+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

RUIMTELIKE APARTHEID: DIE ONSIGBARE MURE WAT AAN SUID-AFRIKA SE JEUG GESTALTE GEE

Deur Amirah Hassim en Thando Malinga namens die FW de Klerk Stigting op 29/10/2025

 

Ruimtelike apartheid is nie net deel van Suid-Afrika se geskiedenis nie. Dit gaan nog steeds voort om te bepaal hoe jongmense leef, leer en droom. Vir baie mense bepaal die plek waar ’n mens gebore word, die gehalte van die omgewing waarin hulle grootword, die onderwys wat hulle ontvang, die werksgeleenthede wat vir hulle beskikbaar is en selfs die netwerke wat hul sosiale beweeglikheid beïnvloed. Dwarsdeur stede en woonbuurte bepaal geografie in die agtergrond wié met ’n billike kans begin en wié van die staanspoor af benadeel word. As die FW de Klerk Stigting voel ons verplig om te vra: Hoe kan ’n demokrasie wat op gelykheid gegrond is, steeds sulke diep geografiese ongelykhede verdra?

Die argitekte van apartheid het meer as net diskriminerende wette geskep, hulle het fisiese landskappe van verdeeldheid ontwerp. Die Groepsgebiedewet van 1950 het ruimtelike apartheid geformaliseer deur swart en bruin gemeenskappe ver van ekonomiese sentrums te plaas en “buffersones” te skep wat skeiding verder versterk het. Infrastruktuur is doelbewus ontwerp om wit voorstede te bevoordeel, sodat ras die bepalende faktor vir toegang tot geleenthede geword het. Alhoewel apartheid se wette al drie dekades gelede afgeskaf is, duur ruimtelike apartheid – en die ongelykheid wat dit skep – steeds voort. Die Wêreldhulpbronne-instituut merk op dat “Johannesburg een van die mees ruimtelik ongelyke stede ter wêreld bly,” waar lae-inkomste gemeenskappe “deur afstand en swak vervoernetwerke van ekonomiese spilpunte uitgesluit word.” Dit is nié onsigbare hindernisse nié, maar tasbare, finansiële en sielkundige mure wat steeds die vooruitsigte van ’n hele generasie beïnvloed.

 

Jeug, Onderwys en die Geografie wat Geleenthede Onderlê
Onderwys is waarskynlik die duidelikste weerspieëling van ruimtelike ongelykheid in die post-apartheid-era. Aan die een kant van ’n stad woon leerders skole by met volledig toegeruste wetenskaplaboratoriums, biblioteke en toegang tot moderne tegnologie. Net ’n paar kilometer verder sit ander in oorvol klaskamers sonder genoeg lessenaars, handboeke of selfs werkende toilette. Volgens Amnesty International is “Suid-Afrika se onderwysstelsel diep ongelyk en weerspieël dit steeds die nalatenskap van apartheid.” Die verslag beklemtoon dat minstens 20% van openbare skole geen sanitasiegeriewe het nie en dat duisende steeds sonder basiese hulpbronne funksioneer. Hierdie ongelykheid beteken dat jongmense se potensiaal nié deur talent bepaal word nié, maar deur hul adres. Vir baie leerders in landelike gebiede óf townships is lang daaglikse pendeltogte na beter skole die enigste pad na geleenthede. Baie vertrek voor sonsopkoms en keer eers ná donker huis toe, terwyl hulle onveilige roetes en hoë vervoerkostes trotseer. Hoe kan die belofte van gehalte-onderwys, soos gewaarborg in artikel 29 van ons Grondwet, verwesenlik word wanneer die fisiese omgewing steeds ons jeug verdeel en agterweë laat?

