Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
ONDERVOEDING BY KINDERS EN GEWELD VEREIS DRINGENDE AKSIE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 29/09/2025
Suid-Afrika staar ’n uitdagende werklikheid in die gesig. Ons kinders sterf van beide hongersnood en geweld. Tussen Januarie en Julie 2025 het sewentig kinders in die Oos-Kaap aan ernstige akute wanvoeding gesterf. In die Wes-Kaap is minstens 63 kinders binne net vyf maande vermoor, meestal as gevolg van bendegeweld. Hierdie statistieke is ’n ernstige aanklag teen staatsverwaarlosing en die mislukking van instellings wat ons kinders moes beskerm.
Die Grondwet waarborg elke kind se reg op basiese voeding, skuiling, gesondheidsorg en maatskaplike dienste (artikel 28(1)(c)), asook die reg om beskerm te word teen mishandeling, verwaarlosing, misbruik of vernedering (artikel 28(1)(d)). Die staat is ingevolge artikel 7(2) verplig om hierdie regte te “respekteer, beskerm, bevorder en vervul”. Tog wys die feite duidelik dat die regering nie met die nodige dringendheid of samehang opgetree het nie.
In die Oos-Kaap het die Menseregtekommissie premier Oscar Mabuyane gedagvaar om te verduidelik waarom die aanbevelings van ’n 2022-verslag – insluitend die afkondiging van ’n ramptoestand en die stigting van distriksvlak-bevelsentrums – nog nie geïmplementeer is nie. Syfers van die Departement van Gesondheid bevestig 1 087 gevalle van ernstige akute wanvoeding in 2021/22, met 107 sterftes in 2024. Amptenare erken self dat hierdie syfers die omvang van die werklike krisis onderskat, aangesien dit nie kinders buite openbare gesondheidsfasiliteite insluit nie.
In die Wes-Kaap het die SAPD aan die provinsiale wetgewer gerapporteer dat 557 kinders tussen 2022 en 2024 vermoor is, en dat tieners tussen 15 en 17 jaar meer as 70% van die onlangse moorde uitmaak. Bendegeweld word as die grootste dryfveer aangedui.
Gemeenskappe word intussen gedwing om op bendes staat te maak vir sosiale ondersteuning en beskerming, wat kinders vasvang in ‘n spiraal van werwing, intimidasie en dood.
“Dit is nie losstaande tragedies nie, maar eerder ‘n maatstaf van hoe ver ons as ’n nasie tekortskiet,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van Grondwetlike Bevordering. “Wanneer sewentig kinders in een provinsie van honger sterf en drie-en-sestig in ’n ander binne enkele maande vermoor word, wys dit op ’n totale verval van dringendheid en medemenslikheid. Die Grondwet vereis dat die staat elke kind se reg op lewe, waardigheid en sorg beskerm. Enigiets minder is eenvoudig onverdedigbaar.”
“Suid-Afrikaners verdien visionêre leierskap wat die regte van kinders in die middelpunt van regeringsprioriteite plaas,” voeg Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur, by. “Dit beteken gekoördineerde optrede tussen gesondheid, maatskaplike ontwikkeling, onderwys, polisiëring en gemeenskapsstrukture. Dit beteken gereelde verslagdoening aan die publiek en werklike gevolge wanneer regte geskend word. Bowenal beteken dit dat die oorlewing van kinders as ononderhandelbaar beskou moet word.”
Suid-Afrika kan nie voortgaan op ’n koers waar kindersterftes – hetsy weens wanvoeding of geweld – as normaal aanvaar word nie. Die tyd vir reaksionêre en onsamehangende reaksies is verby. Die Grondwet vereis dringende, eensgesinde en verantwoordbare optrede.