Die President kan, kragtens die Grondwet en die Wet op Verdediging, die gebruik van die SAW magtig onder sekere omstandighede ten einde “wet en orde in die Republiek te handhaaf”. Sodanige ontplooiing van die SAW op die perseel van die Parlement kan egter slegs onder sekere omstandighede geregverdig word. Daardie uitsonderlike omstandighede – in hierdie geval – bestaan eenvoudig nie, gegewe dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die Parlement se eie veiligheidspersoneel in die verlede bewys het dat hulle in staat is om skermutselings wat tydens die Staatsrede uitbreek, te hanteer. Selfs toé was hul hardhandige benadering wyd gekritiseer deur die burgerlike samelewing en die howe. Hou ook in gedagte dat die Wet op Verdediging die SAW verbied om op partydige wyse op te tree of om die belange van ‘n politieke party te bevorder. Die Wet op Verdediging gelas die SAW om die regte en waardigheid van alle persone te respekteer.
Die nasie se grondliggende waardes sluit in deursigtigheid, openheid en verantwoordbaarheid, en die teenwoordigheid van die SAW, klaarblyklik om wet en orde te handhaaf, versuim om hierdie waardes te koester. Die Parlement, kragtens die Grondwet, is veronderstel om ‘n openbare platform te wees vir die oorweging van alle aangeleenthede wat die nasie raak, en gevolglik behoort dit die posisie van die Parlement te wees om openbare deelname te bevorder. Hierdie ontplooiing van die SAW blyk om ‘n tentoonstelling van mag te wees, en ‘n berekende poging om afvalliges te intimideer.
Die media speel ook ‘n belangrike rol om Suid-Afrikaners by te staan om hul regte te verwesenlik. ‘n Aktiewe en ondersoekende media – nie een wat moontlik beperk is tot ‘n media-blok en optree onder leiding van die SAPD nie – is belangrik ten einde vir die nasie se demokrasie om te floreer. Voorts moet die simboliek van die plasing van die media in ‘n media-blok nie verlore gaan nie. Die plasing van die media in ‘n “boks” kan slegs ‘n intimidasie-taktiek wees, en die beperking van die beweging van die media kan beskou word as ‘n poging om die verspreiding van inligting te onderdruk. Toegang tot inligting is belangrik vir gewone Suid-Afrikaners om op sinvolle wyse in die openbaar te skakel. Die media moet die publiek help om die reg op toegang tot die Parlement te geniet. Soos dit wil voorkom is daar geen dwingende redes om die poging om die invloed van die media aan bande te lê nie.
Die veiligheidsmaatreëls wat geleidelik vir die Staatsrede ingestel word gee aanleiding tot die belangriker vraag – waarom het die President so bang geword vir burgers van die land waaroor hy regeer?
Deur Phephelaphi Dube: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte