
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
SUID-AFRIKA SE DRIE NUWE POLITIEKE MAGSBLOKKE: EENHEID, GESKILLE EN DIE GRONDWETLIKE PAD VORENTOE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 16/04/2025
Suid-Afrika se politiek is besig om in ‘n nuwe normal te vergestalt. Dit word nie meer gedomineer deur ‘n een enkele politieke party nie, maar deur die interaksie van mededingende magsblokke. Daar word nie meer oor die drie nuwe politieke magsblokke gespekuleer nie. Dit ontvou voor ons.
Drie duidelike groeperings het ontstaan: die ANC-geleide kern van die huidige Regering van Nasionale Eenheid, ‘n hervormingsgeoriënteerde blok wat rondom die Demokratiese Alliansie gesentreer is, en ‘n opkomende populistiese groep wat deur die EFF en MK aangedryf word.
Hierdie blokke verteenwoordig meer as net ideologiese verskille. Hulle weerspieël mededingende visies van hoe om te regeer, hoe om die ekonomie te herskik, en hoe om instellings te hervorm. Hierdie tydsgewrig vra meer as net kommentaar; dit vereis innovasie in hoe ons politieke stelsel werk. As koalisies die toekoms van regering in Suid-Afrika is, moet ons verby tydelike reëlings beweeg en begin bou aan die institusionele strukture wat ‘n stabiele en responsiewe regering kan ondersteun. Die uitdaging is nie meer oor hoe die RNE tot stand gekom het nie. Die vraag is nou hoe ons brose samewerking in iets duursaams en burger-gefokus omskep.
Die drie magsblokke-dinamiek definieer nou beide die wetgewende en uitvoerende takke van ons demokrasie. Aan die een kant regeer die ANC saam met kleiner vennote wat sekere doelwitte deel, maar nie altyd dieselfde prioriteite nie. Die DA, hoewel deel van die RNE, posisioneer homself al hoe meer as ‘n waghond teen ANC-oorheersing.
Terselfdertyd opereer die EFF en MK van buite die regering, maar het hulle toenemende invloed, veral namate spanning binne die regerende koalisie toeneem. Hierdie politieke werklikheid bring kompleksiteit, maar ook geleenthede. Artikel 1 van die Grondwet bevestig Suid-Afrika as ‘n demokratiese staat wat gegrond is op waardes soos veelparty-demokrasie, aanspreeklikheid, responsiwiteit en deursigtigheid. Dit is nie net abstrakte regstaal nie; dit is ‘n verbintenis om te verseker dat, ongeag hoe die regering saamgestel word, dit altyd verantwoordbaar en samewerkend moet wees. Die DA se John Steenhuisen het dit duidelik gestel toe hy gesê het dat enkelparty-regering verby is. Daardie nuwe werklikheid moet nou gepaard gaan met politieke praktyke wat stabiliteit en gedeelde verantwoordelikheid verseker. Sonder dit, kan ‘n Parlement wat uit diverse stemme bestaan, die risiko loop om onregeerbaar te word.
Die omstredenheid oor die voorgestelde BTW-verhoging vanjaar illustreer die dringendheid van hierdie oomblik. In Maart het die Tesourie ‘n verhoging van een persent in BTW oor twee jaar aangekondig. Die DA het dit teengestaan op grond daarvan dat dit die arm en middelklasgesinne die swaarste sou tref. Sommige ANC-verwante partye het ook kommer uitgespreek oor die tydsberekening en impak daarvan. Tog het die begrotingsraamwerk geslaag, nie deur konsensus onder RNE-vennote nie, maar deur ‘n taktiese maneuver waar die ANC steun van ‘n party buite die koalisie ontvang het. Hierdie maneuver het ‘n groot strukturele fout in die eenheidsregering blootgelê. Die DA het die ANC daarvan beskuldig dat dit die beginsel van kollektiewe regering ondermyn. Die EFF en MK het die oomblik aangegryp om die RNE se samehang te bevraagteken. Spekulasie oor ‘n moontlike ineenstorting van die koalisie het begin toeneem, en burgers het gewonder of hierdie brose regering in staat sou wees om effektief dienste te lewer.
Die gevolge van die BTW-episode was nie net polities nie. Dit het die kern van ons institusionele geloofwaardigheid getref. As koalisievennote nie oor iets so fundamenteel soos die nasionale begroting kan saamstem nie, hoe sal hulle dan koördineer oor meer komplekse beleidshervormings? Die risiko is dat beleid begin dryf en die regering begin wetgewing neem by verstek eerder as deur deeglike koördinering. Hierdie pad lei tot disfunksie. In reaksie op die BTW-uitkoms het beide die DA en EFF hulle tot die howe gewend en regsuitdagings ingedien wat die grondwetlikheid van die proses wat in die Parlement gevolg is, bevraagteken het. Hulle het aangevoer dat die beraadslaging gehaas is, dat daar onvoldoende openbare konsultasie was en dat die parlementêre prosedure ondermyn is. Hierdie regsuitdagings leun op kerngrondwetlike beginsels. Artikel 59(1)(a) verplig die Nasionale Vergadering om publieke betrokkenheid in wetgewende prosesse te fasiliteer. Artikel 195(1)(a), (d) en (e) vereis dat openbare administrasie verantwoordbaar, deursigtig en reaksiegewend wees op mense se behoeftes.
