+27 (0) 21 930 3622
info@fwdeklerk.org

Ondersteun die werk van die FW de Klerk Stigting

Vir meer inligting oor skenkings kontak info@fwdeklerk.org of skandeer die QR-kode hieronder.

NUUSVERKLARING RAKENDE RNE SE ONTMOETING MET DIE WITHUIS

Uitgereik deur Christo van der Rheede namens die FW de Klerk Stigting op 19/05/2025

 

Die ontmoeting tussen President Cyril Ramaphosa, van sy kabinetslede in die RNE en President Donald Trump moet verwelkom en ondersteun word. Die Stigting het reeds vroeër die jaar voorspraak in ‘n ope brief gemaak vir ‘n konstruktiewe gesprek tussen die Uniegebou en die Withuis.

Die Stigting is van mening dat daar op sake wat tot beide Suid-Afrika en die VSA voordeel strek, gefokus moet word, eerder as om verstrengel te raak in oppervlakkige huishoudelike kwessies.

Die kollig moet veral val op die handelsterrein en aangeleenthede wat verband hou met strategiese geo-politieke kwessies.

Op die handelsterrein, bly Suid-Afrika die VSA se grootste handelsvennoot in Afrika. Handel tussen dié twee lande beloop reeds meer as $20 miljard.

Daar is ook ongeveer 600 Amerikaanse maatskappye in Suid-Afrika bedrywig. Hierdie maatskappye het tot 200 000 mense in diens.

Die Verenigde State voer ook verskeie belangrike minerale uit Suid-Afrika in, insluitend platinum, goud, chroom, mangaan en verskeie ander ertse en slak. Volgens die Minerale Raad vorm Platinumgroepmetale ‘n beduidende deel van Suid-Afrika se uitvoere na die VSA, net soos yster en staal,.

Hierdie uitvoere het gedurende 2024 ongeveer US$10,94 miljoen beloop. Die Trump-administrasie het ook hierdie minerale vrygestel van tariefheffings.

Op geo-politieke vlak speel President Ramaphosa ‘n uiters strategiese rol agter die skerms. Sy bande met beide Putin en Zelensky en ook die feit dat hy die oor het van Iran en Hamas plaas hom in ‘n unieke posisie om saam met die VSA vrede in konflikgeteisterde wêrelddele te help bewerkstellig. Hierdie kwessies het hy reeds vroeër in ‘n telefoongesprek met President Trump aangeraak. Moet ook nie sy goeie verhouding met President Xi Jinping van China vergeet nie.

President Ramaphosa moet hierdie troefkaarte benut om wêreldvrede te help bevorder en om ‘n meer regverdige globale handelsregime te help beding.

Die wêreld staar beduidende uitdagings in die gesig. Armoede, onderontwikkeling, hongersnood, misdaad, internasionale dwelmkartelle en terrorisme groepe hou groot risiko’s vir wêreldvrede en stabiliteit in. Staatsmanskap en visionêre leierskap is nodig om hierdie uitdagings saam aan te pak. Dit verwag beide die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse nasie van hul politieke leiers.

Die Stigting verwelkom ook dat kabinetslede in die RNE klarigheid bring in terme van binnelandse beleidskwessies soos die Onteieningswet en ook wanvoorstellings oor volksmoord, vervolging van Afrikaners en konfiskering van grond van wit boere. Dit is die verantwoordelikheid van alle kabinetslede, veral diegene vanuit opposisie-geledere soos die IVP, DA, VF-plus en PA, om Suid-Afrika se belange voorop te stel. Hul aksies moet toekomsgerig wees en die fokus moet wees op die versterking van ‘n koalisie van polities gematigdes en pragmatiste om die land vorentoe te vat.

Onderlinge bakleiery oor beuselagtighede tussen RNE-vennote bied net skietgoed aan radikale elemente wat Suid-Afrika se belange ondergeskik stel aan hul uiters ekonomies onwerkbare en verdelende agendas. Dit rysmier die fondament waarop ‘n sterk en verenigde politieke front van gematigdes en pragmatiste gebou moet word om die vele uitdagings wat ons in die gesig staar, op te los.

Die Stigting wens die RNE verteenwoordigers onder leiding van President Ramaphosa alle sterkte toe daar in Washington. Die meerderheid mense van Suid-Afrika het hul vertroue in die RNE geplaas. Moet ons nie teleurstel nie!