+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

RNE OP DIE AFGROND? DIE BROOSHEID VAN SUID-AFRIKA SE POLITIEKE EENHEID

Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 09/10/2024

 

Suid-Afrika het op 26 September 2024 ‘n belangrike politieke moment beleef met die beëindiging van Cilliers Brink, die burgemeester van Tshwane van die Demokratiese Alliansie (“DA”) se termyn, ná ‘n mosie van wantroue wat deur die African National Congress (“ANC”) georkestreer en deur ActionSA ondersteun is. Hierdie dramatiese wending in die plaaslike regering gaan verder as net ‘n verandering in leierskap. Dit laat diep kommer ontstaan oor die stabiliteit van die breër politieke landskap en die broosheid van die Regering van Nasionale Eenheid (“RNE”). Alhoewel hierdie skuif oënskynlik gemotiveer is deur beskuldigings van finansiële wanbestuur en ‘n gebrek aan verbetering in dienslewering, dui Brink se verwydering ook op dieper spanning in Suid-Afrika se politieke stelsel – spanning wat verreikende gevolge kan hê vir die toekoms van die RNE en die bestuur op plaaslike sowel as nasionale vlakke.

Die RNE, wat deur president Cyril Ramaphosa en DA-leier John Steenhuisen tot stand gebring is, berus op belangrike beginsels soos respek vir die Grondwet, nie-rassigheid, sosiale geregtigheid en aanspreeklikheid. Die RNE, wat bedoel is om demokratiese bestuur en stabiliteit te handhaaf, staar tans interne bedreigings van binne die ANC in die gesig. Brink se aflegging onthul hierdie groeiende verdeeldheid, met invloedryke figure soos Panyaza Lesufi, die premier van Gauteng, wat pleit vir alternatiewe alliansies wat die eenheid van die RNE uitdaag. Namate hierdie skeure verdiep, is die waardes waarop die RNE gebou is soos deursigtigheid, nasiebou en goeie bestuur, in ernstige gevaar. As hierdie verdeeldheid voortduur, kan die eenheid wat noodsaaklik is om Suid-Afrika se politieke en ekonomiese toekoms te beskerm, ontrafel, wat die land in ‘n groter onstabiliteit kan dompel.

Lesufi se toenemende prominensie voor die ANC se 2027- Nasionale Konferensie stel ‘n duidelike uitdaging vir die toekoms van die RNE. As ‘n uitgesproke kritikus van die RNE, veral sy samewerking met “histories wit” partye soos die DA, het Lesufi homself posisioneer as ‘n potensiële voorloper vir die ANC-presidentskap. Sy voorkeur vir alliansies met bevrydingsbewegings soos die PAC en Azapo dui op ‘n skerp verskuiwing weg van die sentristiese, inklusiewe benadering van Ramaphosa se ANC. Terwyl Lesufi sy presidensiële ambisies onderspeel, dui gerugte oor sy belyning met adjunkpresident Paul Mashatile op ‘n moontlike terugkeer na populistiese Zuma-era-politiek. Hierdie leierskapkompetisie kan bepaal of die ANC aanhou om die beginsels van die RNE te ondersteun óf onder druk versplinter, wat moontlik nasionale stabiliteit kan ondermyn.

As hierdie anti-RNE-magte voor 2027 beheer oor die ANC verkry, kan dit die eerste stap wees in die ontrafeling van die brose eenheid wat deur Ramaphosa en Steenhuisen geskep is. Die ANC se interne stryd, gedryf deur figure soos Lesufi, kan nie net die party se identiteit hervorm nie, maar ook Suid-Afrika in ‘n era van politieke onsekerheid laat beland, waar bestuur onder druk van binnegevegte kom en openbare dienste die slagoffer van politieke agendas word.

Die mosie van wantroue teen Brink het ontstaan uit bewerings dat sy administrasie nie daarin geslaag het om dienslewering in Tshwane te verbeter nie. Die Grondwet is duidelik oor die verantwoordelikhede van plaaslike regering, veral met betrekking tot dienslewering. Artikel 152 van die Grondwet skets die doelwitte van plaaslike regering, wat insluit die verskaffing van dienste aan gemeenskappe op ‘n volhoubare wyse en die bevordering van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling.

Alhoewel dit waar is dat die stad, soos baie ander regoor Suid-Afrika, groot uitdagings in die gesig staar om basiese dienste aan sy inwoners te lewer, is dit noodsaaklik om die breër konteks in ag te neem. Brink se administrasie het verskeie sleutelinisiatiewe aangepak, veral die Hammanskraal-waterprojek, wat daarop gemik was om skoon en betroubare water aan een van die mees verwaarloosde gedeeltes van die stad te voorsien. Sy administrasie het ook gefokus op die aanspreek van die stad se finansiële probleme, wat voortspruit uit vorige ANC-beheerde rade. Óf sy verwydering tot verbeteringe sal lei, moet nog gesien word, maar politieke onstabiliteit bevorder selde beter bestuur.

