Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
ONREËLMATIGE AANSTELLINGS, ALGEMENE MUNISIPALE WETSONTWERP OM TYDPERK VIR REGSTELLING VERDER TE VERLENG
Uitgereik deur Daniela Ellerbeck namens die FW de Klerk Stigting op 27/08/2024
Inleiding:
Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (“die Departement”) het twee (2) wetsontwerpe wat munisipaliteite raak vir openbare kommentaar vrygestel – die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture 2024 (die “Koalisiewetsontwerp”) en die Wysigingswetsontwerp op Plaaslike Regering: Algemene Wette, 2024 (die “Algemene Munisipale Wetsontwerp”). Beide wetsontwerpe is in Mei vrygestel vir openbare kommentaar tot 31 Augustus 2024. Die Stigting het skriftelike regsvoorleggings oor beide wetsontwerpe gemaak. Hierdie artikel sal handel oor die Algemene Munisipale Wetsontwerp. (Lees meer oor die Koalisiewetsontwerp hier.)
Wat beoog die Algemene Munisipale Wetsontwerp?
Die Departement is die staatsdepartement verantwoordelik vir plaaslike regering, dit wil sê munisipaliteite. Verskeie wette beheer munisipaliteite en die Wetsontwerp stel ten doel om drie (3) van hierdie wette te wysig:
- Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000;
- Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998; en
- Die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Eiendomsbelasting, 2004.
Die Algemene Munisipale Wetsontwerp het onder meer ten doel om:
- Die tydsbeperkings te verleng vir ‘n provinsie se LUR vir plaaslike regering om gepaste stappe te neem wanneer ‘n munisipale bestuurder (óf ‘n bestuurder wat direk aan hulle aanspreeklik is) teenstrydig met die wet aangestel word.
- Die Gedragskode vir Munisipale Personeellede te wysig om te vereis dat munisipale personeel hulself daarvan weerhou om finansiële wangedrag te pleeg en om te verseker dat ongemagtigde, onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes en ander verliese voorkom word; en
- Sommige van ‘n distriksmunisipaliteit se funksies en bevoegdhede, bv. grootmaat voorsiening van elektrisiteit, aan ‘n plaaslike munisipaliteit oor te dra.
Die Stigting se perspektiewe:
Die FW de Klerk Stigting se voorlegging dui op prosedurele bekommernisse: Beide die Algemene Munisipale Wetsontwerp en die Koalisiewet is ‘n week uitmekaar vir openbare kommentaar met dieselfde verlengde sperdatum van 31 Augustus 2024, vrygestel. Daarbenewens beoog beide wetsontwerpe om die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Strukture, 1998 te wysig en albei is oop om kommentaar aan dieselfde entiteit te rig, naamlik die Departement. Die Stigting wys die Departement daarop dat die bogenoemde oorvleueling waarskynlik die publiek sal verwar, wat verkeerdelik kan glo dat slegs een wetsontwerp bestaan. Dit mag deelname beïnvloed.
Met betrekking tot die tydperk om onreëlmatige aanstellings reg te stel die volgende: Die Wetsontwerp stel voor dat die tyd wat die LUR sal hê om die munisipaliteit te dwing om aan die wet te voldoen in sy aanstelling van munisipale bestuurders (óf bestuurders wat direk aan hulle aanspreeklik is) verleng word vanaf 14 tot 30 dae. Dit sal ook daarna die munisipaliteit 30 dae gun om die aanstelling te heroorweeg. Dit verleng die tydperk om die wet na te kom van twee weke tot twee maande sedert die LUR die eerste keer bewus geword het van die onreëlmatige aanstellings. Die wetsontwerp se memorandum verskaf nie ‘n rede hiervoor nie. Dit verklaar bloot dat dit poog om die tyd te verleng waarin die LUR vir plaaslike regering toepaslike stappe moet neem. Die Stigting het gevra dat die wetsontwerp se voorstel geskrap word en daarop gewys dat munisipaliteite ‘n wetlike plig het om aanspreeklike regering te verskaf; hul hulpbronne in hul plaaslike gemeenskap se beste belang te gebruik en om te verseker dat munisipale dienste op ‘n finansieel volhoubare wyse aan die plaaslike gemeenskap gelewer word (artikel 4(2) van die Wet op Munisipale Stelsels). Daarbenewens vereis artikel 195 van die Grondwet ook dat munisipaliteite ‘n hoë standaard van professionele etiek moet hê; aanspreeklik is en hul hulpbronne ekonomies en doeltreffend gebruik. Die Stigting se standpunt is dat die verlenging van die tydperk om onreëlmatige aanstellings reg te stel, direk teenstrydig is met die bogenoemde pligte en onredelik is sonder enige poging om die sodanige verlenging te regverdig.
Die Stigting ondersteun die wetsontwerp se voorstel om die Gedragskode vir Munisipale Personeellede te wysig. Dit is aan die Departement voorgelê dat hierdie wysigings versterk kan word deur die definisies van: “finansiële wangedrag“, “ongemagtigde uitgawes“, “onreëlmatige uitgawes” en “vrugtelose en verkwistende uitgawes” in te sluit. (Hierdie definisies word reeds omskryf in die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Finansiële Bestuur, 2003.)
Met betrekking tot die wetsontwerp se voorstel dat sommige van ‘n distriksmunisipaliteit se funksies en magte aan ‘n plaaslike munisipaliteit oorgedra word, het die Stigting uitgewys dat nie alle funksies en magte wat dit voorstel om van distriksmunisipaliteite weg te neem, aan ‘n plaaslike munisipaliteit toegeken word nie, wat ‘n leemte skep. Sulke magte en funksies moet óf by distriksmunisipaliteite bly, óf aan plaaslike munisipaliteite oorgedra word.
Volgende stappe:
Die Departement vra tans vir publieke kommentaar op die wetsontwerp tot einde Augustus 2024. Suid-Afrikaners word aangemoedig om hul demokratiese reg uit te oefen om deel te wees van die wetgewingsproses en aan die Departement kommentaar te lewer oor wat in die wetsontwerp gewysig moet word.