Alhoewel die howe ‘n kritieke deel van ons kontrole en teenwigte is, is dit nie volhoubaar om litigasie te gebruik om koalisiegeskille te bestuur nie. Regsgedinge neem tyd in beslag, verhard verdeeldheid en vertraag besluitneming. As partye konsekwent die howe as vervanging vir onderhandelinge gebruik, vertraag die werk van bestuur en erodeer die geloofwaardigheid. Die werklike vraag is wat gedoen kan word om meningsverskille op te los voordat dit tot daardie punt eskaleer.
Suid-Afrika moet dringend koalisiebestuur institusionaliseer. Die RNE se verklaring van voorneme was ‘n gewaagde beginpunt. Dit het gedeelde waardes en doelwitte uiteengesit, maar dit is nie voldoende nie. Koalisies vereis formele strukture wat voorspelbaarheid bring, vertroue bou en beleidsposisies belyn voordat hulle by ‘n krisispunt beland. Een so ‘n innovasie bestaan reeds in embrio. Die RNE Clearing House-meganisme, wat deur die Adjunkpresident geïnisieer is, bring koalisievennote in ‘n formele forum om meningsverskille op te los. Toe die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette interne konflik veroorsaak het, is hierdie meganisme geaktiveer. Partye van regoor die spektrum, insluitend die ANC, DA, VF Plus en GOOD, het gesprekke gevoer om ‘n gemeenskaplike pad vorentoe te vind. Die doel was nie om kort termyn voordeel te put nie, maar om diensbaar vir alle Suid-Afrikaners te wees. Dit bewys dat selfs diep verdeelde vennote saam kan werk wanneer die belange duidelik is.
Hierdie meganisme moet nou uitgebrei en behoorlik gestruktureer word. Dit moet gereeld vergader, met toegewyde verteenwoordigers van elke koalisieparty. Dit moet tegniese ondersteuning en regsadviseurs hê, en dit moet tydige terugvoer aan die Parlement en die publiek gee. Die belangrikste is dat dit gesag moet hê. Geen groot beleidsvoorstel behoort na die Parlement of die Kabinet oor te gaan tensy dit oorweeg en ooreengekom is binne die clearing house nie. Koalisie-ooreenkomste moet ook ontwikkel word in meer afdwingbare protokolle. Vennote moet skriftelike prosedures aanneem oor hoe om disputes te hanteer, hoe om verskille te bemiddel en hoe om tot ware kompromieë te verbind. Hierdie stappe gaan nie oor rompslomp nie. Dit gaan daaroor om politieke valstrikke te vermy en te verseker dat elke vennoot van die begin af ‘n sitplek aan die tafel het.
Partye in koalisie moet ook hul parlementêre koukusse meer noukeurig koördineer. Hulle moet gesamentlik voorberei vir groot wetgewende debatte, saam openbare inligtingsessies hou en oor sleutelkwessies ooreenstem voordat hulle die vloer bereik. As politieke partye mag deel, moet hulle ook die proses deel en gesamentlike verantwoordelikheid aanvaar vir die uitkomste. Uiteindelik moet alles een doel dien: die behoeftes van die mense. Wanneer koalisies wankel, is dit gewone Suid-Afrikaners wat die gevolge dra. Ongerealiseerde diensleweringsteikens, verlore werksgeleenthede en beleidsonsekerheid tref diegene wat dit die minste kan bekostig die hardste. Maar wanneer koalisies funksioneer, wanneer besluite deursigtig en inklusief geneem word, sal almal baat vind.
Die waarskynlike ommekeer van die BTW-verhoging toon dat die stelsel homself kan regstel wanneer dit deur openbare druk en interparty-dialoog gedwing word. Die Parlementêre Begrotingskantoor het selfs gewaarsku dat die voorstel toondoof is en die laer-inkomste huishoudings onregverdig sal belas. Om na sulke waarskuwings te luister en met die betrokke gemeenskappe in gesprek te tree, is nie ‘n politieke taktiek nie. Dit is ‘n demokratiese noodsaaklikheid. Die Grondwet is duidelik. Artikel 195(1)(e) bepaal dat mense se behoeftes beantwoord moet word. Artikel 1(d) bevestig dat die hele staat gegrond is op aanspreeklikheid, responsiwiteit en openheid. In koalisie-regering is hierdie beginsels nie opsionele ekstras nie. Hulle is fundamenteel om regering wettig en doeltreffend te maak. Partye moet onthou dat, hoewel hulle verskillende blokke mag verteenwoordig, hulle namens dieselfde burgers regeer.
Suid-Afrika se verskuiwing na magsblokpolitiek is nie ‘n krisis nie. Dit is ‘n oorgang. Dit dui op die rypwording van ons demokrasie en die einde van dominante-party-heerskappy. Maar ‘n volwasse demokrasie het volwasse instellings nodig. Koalisies moet nie net van goeie wil of private ooreenkomste afhanklik wees nie. Hulle moet ondersteun word deur reëls, strukture en meganismes wat gesamentlike aanspreeklikheid bevorder en dit moontlik maak om verskille konstruktief te bestuur. Die FW de Klerk Stigting glo dat die Grondwet presies daardie raamwerk verskaf. Dit bevat die waardes, regte en teenwigte wat nodig is om koalisiebestuur suksesvol te maak. Die taak nou is om daardie beginsels konsekwent toe te pas, die meganismes wat dialoog bevorder uit te brei en te verseker dat politieke herskikking nie tot nasionale verlamming lei nie.
As elke magsblok agter die Grondwet kan verenig, hoef koalisiebestuur nie ‘n waagstuk te wees nie. Dit kan ‘n keerpunt wees. Ons kan politieke fragmentasie in funksionele eenheid omskep en sodoende beter uitkomste vir alle Suid-Afrikaners lewer.