Die mosie, gesteun deur ActionSA — ’n party wat gestig as teenvoeter vir die ANC — laat vrae ontstaan oor die motiewe agter sy belyning met die ANC in hierdie kritieke oomblik. Teen die agtergrond van verskillende menings, wys sommige waarnemers na die “MICE”-reël as ‘n manier om hierdie maneuver te verstaan: Kon daar geld ter sprake wees, al is daar geen bewyse van korrupsie nie? Word dit gedryf deur ideologiese botsings met die DA onder Brink se leierskap? Óf is daar dalk dwang betrokke, met kompromitterende inligting? Laastens kan persoonlike ambisie en politieke ego ook ‘n rol speel. Wat die rede ook al mag wees, die aksie deur Action SA verhef hul politieke belange bo die dringende diensleweringsbehoeftes van Tshwane se inwoners. Dit maak van hulle in pionne in ‘n groter magstryd.

Die verwydering van Brink kan ‘n oorspoeleffek ver buite Tshwane hê en kan as ‘n katalisator vir verdere politieke chaos dien as die anti-RNE-faksie binne die ANC meer momentum kry. Aangesien Gauteng Suid-Afrika se ekonomiese enjin is, kan onstabiliteit hier groter ekonomiese gevolge regoor die land veroorsaak. Plaaslike regeringsdiensleweringskwessies is nie beperk tot geïsoleerde munisipaliteite nie; hulle weerspieël die breër uitdagings wat die bestuur in Suid-Afrika in die gesig staar. ‘n Verswakte RNE sal nie net plaaslike regerings beïnvloed nie, maar kan ook belangrike nasionale beleide stuit, onsekerheid oor ekonomiese hervormings skep en beleggersvertroue ondermyn.

Helen Zille, DA Federale Raadsvoorsitter, het die spanning verhoog met haar brief aan die ANC-leierskap op 27 September. Sy het geëis dat Brink heraangestel word en sy afsetting as ‘n “seismiese gebeurtenis” beskryf wat die RNE se toekoms bedreig. Zille het gewaarsku dat, tensy Brink terugkom, die DA sy samewerking in ander munisipaliteite sal heroorweeg. Dit dui daarop dat nasionale eenheid – en stabiliteit – nou in die weegskaal is, met breër gevolge vir Suid-Afrika se ekonomiese en politieke landskap.

As bogenoemde scenario ontvou en die deur oopswaai vir die EFF, MKP óf ander partye wat nie ten volle met die Grondwet belyn is nie om die regeringsmag te bekom, dreig ‘n ramp op die horison. Die EFF het geen geheim daarvan gemaak dat hy radikale ekonomiese hervormings wil deurvoer nie, insluitend grondonteiening sonder vergoeding en die nasionalisering van sleutelbedrywe. As hierdie beleide geïmplementeer word, kan dit lei tot wye onsekerheid in die markte, eiendomsregte erodeer en die oppergesag van die reg ondermyn – kernbeginsels van die demokratiese Suid-Afrika wat in 1994 ontstaan het. Die ineenstorting van die RNE en die potensiële opkoms van so ‘n alliansie sal nie net politieke instellings destabiliseer nie, maar kan ook die land se aansien in die wêreldgemeenskap benadeel en sy ekonomiese fondamente verswak

Brink se verwydering is net een hoofstuk in hierdie ontvouende drama, maar dit dien as ‘n duidelike barometer van die broosheid van Suid-Afrika se huidige politieke ewewig. Die inwoners van Tshwane, soos baie ander regoor die land, het stabiele en doeltreffende bestuur nodig – bestuur wat dienslewering en ekonomiese ontwikkeling bo faksionele magstryd prioritiseer. Die vraag is nou of die RNE die vele storms sal kan oorleef, indien nié, sal die magte van verdeeldheid binne die ANC en die opkoms van radikale populisme sy ondergang meebring.

Terwyl die Stad Tshwane hom voorberei vir ‘n spesiale raadsvergadering op 9 Oktober 2024 om ‘n nuwe burgemeester te verkies, is die spanning tasbaar. Met net 14 dae oor om ‘n opvolger aan te stel, is partyleiers in onderhandelinge betrokke wat ‘n dooiepunt kan veroorsaak. Sal hierdie deurslaggewende oomblik eenheid versterk, óf verdere verdeeldheid meebring?

Die krake in die RNE word al groter, en soos ons die ANC se 2027-leierskapkompetisie nader, sal hierdie verdeeldheid net verdiep. As die anti-RNE-faksie in beheer kom, kan Suid-Afrika se politieke landskap onherroeplik verander, met gevolge wat ver buite die grense van Tshwane strek. Die land staan by ‘n kruispad en die besluite wat in die volgende paar jaar geneem word, sal die toekoms van sy demokrasie, sy ekonomie en die lewens van miljoene burgers bepaal. As diegene in mag gefokus bly op politieke ambisie eerder as op effektiewe bestuur, kan Suid-Afrika se politieke stelsel tot op die afgrond gedruk word, met die ineenstorting van die RNE wat moontlik die kantelpunt kan wees.

The FW de Klerk Foundation Annual Conference

The FW de Klerk Foundation Annual Conference – hosted in conjunction with the Konrad-Adenauer-Stiftung – took place on 31 January 2025. The theme of this year’s conference is: “South Africa’s Position in the World Today”.
 

 Esteemed speakers include Ambassador Andreas Peschke (Ambassador of the Federal Republic of Germany); Magda Wierzycka (CEO of Sygnia); Dr Harlan Cloete (Local Governance and Public Leadership – Research Fellow) and Johan “Rassie” Erasmus (Springbok Coach).