Dit bevestig en gee uitvoering aan die grondwetlike waardes van menswaardigheid, behaling van gelykheid, bevordering van menseregte en vryhede, nie-rassigheid en nie-seksisme, en word beskerm deur die oppergesag van die Grondwet en die Reg. Hierdie grondwetlike waardes is onderling afhanklik van mekaar, onverdeelbaar en die versuim om een reg te beskerm of om dit te verwesenlik raak gevolglik die verwesenliking van die ander. In meeste gevalle word die reg op menswaardigheid byna altyd geraak.
Kragtens artikel 7(2) van die Grondwet moet die staat die regte in die Handves van Regte respekteer, beskerm, bevorder en verwesenlik. Gevolglik en kragtens artikel 8 van die Grondwet word die wetgewer, die uitvoerende gesag, die regbank en alle staatsorgane gebind deur die Handves van Regte. In beginsel word natuurlike en regspersone ook gebind deur die Handves van Regte, wat verseker dat die Handves van Regte nie net vertikaal tussen die staat en die mense van toepassing is nie, maar ook tussen mense as groepe en individue. Die toenemende versuim in Suid-Afrika om al hierdie grondwetlike waardes – veral dié van verantwoordbaarheid, responsiewe ingesteldheid en openheid, maar ook nie-rassigheid en nie-seksisme – ten volle te waardeer en na te kom, het ‘n direkte uitwerking op die verwesenliking van menseregte en vryhede.
Desnieteenstaande geniet die mense van Suid-Afrika gemiddeld op een of ander manier die meeste van die fundamentele regte wat in die Handves van Regte vervat word. Dit sluit in ‘n redelik wye reeks politieke en burgerlike regte, alhoewel dieselfde nie gesê kan word oor die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte nie.
Ongelykheid in sy verskeie vorme, met inbegrip van volgehoue armoede, werkloosheid, toegang tot basiese onderwys, gesondheidsdienste, water- en sanitasiedienste, is steeds ‘n uitdaging. Gevolglik, alhoewel meer gemeenskappe as ooit tevore toegang het tot behuising, elektrisiteit en water, is die onvermoë om hierdie dienste op volhoubare wyse aan alle mense te lewer – veral op plaaslike regeringsvlak – steeds die hoofoorsaak van voortgesette diensleweringsbetogings regoor die land. Die gehalte van basiese onderwys wat in die meeste Suid-Afrikaanse skole aangebied word, is ook steeds laag.
Die gebrek aan ‘n verantwoordbare, responsiewe en deursigtige regering is oor die algemeen groot rede tot kommer. Die uitwerking op openbare administrasie en dienslewering (of dit nou weens ongrondwetlike optrede, korrupsie, verkwistende uitgawes of onbevoegdheid is) is steeds een van die grootste bedreigings vir menseregte en vryhede – veral wat die verwesenliking van sosio-ekonomiese regte betref. Gelukkig skrap onafhanklike howe gereeld ongrondwetlike wetgewing en optrede deur die uitvoerende gesag.
Sommige instellings wat gestig is om grondwetlike demokrasie te steun – veral die Openbare Beskermer en tot ‘n mate die Menseregtekommissie – speel ‘n belangrike rol om menseregte te bevorder en om ongrondwetlike optrede regoor die spektrum te identifiseer. Laasgenoemde instellings word ongelukkig dikwels in die openbaar gekritiseer en deur die uitvoerende gesag en die Parlement afgekraak, wat die integriteit van hierdie grondwetlike instellings ernstig ondermyn. Die Parlement het tot ‘n groot mate nie sy grondwetlike rol vervul om die nasionale uitvoerende gesag verantwoordelik te hou vir sy doen en late nie. In plaas daarvan om sy behoorlike toesighoudende rol uit te voer, blyk dit dikwels of die Parlement voornemens is om die nasionale uitvoerende gesag te beskerm teen kritiek en om debat oor aangeleenthede wat vir die kiesers belangrik is, te smoor. Die media is gelukkig nog redelik vry en objektief, en die burgerlike samelewing is steeds luidrugtig en betrokke by die bevordering van grondwetlike waardes en menseregte.
