+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

PRESIDENT RAMAPHOSA SE HELDEVERERING VAN ZIMBABWE SE GEWELDADIGE GRONDGRYPE IMMOREEL EN GRENS AAN DESPERAATHEID

Uitgereik deur Christo van der Rheede en Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 03/09/2025

 

Die FW de Klerk Stigting neem met groot kommer kennis van die onlangse opmerkings van president Cyril Ramaphosa, waarin hy klaarblyklik Zimbabwe se grondherverdelingsbeleid geprys het. In ’n toespraak in Harare het president Ramaphosa vergelykings getref tussen Suid-Afrika en Zimbabwe se geskiedenis van grondontneming en gesê dit was “noodsaaklik … dat die regering ambisieuse hervormings aanpak om die toetrede van swart Zimbabwiërs tot produktiewe landbou te vergemaklik, insluitend ondersteuning aan kleinskaalse boere.”

Zimbabwe se grondbesettings in die vroeë 2000’s is egter gekenmerk deur gewelddadige invalle en menseregteskendings en het uiteindelik die land “in armoede gedompel, die ekonomie vernietig… en hongersnood onder sy mense veroorsaak.” Dat president Ramaphosa só ’n rampspoedige proses as ’n positiewe voorbeeld voorhou, is diep kommerwekkend.

As ’n stigting wat toegewy is aan konstitusionalisme en menseregte, vind die FW de Klerk Stigting dit onverklaarbaar dat die staatshoof ’n beleid sou aanprys wat soveel skade aan ’n buurland aangerig het. President Ramaphosa se opmerkings dui op ’n blinde politieke lojaliteit aan Zimbabwe se regerende party, ongeag die verreikende implikasies vir die burgery wat in armoede leef terwyl die politieke elite luukse lewens lei. Dit is nie net immoreel nie, maar grens aan desperaatheid.

Suid-Afrika se eie geskiedenis van gedwonge verskuiwings vereis regstelling, maar dit moet binne die raamwerk van ons Grondwet geskied. Artikel 25 van die Grondwet balanseer billike grondhervorming met die beskerming van eiendomsregte. Al laat dit onteiening toe, verbied dit arbitrêre ontneming van eiendom.

In teenstelling met Zimbabwe se chaotiese grondgrype, kan ons land ongeregtighede regstel deur wettige hervormings wat menswaardigheid, sosiale samehorigheid en ekonomiese groei bevorder. Onteiening sonder vergoeding (“OSV”), soos vervat in die Onteieningswet van 2024, is strydig met hierdie grondwetlike beginsels en behoort verwerp te word.

Eerder as om Zimbabwe se tragiese voorbeeld te verheerlik, moet Suid-Afrika sy eie mislukte grondhervormingsplanne aanspreek. Derduisende plase wat oor tyd oorgedra is, lê braak. En gemeenskapsplase (CPA’s) is in chaos gedompel met geen vooruitsigte vir produktiewe ontsluiting van die grond nie.

Verder bly die staat steeds een van die grootste grondeienaars in die land, maar groot dele van hierdie grond lê onbenut óf word swak bestuur. Voordat private eiendomsregte ondermyn word, moet die regering staatsgrond deursigtig beskikbaar stel en opkomende boere toerus met die nodige vaardighede, kapitaal en ondersteuning om te floreer.

Grondhervorming sonder produktiwiteit verdoem mense tot armoede; hervorming met integriteit en hulpbronne bring ware waardigheid,” het Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting, gesê.

Hierdie voorval beklemtoon hoe toondowe leierskap ’n nasie kan verdeel en skade kan berokken,” het Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering by die FW de Klerk Stigting, gesê. “Suid-Afrikaners dring daarop aan dat die regering ons land deur middel van verstandige, regmatige hervormings – nie deur vernietigende eksperimente nie, op ‘n pad va voorspoed plaas. Ons mag nie ons grondwetlike beginsels versaak in ’n misleide poging om vorige ongeregtighede reg te stel nie. Grondhervorming moet verwesenlik word sonder om ons ekonomie óf ons nasionale eenheid te ondermyn.”

Die FW de Klerk Stigting doen gevolglik ’n beroep op president Ramaphosa en die regering om hul verbintenis tot grondwetlike grondhervorming te herbevestig. Ons vra dat die Presidensie duidelik maak dat Suid-Afrika nie Zimbabwe se mislukte benadering sal navolg nie, maar eerder beleide sal implementeer wat geregtigheid, voedselsekerheid en stabiliteit binne die raamwerk van die wet bevorder. Nou is die tyd om eenheid bo verdeeldheid te stel, konstitusionalisme bo populisme, en konstruktiewe oplossings bo roekelose retoriek. In ’n era van wêreldwye onsekerheid en binnelandse uitdagings moet Suid-Afrika se leiers die land se langtermynbelange bo partypolitieke lojaliteite plaas en verseker dat ons grondwetlike waardes die kompas vir die nasie se toekoms bly.