet word, te verkry.
Na oorweging van die publiek se kommentaar op die voorspraakdokument, sal die SALRK ’n besprekingsdokument publiseer vir verdere openbare kommentaar. Sien byvoorbeeld Besprekingsdokument 152 oor Suid-Afrika se huwelikswette. Die besprekingsdokument het die SALRK se voorlopige voorstelle bevat na aanleiding van wat die publiek gesê het in reaksie op die voorspraakdokument. Die besprekingsdokument word gepubliseer om die publiek se menings oor hierdie aanvanklike voorstelle te verkry.
Na beide hierdie dokumente, dien die SALRK ’n verslag in wat die SALRK se finale aanbevelings en sy konsepwetsontwerp (’n wetsontwerp is ’n voorgestelde wet) uiteensit, by die Minister van Justisie. Die Minister moet dan besluit hoe hy wil voortgaan.
Wetsontwerpe Ingedien deur Ministers
Meeste wetsontwerpe begin die wetmakende proses in staatsdepartemente. ’n Departement sal ’n wetsontwerp opstel. Dit sal dan aan die Kabinet voorgelê word.
Sodra die Kabinet die wetsontwerp goedgekeur het om vir openbare kommentaar oopgestel te word, sal die departement dit in die Staatskoerant publiseer en die publiek vir hul insette vra.
Na oorweging van die publiek se kommentaar op die voorgestelde wet, wysig die departement die wetsontwerp soos dit goeddink. (Dit beteken nié dat elke verandering wat die publiek wil hê, deur die departement gemaak sal word nie, maar dit beteken wél dat die departement moet kan wys dat dit die kommentaar sinvol oorweeg en hanteer het en dat daar ’n goeie rede is waarom die versoekte verandering nie gemaak is nie, byvoorbeeld dat dit ongrondwetlik is, ens.).
Die wetsontwerp sal dan verskeie interne staatsprosesse ondergaan. Nadat al die interne staatsprosesse voltooi is, word die hersiene wetsontwerp in die Kabinet ter tafel gelê.
Indien die Kabinet dit goedkeur, kan die Minister van die relevante staatsdepartement dan die wetsontwerp in die Parlement ter tafel lê vir die Parlement om te oorweeg of dit as wet goedgekeur kan word.
Wetsontwerpe deur LP’s
Wanneer ’n LP ’n wetsontwerp ter tafel lê, word dit ’n Privaat-Lid Wetsontwerp (“PLW”) genoem. ’n PLW slaan die Kabinet en interne staatsprosesse oor. Byvoorbeeld, as ’n LP ’n wetsontwerp wil indien, sal hy/sy ’n kennisgewing van voorneme publiseer en die publiek vra om kommentaar daarop te lewer. Nadat die publiek se kommentaar oorweeg is, sal hy/sy die wetsontwerp in die Parlement ter tafel lê. Sien byvoorbeeld adv. Glynnis Breytenbach se Een-en-Twintigste Wysigingswetsontwerp op die Grondwet (PLW), wat sy ingedien het ná die Kennisgewing van Voorneme.
Wetsontwerpe deur Parlementêre Komitees
As ’n Komitee ’n wetsontwerp wil indien, dien dit ’n memorandum by die Nasionale Vergadering in, wat dan stem oor of die Komitee die wetsontwerp mag indien (Reël 273 van die Nasionale Vergadering se Reëls).
Sien byvoorbeeld die Wysigingswetsontwerp op die Ekonomiese Regulering van Vervoer. Hierdie wetsontwerp is deur die Parlement se Portefeuljekomitee oor Vervoer ingedien.
Die Nasionale Wetgewingsproses
Eenvoudig gestel, sodra ’n wetsontwerp in die Parlement ter tafel gelê is, moet dit deur albei Huise aanvaar word. Met ander woorde, beide die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies moet saamstem dat hulle hierdie wet wil hê en dit aanneem, voordat dit na die President gaan om as wet onderteken te word.
Belangrik is dat elke Huis openbare kommentaar vra en die wetsontwerp kan wysig voordat daar gestem word. Indien albei dit goedkeur, gaan die wetsontwerp na die President.
Die President se Magte
Die President kan die wetsontwerp onderteken en in wet bekragtig, of, indien die President voorbehoude omtrent die grondwetlikheid van die Wetsontwerp het, dit terug verwys na die Parlement (artikel 79). Indien onopgelos, gaan dit na die Konstitusionele Hof. Indien die Hof die grondwetlikheid bevestig, moet die President dit onderteken en sodoende as wet bekragtig.
Ten slotte
Suid-Afrika se wetgewingsproses behels verskeie fases en openbare deelname. Herhaalde versoeke om kommentaar, weerspieël ons deelnemende demokrasie.
Elke proses bied die publiek die geleentheid om kommentaar te lewer op elke nuwe weergawe van die wetsontwerp. Dit is waarom dit dikwels verwarrend kan lyk, omdat dit mag voorkom asof die publiek herhaaldelik gevra word om kommentaar te lewer. Elkeen van ons behoort aan die wetgewingsproses deel te neem om te verseker dat die wette wat ons regeer, inderdaad wette is wat ons menswaardigheid, gelykheid en menseregte en -vryhede beskerm en bevorder.