Mnr Dave Steward
Voorsitter, FW de Klerk Stigting Raad
David Whitefoord Steward is op 23 Mei 1945 in Nairobi, Kenia, gebore. Hy is opgelei in Kanada, St John’s School, Leatherhead in die Verenigde Koninkryk en aan die universiteit van Stellenbosch in Suid-Afrika. Steward tree in Desember 1966 in die Suid-Afrikaanse Buitelandse Diens op en dien in Canberra (1968 – 1971): Ottawa as adjunkhoof van sending (1976 – 1978) en by die Verenigde Nasies in New York, adjunk-permanente verteenwoordiger (1978 – 1980) en Ambassadeur (1981-82). Tussen 1983 en 1985 was hy verantwoordelik vir onderhandelinge oor die onafhanklikheid van Namibië binne die Departement van Buitelandse Sake.
Steward was van 1985 tot 1992 hoof van die Suid-Afrikaanse Kommunikasiediens. Hy was gedurende hierdie periode verantwoordelik vir die herposisionering van die SA Kommunikasiediens as ‘n verskaffer van sentrale kommunikasiedienste aan die regering en om die organisasie te laat omskakel volgens sakebeginsels. In Augustus 1992 word hy aangestel as hoof regeringswoordvoerder in die kantoor van die President. Kort daarna, in November 1992, word hy aangestel as direkteur-generaal (stafhoof) in die kantoor van President FW de Klerk. Hy was in hierdie hoedanigheid en as sekretaris van die kabinet tot Mei 1994. Vanaf Mei 1994 tot Oktober 1996 was hy hoof van die kantoor van mnr De Klerk, terwyl die voormalige President as uitvoerende adjunkpresident in die regering van nasionale eenheid gedien het.
Steward het in Oktober 1996 uit die staatsdiens uitgetree en sy eie konsultasie gestig wat spesialiseer in openbare kommunikasie, in watter hoedanigheid hy opdragte vir ‘n aantal kliënte uitgevoer het, waaronder die regering van die Provinsie Wes-Kaap. Sedert sy uittrede uit die staatsdiens het Steward voortgegaan om nou saam te werk met die voormalige President FW de Klerk. Hy was sedert 1990 sy toespraakskrywer en is mede-outeur van sy outobiografie “The Last Trek, a New Beginning” (Macmillan, 1999). Hy en die voormalige President het die FW de Klerk Stigting in Junie 1999 gestig en die Sentrum vir Grondwetlike Regte in 2006. Hy was tot 2016 die uitvoerende direkteur van die stigting. Hy is tans Voorsitter van die Raad van die FW de Klerk Stigting.
Adv Jacques du Preez
Uitvoerende Hoof, FW de Klerk Stigting
Adv Du Preez het matrikuleer aan die Hoërskool Centurion en het ‘n LLB-graad aan die Universiteit van Pretoria en ‘n magistergraad (LLM) in Publiekreg aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. As deel van sy nagraadse studie voltooi hy internasionale strafregtelike opleiding aan die United Nations International Criminal Tribunal for Rwanda (ICTR) in Arusha, Tanzanië.
Hy het as advokaat en lid van die Kaapse balie praktiseer vanaf Junie 2007 tot Mei 2011 – toe hy by die Stigting se Sentrum vir Grondwetlike Regte aangesluit het as operasionele beampte. Gedurende die volgende drie jaar het hy ‘n waardevolle bydrae gelewer tot die aktiwiteite van die SGR – veral op die gebied van monitering, verslaggewing en voorspraak oor menseregte en in die voorbereiding van voorleggings aan die Parlement en menseregte-organe oor konsepwetgewing en menseregteskendings.
Hy hervat sy praktyk as advokaat van die Hoë Hof tussen Junie 2014 en Mei 2018 – waarna hy ‘n aanstelling in Switserland aanvaar het as direkteur vir regsopleiding by International Bridges to Justice – ‘n internasionale NRO in Genève. In hierdie hoedanigheid het hy vaardigheidsopleidingsinisiatiewe betreffende internasionale strafreg, regstaat-, verhoorbevordering- en menseregte en werksessies oor konflik- en post-konflik-lande gelei en fasiliteer. Jacques het saam met verskillende belanghebbendes in die regsektor justisie-amptenare opgelei in Rwanda, Sri Lanka, Hongkong, Sirië en die Filippyne.
Jacques is ‘n voormalige mentor by die Mandela Washington Fellowship for Young African Leaders, ‘n lid van die Association of Defense Counsel wat praktiseer voor die International Criminal Tribunals in Den Haag, ‘n geaffilieerde kenner van die International Nuremberg Principles Academy (Neurenberg) sowel as ‘n regsadviseur op die rooster van die Kantoor van die Verenigde Nasies se Ombudspersoon vir die ISIL (Da’esh) en Al’Qaida-sanksieskomitee.
Jacques het Suid-Afrika ook internasionaal in Engeland en Frankryk (Union Internationale de Pentathlon Moderne) in Tweekamp verteenwoordig.
[block border=”1px dashed #dedede”]
Indien jy ’n woordvoerder van die FW de Klerk Stigting wil nooi om by jou geleentheid te praat, vul asb ons ‘versoek ’n spreker’-vorm in.
[/block]