+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

SUID-AFRIKA SE BUITELANDSE BELEID HET ’N GRONDWETLIKE HERORIËNTERING NODIG

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 30/01/2026

Suid-Afrika se buitelandse beleid is ’n uitoefening van openbare gesag en moet deur die Grondwet gelei word, nie deur ou lojaliteite of verouderde ideologieë nie. Die Aanhef verbind ons daartoe om “ons regmatige plek as ’n soewereine staat in die familie van nasies in te neem”. Artikel 1(c) bevestig die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg as grondbeginsels van die Republiek. Artikel 7(2) plaas ’n duidelike plig op die staat om die regte in die Handves van Regte te “respekteer, beskerm, bevorder en verwesenlik”. Artikel 198(c) bepaal uitdruklik dat nasionale veiligheid nagestreef moet word “in ooreenstemming met die reg, insluitend die internasionale reg”. Artikels 231, 232 en 233 erken voorts dat verdrae, internasionale gewoontereg en regte-versoenbare uitleg deel vorm van ons regsbestel. Dit is nie bloot dekoratiewe grondwetlike taal nie, maar die rigtingwyser wat behoort te bepaal hoe Suid-Afrika internasionaal praat, optree en stem.

 

Teenstrydigheid in Suid-Afrika se Buitelandse Beleid Ondermyn Vertroue

Tog is daar ’n toenemende gaping en groeiende teenstrydigheid tussen die grondwetlike mandaat en die wyse waarop Suid-Afrika se buitelandse beleid die land op die wêreldverhoog posisioneer – ’n gaping wat vertroue ondermyn. Regeringsretoriek beklemtoon nie-belyning, multilateralisme en ’n reëlgebaseerde internasionale orde. Minister Ronald Lamola se onlangse buitelandsebeleidsrede put sterk uit Nelson Mandela se taal wanneer hy oor internasionale betrekkinge en buitelandse beleid praat. Reeds in 1993 het president Mandela geskryf dat menseregte die lig moet wees wat ons buitelandse sake rig, en dat oorwegings van geregtigheid en respek vir die internasionale reg die verhoudinge tussen nasies behoort te bepaal. Hierdie verbintenisse strook natuurlik met die grondwetlike skikking van 1996: universele menswaardigheid, gelykheid, vryheid en die oppergesag van die reg, toegepas sonder vrees of begunstiging. Die grondwetlike toets is egter nie of ons toesprake beginselvas klink nie, maar of ons optrede hierdie beginsels konsekwent weerspieël.

Nie-belyning, reg verstaan, is nie morele ontwyking nie. Dit is strategiese onafhanklikheid wat volgens beginselvaste maatstawwe uitgeoefen word. Dit is nie anti-Wes of pro-Oos nie; dit is ’n weiering om ons oordeel aan enige magsblok oor te laat. Indien Suid-Afrika aanspraak maak op nie-belyning, moet ons buitelandse beleid konsekwente en onpartydige getrouheid aan die internasionale reg toon oor kernkwessies soos aggressie, territoriale integriteit en soewereiniteit, die beskerming van burgerlikes en aanspreeklikheid vir gruweldade. Juis hier word die gaping tussen voorneme en optrede die duidelikste sigbaar – en juis hier is die Grondwet se leiding die dringendste nodig.

 

Verbintenis tot die Internasionale Reg en Orde Onder Toets

Suid-Afrika se verbintenis tot die internasionale reg word die duidelikste beproef wanneer die reëls openlik verbreek word. Rusland se inval in Oekraïne het die VN-Handves se verbod op die gebruik van geweld en die beskerming van territoriale integriteit ingevolge Artikel 2(4) geskend, tog het Suid-Afrika van stemming onthou toe die VN se Algemene Vergadering Rusland versoek het om hom te onttrek. Die verduideliking dat die resolusie nie bevorderlik vir diplomasie was nie, het die kernregswerklikheid omseil: dat een staat ’n ander onregmatig binnegeval het. Indien die Grondwet se verbintenis tot die oppergesag van die reg, soos vervat in artikel 1(c), en tot nakoming van die internasionale reg, ingevolge artikel 198(c), werklik betekenisvol wil wees, moet Suid-Afrika se diplomasie duidelik en beginselvas optree wanneer die internasionale reëlboek verbreek word. Onthouding mag prosedureel neutraal wees, maar dit kan ook ’n huiwering aandui om die regs- en morele orde te verdedig waartoe state hulself verbind het.

Hierdie patroon word nog meer ontstellend wanneer Pretoria se sterk veroordeling van Westerse optrede vergelyk word met sy versigtiger benadering teenoor strategiese vennote. Suid-Afrika het nagelaat om VN-toesig oor geloofwaardige bewerings van ernstige misbruike in Xinjiang te steun en het na berig word van stemming onthou toe Iran, ná die onderdrukking van protesoptogte oor vroueregte, uit die VN se Kommissie oor die Status van Vroue verwyder is.

Betrokkenheid met magtige state is legitiem, maar ’n grondwetlik-gefundeerde buitelandse beleid kan nie op selektiewe stilswye steun wanneer fundamentele regte en regspligte op die spel is nie. Die Grondwet vereis beginselvaste konsekwentheid, nie gerief nie.

Buitelandse Beleid is ’n Balanseerhandeling, maar Moet deur die Grondwet Gelei Word

Soewereiniteit word dikwels aangevoer om hierdie keuses te regverdig, maar in grondwetlike terme beteken dit nóg isolasie nóg onderwerping. Die Aanhef se visie van ’n “soewereine staat in die familie van nasies” impliseer agentskap: die vermoë om belange en waardes onafhanklik te weeg, sonder om onder dwang op te tree en sonder om ander te dwing. Wanneer buitelandsebeleidskeuses eerder deur druk van magtige vennote gevorm word as deur deursigtige grondwetlike oorweging, loop soewereiniteit die gevaar om performatief eerder as werklik te word. Die gerapporteerde marginalisering van Taiwan se diplomatieke teenwoordigheid, ondanks sy ekonomiese voetspoor en rol in strategiese voorsieningskettings, illustreer hoe eksterne druk die grens tussen strategiese belyning en grondwetlike outonomie kan vervaag.

Die gevolge van sulke persepsies is sowel ekonomies as reputasie-verwant. Die Verenigde State en die Europese Unie bly van Suid-Afrika se belangrikste handels- en beleggingsvennote. In Washington het Pretoria se houding teenoor Rusland, en die breër indruk van belyning met sogenaamde “kwaadwillige akteurs”, oproepe ontlok vir ’n formele hersiening van bilaterale betrekkinge. Dié retoriek mag oordrewe wees, maar die beleidsrisiko is werklik en tasbaar. AGOA, wat werksgeleenthede in vervaardiging, landbou en verwante waardekettings ondersteun, is gevolglik by die debat betrek. Suid-Afrika hoef nie eksterne politieke raamwerke te aanvaar nie, maar moet erken dat buitelandsebeleidskeuses handelsgevolge, beleggers onsekerheid en langtermyn reputasiekoste kan meebring.

Die grondwetlike vraag moet dus reguit gestel word: as nie-belyning ons beleid is, waarom lyk ons optrede so dikwels na belyning in een rigting? Waarom veroordeel ons sekere skendings van soewereiniteit en regte met oortuiging, maar hanteer ander as ongemaklike voetnote wat met prosedurele taal toegesmeer word? En waarom bly ons vasklou aan ’n anti-imperialistiese woordeskat wat wêreldpolitiek as ’n binêre stryd voorstel, terwyl die wêreld van 2026 ’n moderne, belangegedrewe en regte-versoenbare benadering vereis? Bevrydingsgeskiedenis vorm deel van Suid-Afrika se identiteit, maar dit kan nie dubbele standaarde regverdig nie. Die Grondwet is toekomsgerig. Dit verleen nie goedkeuring aan ideologiese reflekse nie; dit vereis rasionele, beginselvaste regering.

’n Koersregstelling is nie ’n oproep om “die Weste te kies” nie. Dit is ’n oproep om die Grondwet te kies. Dit vereis eerstens openhartige regsduidelikheid: aggressie moet as aggressie benoem word en regteskendings as regteskendings, ongeag wie dit pleeg. Tweedens vereis dit konsekwentheid met ons internasionale verpligtinge: waar die Parlement Suid-Afrika kragtens artikel 231 aan verdragsverpligtinge gebind het, moet nakoming volg, insluitend deur meganismes soos die Internasionale Strafhof wanneer dit op ons grondgebied van toepassing is. Derdens vereis dit ware strategiese outonomie: vennootskappe moet gediversifiseer word, maar deursigtig en op grond van Suid-Afrika se belange en grondwetlike waardes, nie op grond van bloklojaliteit of druk van magtige vennote nie. Vierdens vereis dit samehang in multilaterale forums: ons stemgedrag behoort ’n vaste maatstaf te weerspieël – internasionale reg en universele regte – eerder as wisselende standaarde na gelang van wie in die beskuldigdebank sit.

Ander grondwetlike demokrasieë bestuur hierdie balans meer konsekwent, selfs wanneer hul belange kompleks is. Duitsland se na-oorlogse grondwetlike kultuur plaas menswaardigheid sentraal in staatsgesag en het sy buitelandse beleid oorwegend in lyn gebring met sterk verbintenisse tot internasionale wettigheid, selfs waar dit ekonomiese koste meebring. Brasilië en Indië streef eweneens strategiese outonomie na, maar maak hul afwegings op maniere wat in regsterme minder selfteenstrydig is, terwyl hulle aktief werk om breë ekonomiese vennootskappe te behou en onnodige vyandigheid te vermy. Suid-Afrika kan dieselfde doen. Ons kan bande met BRICS-vennote en met die Globale Suide handhaaf sonder om nie-belyning tot ’n eufemisme vir selektiewe stilswye te reduseer.

Indien Suid-Afrika sy buitelandse beleid weer op die Grondwet sentreer, kan nie-belyning werklik inhoud kry: onafhanklike oordeel, gegrond in universele regte en die oppergesag van die reg. Dit sal geloofwaardigheid oor vennote heen herstel, handel en belegging beskerm en ons vermoë versterk om te bemiddel eerder as om te polariseer. Die alternatief is ewe duidelik: voortgesette inkonsekwentheid sal vertroue ondermyn, vermybare ekonomiese risiko’s verhoog en ons “nie-belyning” laat lyk na faksiebelyning in vermomming. Die Grondwet is ons kompas. Ons moet dit konsekwent volg, sonder vrees of begunstiging.