
Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
ONTEIENINGSWET NOU WET - DIE FW DE KLERK STIGTING DOEN 'N BEROEP OP LP'S OM ARTIKEL 80 OPSIE UIT TE OEFEN
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 24/01/2025
Op 23 Januarie 2025 het President Cyril Ramaphosa die Onteieningswetsontwerp bekragtig. Nou bekend as die Wet op Onteiening, 2024, laat hierdie wet die Staat toe om grond vir “nul vergoeding” te onteien.
“Suid-Afrika staar ernstige risiko’s in die gesig as die Wet op Onteiening, 2024 nie eiendomsregte beskerm nie, maar eerder beperk en ondermyn,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting. “Wie gaan belê op grond waar die eienaarskap nie verseker is nie? Banke en voedselveiligheid word direk geraak aangesien Suid-Afrika se huiseienaars ongeveer R4 triljoen aan banke skuld en Suid-Afrika se boere voedsel produseer op die rug van skuld,” verduidelik van der Rheede.
Die Wet is wettiglik gebrekkig volgens Daniela Ellerbeck, ‘n prokureur en die Stigting se Programbestuurder vir Grondwetlike Regte: “Artikel 25 van die Grondwet bepaal uitdruklik dat sodanige onteiening onderhewig is aan regverdige en billike vergoeding wat deur die staat aan die persoon wie se eiendom onteien word, betaal moet word,” sê Ellerbeck. “Die Grondwet is die hoogste reg in Suid-Afrika, wat beteken dat enige wet wat die Grondwet weerspreek, nietig is. Gegewe dat die poging om die Grondwet te verander om vir nul vergoeding voorsiening te maak, deur die Parlement in Desember 2021 verwerp is, is die Wet op Onteiening, 2024 in so ver as wat dit nul vergoeding toelaat, onmiddellik oop om in die hof uitgedaag te word, omdat dit nie strook met die Grondwet nie,” verduidelik Ellerbeck.
“Dit klink alarmisties, maar elke burger in die land sal armoede en honger in die gesig staar as die Onteieningswet, 2024 nie verander word om in lyn te wees met die Grondwet en met gesonde ekonomiese beginsels in gedagte nie,” sê van der Rheede. “Om hierdie rede doen die Stigting ‘n beroep op lede van die parlement se Nasionale Vergadering om mekaar te vind. As ten minste ‘n derde van hulle bekommerd is oor die grondwetlikheid van die Wet op Onteiening, het hulle het ‘n maand om ‘n direkte aansoek by die Konstitusionele Hof in te dien om die Hof te vra om die wet ongrondwetlik te verklaar (artikel 80 van die Grondwet).”