Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
REGERING SE PLAN OM HOËVLAK-KERNAFVAL BY VAALPUTS TE BERG
Uitgereik deur Amirah Hassim namens die FW de Klerk Stigting op 14/08/2025
Die FW de Klerk Stigting neem met kommer kennis van die regering se voorneme om ’n gesentraliseerde, tussentydse fasiliteit by Vaalputs (Namakwaland) te ontwikkel vir die berging van gebruikte kernbrandstof (hoëvlak-radioaktiewe afval). Vaalputs het histories slegs lae- en intermediêre-vlak afval van Koeberg en die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika (Necsa) se SAFARI-navorsingsreaktor ontvang. Die terrein se afgeleë ligging, swak padtoestande en beperkte selfoonontvangs laat ernstige, praktiese vrae ontstaan oor noodreaksie tydens vervoerinsidente en oor deurlopende monitering. Hierdie realiteite vereis deursigtigheid, ’n geloofwaardige risiko-assessering en egte openbare deelname voordat enige besluit geneem word.
Institusioneel is die Nasionale Instituut vir die Wegdoening van Radioaktiewe Afval (“NIWRA”) nou gelisensieer om die Vaalputs-fasiliteit te bedryf, wat tans slegs gemagtig is vir die wegdoening en berging van laevlak-afval. Enige stap om hoëvlak-radioaktiewe afval daar te berg, sal ’n afsonderlike, streng lisensiëringsproses deur die Nasionale Kernreguleerder (“NKR”) vereis, met aantoonbare voldoening aan alle veiligheidsstandaarde.
Ons grondwetlike maatstaf is duidelik. Artikel 24 van die Grondwet waarborg elkeen die reg op ’n omgewing wat nie skadelik is vir hul gesondheid of welsyn nie, en verplig die staat om die omgewing tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte te beskerm. Besluite van hierdie omvang moet ook die vereistes van verantwoordbare, deelnemende en regmatige administrasie nakom, soos in artikel 195 bepaal. Om voort te gaan sonder die publikasie van ’n volledige, wetlik behoorlike omgewingsimpakstudie, geloofwaardige vervoer- en noodreaksiebeplanning, en ’n oop, deursigtige redegewingsproses, sou onbestaanbaar wees met hierdie grondwetlike imperatiewe.
Die jeukwessie kan nie geïgnoreer word nie. Jeugwerkloosheid het in die eerste kwartaal van 2025 op 46,1% gestaan. Openbare vertroue in groot infrastruktuurbesluite – veral dié wat landelike ekonomieë en voedselwaardekettings raak – beïnvloed direk die vooruitsigte vir vaardigheidsontwikkeling, plaaslike indiensneming en intergenerasionele billikheid. Om jongmense, plaaslike produsente en onafhanklike kenners in ’n deursigtige proses te betrek, is nie ’n blote afmerk-oefening nie; dit is noodsaaklik vir legitimiteit en langtermynvolhoubaarheid.
Internasionale ervaring toon dat die veiligste permanente oplossing vir hoëvlak-radioaktiewe afval diepgeologiese berging is. Finland en Swede is die verste gevorder: Finland se program betree operasionele fases by Onkalo, en Swede het met die bou van sy Forsmark-bergingsaanleg begin ná die nodige goedkeurings. Suid-Afrika behoort teen hierdie bestepraktyke te meet, terwyl nakoming van eie wetgewing en gemeenskapstoestemming by elke stap verseker word.
Gevolglik doen die Stigting ’n beroep op ’n opskorting van enige verbintenis tot hoëvlak-berging by Vaalputs totdat: die omgewingsimpakstudie voltooi en met betekenisvolle openbare deelname gepubliseer is; ’n omvattende (deurgaanse) risiko- en noodreaksieplan onafhanklik hersien en bekendgemaak is; en duidelike, beredeneerde besluite uitgereik is met afdwingbare waarborge vir monitering, toesig en goeie bestuur.
Hoewel energiesekuriteit van kardinale belang is, mag dit nooit ten koste van grondwetlike regte, openbare veiligheid of omgewingsintegriteit geskied nie.