Misdaad en geweld is steeds kommerwekkend hoog (die moordkoers het vir ‘n tweede opeenvolgende jaar toegeneem tot meer as vyf keer die internasionale gemiddeld van ses moorde per 100 000 in 2013) terwyl die SA Polisiediens (SAPD) steeds in sommige gevalle blyk om ‘n oënskynlike gebrek aan respek vir menseregte en ‘n kultuur van menseregte onder sy lede te toon. Laasgenoemde het ‘n direkte en negatiewe uitwerking op verskeie regte in die Handves van Regte. Die verwesenliking van verskeie fundamentele regte in die Handves van Regte hang nie net daarvan af dat die SAPD as ‘n professionele en doeltreffende diens funksioneer nie, maar ook daarop dat dit funksioneer binne die grense van die Grondwet en sy Handves van Regte.
Daarbenewens is die behandeling van trekarbeiders, vlugtelinge en asielsoekers deur staatsamptenare en Suid-Afrikaners toenemende rede tot kommer. Hierdie behandeling wissel van gevalle waar buitelanders gesondheidsorg geweier word, tot blatante gewelddadige xenofobiese aanvalle op buitelanders en hul eiendom. In hierdie verband blyk die regering ongewillig te wees of nie in staat te wees om hierdie skendings teen buitelanders as xenofobie te identifiseer of om hierdie misdade suksesvol te voorkom of te vervolg.
Daar is ernstige rede tot kommer dat die reg op gelykheid voor die reg ondermyn word deur onbehoorlike inmenging deur die uitvoerende gesag in die aktiwiteite en bestuur van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (DPMO) in die SAPD.
Grondhervorming en eiendomsregte genereer steeds politieke retoriek met teenstrydige boodskappe deur die regering, wat onsekerheid skep oor die toekoms van eiendomsregte in Suid-Afrika. Grondhervorming is ‘n grondwetlike imperatief, maar voorgestelde wetgewing wat op grondhervorming betrekking het is steeds problematies. Daarbenewens is grondhersteleise weer oopgestel – ten spyte van ‘n agterstand van eise wat tot 1998 terug dateer, en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se jaarlikse begroting wat nie voldoende is om vir die nuwe grondeise voorsiening te maak nie. ‘n Veldtog deur die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) om onwettige grondbesetting te bevorder en te steun is ook groot rede tot kommer.
Ongelukkig is diskriminasie op grond van ras en hernude rassistiese optrede steeds ‘n groot verdelende faktor in Suid-Afrika en speel ‘n bepalende rol om toegang tot indiensneming te verkry, asook om maatskaplike, onderwys- en ekonomiese regte te geniet. Alhoewel die Grondwet maatreëls vereis om die behaling van gelykheid te bevorder, slaan sodanige maatreëls dikwels nie ag op die verbod op onregverdige diskriminasie nie en bevoordeel dit slegs ‘n klein gedeelte van die voorheen benadeelde bevolking. Die reg op gelykheid van die grootste meerderheid van die bevolking is ernstig ondermyn deur die gebrek aan toegang tot gehalte onderwys en indiensneming.
Regeringsbeleide (met inbegrip van die idee van numeriese nasionale demografiese verteenwoordiging regoor alle sfere van die samelewing) word in toenemende mate op ras gebaseer. Die toon van die nasionale en politieke diskoers is ook besig om meer ontstellend en rasgebaseerd en onverdraagsaam van aard te word. Dít is ook duidelik uit verskeie voorvalle van rassisme wat deur individue gepleeg word.
Adv Johan Kruger: Direkteur, Sentrum vir Grondwetlike Regte