Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting
Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.
ONBESTEDE ONDERWYSFONDSE SKEND KINDERS SE GRONDWETLIKE REGTE
Uitgereik deur Ismail Joosub namens die FW de Klerk Stigting op 03/11/2025
Suid-Afrika se onderwysstelsel verkeer in ’n dubbele krisis. Dit behels administratiewe wanbestuur en die skending van kinders se grondwetlike regte. Volgens die Departement van Basiese Onderwys se 2024/25-jaarverslag het sewe provinsiale onderwysdepartemente gesamentlik versuim om bykans R150 miljoen in voorwaardelike toelaes te bestee. Hierdie fondse was bedoel vir skoolvoedingskemas, vroeë kinderontwikkeling (“VKO”) en noodsaaklike infrastruktuur. Limpopo alleen het nagelaat om R69,7 miljoen te bestee – insluitend R33,2 miljoen vir skoolvoeding en R11,3 miljoen vir infrastruktuur.
Hierdie onderbesteding het plaasgevind te midde van wydverspreide hongerte onder kinders, oorvol klaskamers en vervalle fasiliteite – ’n situasie wat strydig is met artikel 29(1)(a) van die Grondwet, wat aan elkeen die reg op basiese onderwys waarborg, en artikel 28(1)(c), wat elke kind se reg op basiese voeding, behuising en maatskaplike dienste beskerm. Kragtens artikel 7(2) is die staat verplig om hierdie regte te “respekteer, beskerm, bevorder en te vervul”, maar hierdie plig kan nie nagekom word nie wanneer geallokkeerde fondse nie benut word nie.
“Om miljoene rande wat bestem is om kinders te voed en op te voed, terug te stuur na Tesourie, is onverdedigbaar,” sê Ismail Joosub, Bestuurder van die Grondwetlike Bevorderingsprogram by die FW de Klerk Stigting. “Die Nasionale Skoolvoedingsprogram en infrastruktuurtoelaes is lewenslyne – nié luukshede of opsionele byvoegings nié. Hierdie versuim dui op ’n ineenstorting van grondwetlike aanspreeklikheid en verraad teenoor die armste leerders.”
Die Stigting wys daarop dat begrotingstekorte en administratiewe ondoeltreffendhede die staat nie van sy grondwetlike verpligtinge onthef nie. Provinsies wat versuim om hul fondse te bestee, moet regstellende maatreëls in die gesig staar ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur van 1999 (“WOFB”), terwyl die Parlement se toesigkomitees hul grondwetlike plig ingevolge artikel 55(2) moet nakom om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep.
“Die oplossing lê nie daarin om begrotings verder te sny nie, maar daarin om kapasiteit, beplanning en aanspreeklikheid te versterk,” sê Christo van der Rheede, Uitvoerende Direkteur van die Stigting. “Provinsiale tesourieë en onderwysdepartemente moet gevolgbestuur toepas en deursigtige bestedingsverslae publiseer. Die reg op onderwys is die hoeksteen van sosiale geregtigheid – en dit kan nie uitgestel óf afgeskeep word nie.”
Die FW de Klerk Stigting doen ’n dringende beroep op die regering om onmiddellik korrektiewe maatreëls te tref, sodat elke rand wat aan onderwys toegeken word, die klaskamer, die kind en uiteindelik die Grondwet dien waarvoor dit bedoel is.