Geografie bepaal ook toegang tot digitale hulpmiddels, mentorskapprogramme en beurse, wat dikwels in beter bediende stedelike gebiede gekonsentreer is. Die gevolg is ’n nuwe vorm van uitsluiting – digitale apartheid – wat ou skeidslyne verder verstewig. Volgens Statistiek Suid-Afrika bly jongmense tussen 15 en 34 jaar kwesbaar in die arbeidsmark, met ’n skokkende werkloosheidsyfer van 45,5%.” Vir baie jong Suid-Afrikaners is dit ’n finansiële las om bloot by die werk uit te kom; vervoerkoste sluk groot dele van reeds beperkte inkomste op, terwyl onbetroubare dienste en veiligheidsrisiko’s jongmense ontmoedig om nuwe geleenthede te soek. “Dit kos meer om werk toe te reis as wat baie mense in ’n dag verdien,” het een jong respondent aan Statistiek SA se kwartaallikse arbeidsopname vertel. Ekonome beskryf townships en landelike gebiede dikwels as “sakewoestyne” – gebiede waar formele ekonomiese aktiwiteit swak is en werksgeleenthede skaars is. Selfs wanneer jongmense gekwalifiseerd en ambisieus is, hou struikelblokke soos afstand en infrastruktuurverval hulle vasgevang in onbarmhartige siklusse van armoede.

 

Die Verborge Koste van Skeiding
Ruimtelike ongelykheid raak nie net onderwys en werk nie, maar ook die reg op gemeenskap en ’n gevoel van behoort. In baie onderontwikkelde woonbuurte is daar geen biblioteke, jeugsentrums of veilige parke nie. Openbare ruimtes het vervalle geraak, wat jongmense sonder plekke vir ontspanning en kreatiewe samesyn laat. ’n Studie deur die Raad vir Geesteswetenskappe het bevind dat “meer as 60% van Suid-Afrikaanse jongmense aanmeld dat hulle geen toegang tot veilige openbare ruimtes of sportfasiliteite binne loopafstand het nie.” Hierdie gebrek ondermyn sosiale samehorigheid en beperk persoonlike ontwikkeling. Sonder plekke waar jongmense kan saamkom, word baie kwesbaar gelaat vanwee sosiale isolasie, werkloosheid en misdaad.

Gemeenskapsgedrewe inisiatiewe soos leeskringe, jeugsportspanne en plaaslike kreatiewe sentrums herdefinieer wat dit beteken om deel te wees. Hierdie grondvlakprojekte wys dat wanneer jongmense veilige en inklusiewe ruimtes gegun word, hulle hul eie paaie na veerkragtigheid en leierskap bou. Mobiliteit bly egter sentraal tot ware insluiting, aangesien openbare vervoer meer is as net ’n manier om te beweeg – dit is ’n lewenslyn wat jongmense met onderwys, werk en sosiale lewe verbind. Volgens navorsing deur die WNNR “raak onbetroubare en onveilige vervoerstelsels vroue en jongmense onevenredig swaar en hou dit die siklusse van ongelykheid in stand.” Deur ’n bus te verpas óf  vanwee ’n onbekostigbare taxirit kan daar toe lei dat ’n werksonderhoud, universiteitslesing óf eksamen gemis word. As ’n grondwetlike demokrasie moet ons onsself afvra hoe dit moontlik is dat ons van gelyke geleenthede kan praat wanneer toegang tot veilige vervoer steeds bepaal word deur waar ’n mens woon?

 

Die Grondwetlike Teenstrydigheid
Suid-Afrika se Grondwet verskans gelykheid, waardigheid en vryheid as die fondament van ons demokrasie. Artikel 9 bepaal dat “elkeen gelyk is voor die wet en die reg het op gelyke beskerming en voordeel van die wet.” Artikel 26 bevestig die reg op voldoende behuising, terwyl artikel 29 verklaar dat “elkeen die reg het op basiese onderwys.” Tog ondermyn ruimtelike apartheid elk van hierdie regte. Wanneer ’n jongmens om vieruur soggens moet opstaan om by die skool uit te kom, óf wanneer vervoerkoste iemand verhinder om ’n werk te aanvaar, word grondwetlike regte slegs ’n ideaal – nie ’n werklikheid nie. Ons glo dat ruimtelike geregtigheid grondwetlike geregtigheid is, en dat om die geografie van ongelykheid aan te spreek, nie bloot ’n beleidskwessie is nie, maar ’n grondwetlike verpligting. Die reg op gelykheid kan nie bestaan in ’n land waar geografie, gevorm deur die wette van apartheid, steeds die aard en omvang tot geleenthede bepaal nie.

Suid-Afrika het geen tekort aan jeugbemagtigingsprogramme nie. Beurse, opleidingsinisiatiewe en entrepreneurskapsentrums speel almal ’n belangrike rol. Tog spreek hierdie ingrypings dikwels die simptome aan eerder as die oorsaak. As ons nie die ruimtelike segregasie konfronteer wat miljoene jongmense isoleer nie, sal vooruitgang beperk bly. Ware transformasie verg meer as bloot samewerking. Dit verg ruimtelike herontwerp wat reeds sedert die aanbreek van ons demokrasie verwag word. Stede moet belê in vervoerstelsels wat bekostigbaar, veilig en doeltreffend is, terwyl dorp- en township-ekonomieë deur infrastruktuurontwikkeling, vaardigheidsopleiding en sake-aansporings herleef moet word. Skole, biblioteke en jeugsentrums moet gebou word naby waar jongmense werklik woon, nie waar beleidsdokumente hulle in teorie voorstel nie. As ons die volle potensiaal van Suid-Afrika se jeug wil ontsluit, moet ons die ruimtes waarin hulle leef en leer herbedink. ’n Toekoms wat ruimtelike apartheid afbreek, is nie net moontlik nie – dit is noodsaaklik vir ’n regverdige en werklik voorspoedige Suid-Afrika, nié net vir die jeug nié, maar vir al ons burgers.

 

Geleenthede vir die Jeug
Alhoewel die letsels van apartheid se ruimtelike ontwerp steeds sigbaar is, vergestalt dit terselfdertyd die basis waaruit nuwe idees ontkiem. Oor die hele Suid-Afrika herwin jongmense verwaarloosde ruimtes en omskep dit in sentrums van innovasie. In townships blaas mikro-ondernemings soos skeepshouerkafees, haarkapperswinkels en plaaslike kleremarke nuwe lewe in gemeenskappe. Met mikrotoelaes, plaaslike verkryging en verskaffersnetwerke kan hierdie ondernemings township-ekonomieë versterk, eerder as om talent na stede uit te voer.

Digitale werk het geleenthede verder verbreed. Tegnologiehubs in Khayelitsha, Soweto en Tembisa bewys dat ’n mens nie in Sandton hoef te wees om deel te wees van die wêreldekonomie nie. Programme soos YES4Youth en Youth Capital verbind gegradueerdes met afgeleë werksgeleenthede, terwyl gratis Wi-Fi en openbare saamwerkruimtes toegang verder kan uitbrei. In landelike gebiede omskep jongmense klein plase in landboubesighede – hulle botteleer heuning, verwerk neute en kweek avokado’s – ondersteun deur koöperatiewe landbouverwerking en die Departement van Landbou se Jeug in Landbou-strategie.

Die kreatiewe ekonomie floreer ook – van TikTok-filmmakers in Mamelodi tot modeontwerpers in Durban. Met munisipale steun vir ateljees, kunsruimtes en kulturele befondsing kan hierdie bedrywe duisende mense in diens neem terwyl hulle die Suid-Afrikaanse identiteit herdefinieer. Jongmense hervorm eweneens hul toekoms deur infrastruktuur-, hernubare-energie- en afval-tot-energieprojekte wat in lyn is met die Groen Waterstofstrategie, en skep daarmee beide vaardighede en eienaarskap. Intussen spreek plaaslike ritdeeltoepassings, mikromobiliteitskemas en elektriese pendeldiens-opstartondernemings vervoerongelykhede aan en wys die pad na volhoubare, jeuggeleide township-vervoerstelsels.

Vir miljoene jongmense bepaal geografie steeds hul toegang tot onderwys, werk en waardigheid. Tog is dit juis die jeug wat regoor die land hierdie oorgeërfde skeidslyne omskep in ruimtes van innovasie, onderneming en hoop. Hul vasberadenheid bewys dat verandering nie hoef te wag vir volmaakte beleid nie. Om ware gelykheid te verwesenlik, moet Suid-Afrika sy fisiese en ekonomiese landskap herontwerp sodat geleenthede nie langer deur afstand bepaal word nie. Om hierdie onsigbare mure af te breek, is nie bloot ’n ontwikkelingsdoelwit nie – dit is ’n grondwetlike plig.